Baas van die plaas
Wanneer alles mooi saamspeel en jy sien 'n wenfoto, moet jy gereed staan met jou kamera. Dit is presies wat Juanita Loubser van die Paarl gedoen het.
"Ek het dié berghaan by die Rooibrak-watergat in die Kgalagadi-oorgrenspark afgeneem. Dit was laatmiddag en hy het in die son gesit en bak. Ek het aan die passasierskant gesit terwyl my man, Nico, stadig om die water nader aan die voël gery het. Soos ons nader gekom het, het ek die foto deur my man se oop ruit geneem. My kamera se verstelling was op outomaties - vir my is dit die beste wanneer ons aan die beweeg is."
Hierdie berghaan lyk omtrent of hy sit en wag vir die foto, maar Juanita kon die oomblik nie beter vasvang nie. Die geheim lê in hoe sy die statiese agtergrond gebruik om die fokus op die voël te vestig.
Op die spesifieke outomatiese verstelling gee die kamera voorkeur aan die sluiterspoed. Dit beteken dan noodwendig 'n groter lensopening (in dié geval f5,6) wat op sy beurt 'n vlak fokusdiepte lewer.
Die fokus op die windpomp is dus sag - dit kry omtrent 'n skilderygevoel. Die berghaan is op sy beurt skerp in fokus en staan dus mooi uit teen die windpomp. Die fokusdiepte is in der waarheid só kort dat die voël se skouervere en die boonste punt van die stomp die skerpste vertoon. Hierdie verskillende fokusvlakke verleen aan die foto 'n spontane diepte.
Die komposisie speel 'n ewe belangrike rol. Al is die voël in die middel op die horisontale lyn, is dit op die derdelyn van die vertikale as. Verder loop die stomp waarop die voël sit, uit die regterkantse hoek van die foto, wat op sigself balanseer met die windpomp in die agtergrond.
Dit lyk ook of die sonstrale oor Juanita se regterskouer kom, en vir beter ligomstandighede kon sy nie vra nie. Die lae son veroorsaak warmer kleure - die oranje op die geroeste dele van die windpomp en die rugvere van die voël lyk omtrent eenders.
As 'n mens oor iets móét kla, is dit die stertvere wat aan die raampie raak, maar dit doen hoegenaamd geen afbreuk aan 'n puik foto nie.
Eensaam en alleen

'n Besoek aan Etosha behels meer as net diere en panne - kyk maar na die foto wat Pierre Gouws van Rooihuiskraal in Centurion geneem het.
"Hierdie boom staan naby Salvadora op die rand van die Etoshapan. Ek het die foto laatoggend geneem nadat dit die vorige nag gereën het. Dit was nog bewolk. Die grootsheid in die verlate omgewing met die boom en poel langs mekaar het my oorweldig."
Die boom in die dorre landskap staan omtrent uit. Soos Pierre verduidelik, was dit bewolk, wat meer egalige lig tot gevolg het. Dit is 'n pragtige toneel om af te neem - al speel die lig nie heeltemal saam nie. (Die toneel sal byvoorbeeld nuwe lewe kry as jy vroegoggend hier verbyry met die blou hemel daarby.)
Die toneel is dus effens passief, maar as jy nie omgee om aan jou foto te verstel nie, kan 'n mens dit omskep om meer van 'n kunswerk te word. Geen van die kleur in die oorspronklike foto dra noemenswaardig by tot 'n beter foto nie. Maar tog het die foto sterk grafiese elemente: die boom self, die horisonlyn asook die diagonale lyn van die pad se rand wat skuins onder die boom verbyloop.
Deur die foto na swart-en-wit om te skakel versterk 'n mens dié elemente, en as jy die bokant van die foto effens donker maak, sien jy ook meer detail in die lug.
Laastens kan 'n mens die oorbodige voorgrond afsny... en jy sit met 'n foto wat jy kan raam vir 'n plekkie teen die muur.
En daardie vertakking?

Terwyl hulle twee weke lank deur Botswana getoer het, het Michiel van Tonder van Durbanville seker gemaak hy neem foto's vir die familiealbum.
"Ek het dié foto geneem op die Choberivier. Die voël was mooi voor die helder deel van die son soos hy oor die horison weggesak het."
Deur die voël in die helderste deel van die foto te plaas maak Michiel seker 'n mens wonder vir geen oomblik oor die fokuspunt nie. Die takke onder die voël lyk half gekoek en deurmekaar, en dié patroon word herhaal in die vere van die voël (wat lyk of dit 'n slanghalsvoël kan wees). Dit lyk amper of die ou deur 'n wasmasjien is. Hy sit natuurlik sy vere in die laaste sonstrale en droogbak.
Omdat al die detail in die donker dele neig na swart, vorm die takke 'n silhoeët wat die voël se buitelyne deel daarvan maak. Maar danksy die voël se plasing op die helderste deel van die foto kan 'n mens sy buitelyne maklik eien.
Laastens rond die plat raam die foto netjies af met die boom heel regs in die raampie - dit vorm die wig van die foto se komposisie.
Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier
Ons soek nie die tradisionele "kompetisiewenners" nie; net doodgewone foto's wat vir jou mooi is. Van 'n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met 'n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.
Juanita Loubser wen 'n Weg Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto - veels geluk!
Stuur jou foto's na leon.botha@media24.com















