Nasionale braaidag is om die draai en ons wil nie hê jy moet sukkel met droë gras, fyn houtjies of koerantpapier om jou vuur aan die gang te kry nie. Waarom sal jy die wêreld vir jouself moeilik maak as daar deesdae 'n hele kruiwavrag vol vuuraanstekers is om van te kies?

Die vuurtoets:
Ons het 'n draai gemaak by 'n paar kettingwinkels, kampwinkels en vulstasies om soveel as moontlik verskillende vuuraanstekers te koop. Daarna het ons een blokkie, sakkie of stokkie van elkeen geneem en dit aan die brand gesteek. Party vervaardigers stel voor jy gebruik twee of drie van hulle aanstekers, maar vir dié toets het ons net een van elk gebruik. Vuur brand nie oral dieselfde nie, en brandtye teen die kus en op Kilimandjaro sal noodwendig verskil. Ons het op 18 m bo seespieël - met 'n humiditeitsfaktor van 56% - 23 keer 'n vuurhoutjie getrek om te sien hoe vaar die verskillende vuuraanstekers.


LION STRIKERS-VUURAANSTEKERS (20 stokkies)
Vuurpeleton
Brandtyd: 4:18 minute
Die aanstekers is in twee rye van 10 aan mekaar vas en lyk soos soldaatjies wat skouer aan skouer staan. Dit word gemaak van sagte saamgeperste houtvesels en elkeen van die stokkies het 'n swaelkop - net soos 'n vuurhoutjie. Dit pas in 'n kartonboksie maar is nie in 'n plastieksakkie binne-in verpak nie, omdat dit nie soos ander vuuraanstekers kan uitdroog nie. Breek een stokkie af van die res en steek dit soos 'n vuurhoutjie teen die kant van die boksie aan die brand. Wag dan tot die vlam ordentlik vat voor jy dit teen die hout neersit.
Prys: R10 by Checkers Hyper.
WegSleep sê: Dié "vuurhoutjies" breek maklik van die res af.


BRI-LITE-VUURAANSTEKERS (12 aanstekers)
Sakkie van Vuuren is die naam
Brandtyd: 9:52
Die 12 aanstekers is saam in 'n plastiekpak waarvan jy die bokant moet oopskeur, maar jy kan die pak weer verseël om dit dig te hou - amper soos daai plastieksakkies waarin jy tjops vries. Die aanstekers self kom ook elk in 'n eie pakkie. Jy hoef dus nie te sukkel om die regte grootte af te breek nie. Skeur net die pakkie oop en steek die hoek van die aansteker aan die brand.
Prys: R65 by Outdoor Warehouse.
WegSleep sê: Hulle brand 35 sowat sekondes langer as die gemiddelde tyd van al die vuuraanstekers wat ons getoets het.


BIC-VUURAANSTEKERS MET ZAP-TEGNOLOGIE (16 aanstekers)
Fliek daai Bic!
Brandtyd: 7:52
Dié aanstekers is in 'n boksie verpak waarvan jy 'n smal strokie naby die deksel wegskeur sodat dit kan oopvou. Elkeen van die vierkantige aanstekers is in sy eie sakkie en jy moet 2-3 van hulle eweredig uitmekaar tussen die hout pak voor jy die vuurhoutjies nader trek. Steek die aansteker op die hoek van die pakkie aan die brand en pak dan nog hout by. Wanneer die kole 'n laag as oor het en eweredig gloei - sowat 20 minute volgens Bic - is die "vuur" gereed.
Prys: R29 by Builders Warehouse.
WegSleep sê: Jou hande bly skoon want jy hoef nie die pakkie self oop te skeur nie.


WOOLWORTHS FOOD 3-VUURAANSTEKERS (3 aanstekers)
Voorperd
Brandtyd: 17:35
Die drie blokke, wat saam in 'n groter boksie verpak word, is elkeen omtrent so groot soos twee vuurhoutjieboksies en elkeen in sy eie sakkie. Maar jy kan ook elkeen van die blokke verder in drie breek. Steek die aanstekers met sakkie en al aan die brand as jy nie aan die oop blok wil vat nie; die sakkie brand maklik.
Prys: R13 by Woolworths.
WegSleep sê: Uit al die vuuraanstekers wat ons getoets het, het dié een die langste gebrand - bykans dubbel so lank as die gemiddelde tyd.


LIVING OUT-VUURAANSTEKERS (4 aanstekers)
Dubbeldoor
Brandtyd: 11:55
Elkeen van die vier aanstekers is in sy eie foeliepakkie wat omtrent so groot is soos twee vuurhoutjieboksies. Dis ook maar goed so, want jy moet die buitenste sellofaanverpakking versigtig oopskeur as jy die aanstekers bymekaar wil hou, want hulle kom nie in 'n boksie soos ander vuuraanstekers nie.
Prys: R10 by Builders Warehouse.
WegSleep sê: Elkeen van die blokkies is groot genoeg om in twee te breek as jy spaarsaam wil werk.


LITETREK QUICKFIRE-VUURAANSTEKERSAKKIES (50 sakkies)
Sakkie Brand
Brandtyd: 3:26 minute
Die sakkies, elkeen met 'n wit stof binne-in wat lyk soos 'n gestolde vloeistof, is in 'n netjiese ronde kartonhouer met 'n plastiekdeksel verpak. Gebruik 2-3 sakkies en steek die onderste hoek van elke sakkie aan die brand. Moenie die geseëlde sakkie oopmaak of sny nie; dit veroorsaak volgens die vervaardiger dan geen paraffienreuke op jou hande of klere nie, en het ook geen skadelike gasse nie. Die sakkie kan brand, al is dit nat, en jy kan dit vir jare bêre.
Prys: R60 by Builders Warehouse.
WegSleep sê: Dis 'n netjiese patent, maar die sakkies brand nie lank nie. Trouens, hulle het die vinnigste uitgebrand.


LIGHTERBALLS (6 bolle)
Tydbom
Brandtyd: 12:59
Die sfeervorminge aanstekers lyk amper soos daai gekleurde rookbommetjies wat 'n mens as kind gekry het. Die bolletjies is in 'n boksie verpak, maar sonder 'n plastieksakkie wat dit binne seël. Jy kan darem die boksie weer toemaak nadat jy dit gebruik het. Hou die bol skuins sodat jy die pit kan aansteek en sit dit dan op die vuurmaakplek - gebruik een bol op 'n slag.
Prys: R14 by Builders Warehouse.
WegSleep sê: Ná rondom 8 minute begin die bol verbrokkel.


FIRESIDE- HERBRUIKBARE VUURAANSTEKERS (2 stene)
Sonder einde
Brandtyd: 4:02
Dié twee stene lyk 'n bietjie soos gesnyde beskuit. Hulle is poreus en 'n mens bêre hulle in klein buisie vol paraffien. Daar is 'n kabeltjie met 'n lus onderdeur die stene geryg en jy hoef net die punt aan die bokant van die buis te trek om die stene uit te kry. Die paraffiendeurdrenkte steen steek maklik aan die brand en maak 'n ekstragroot vlam van omtrent 40 cm hoog. Wanneer dit afgekoel het, kan jy dit weer in die buis terugsit - ná 5 minute in die paraffien is dit weer reg vir gebruik. Vul die paraffien aan as die steen nie heeltemal in die buis gedompel is nie. Die aantsteker sal 'n leeftyd kan hou.
Prys: R85 by Outdoor Warehouse.
WegSleep sê: Werk net versigtig met die buisie, want as hy breek of kraak, gaan jou kampgoed vol paraffien wees en jy gaan sonder vuuraanstekers sit.

Kies jou blok
Wanneer 'n mens van vuuraanstekers praat, dink jy dadelik aan die boksie met die wit goed wat soos polistireen lyk. Die 14 wat ons in die hande kon kry, is almal bykans dieselfde grootte - 18 x 3 x 3 cm. Dis hoe hulle vaar...


BRI-LITE-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Sesstuk
Brandtyd: 10:14
Gewig: 340 g (R3,23/100 g)
Die blok bestaan uit ses stukke - langwerpige blokke - wat netjies oor die breedte afbreek. As die pakkie eers oop is, is hy oop, want die blok is in 'n sellofaanverpakking verseël wat jy moet oopknip nadat jy die buitenste boksie oopgeskeur het.
Prys: R11 by KwikSpar.


NAMCHAR-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Hy kom van ver af
Brandtyd: 9:55
Gewig: 329 g (R5,47/100 g)
Hierdie een kom van dieselfde ouens wat die houtskool van Namibiese hardekool verkoop. (Al is die fabriek deesdae in Durbanville.) Die blok is in twaalf verdeel en die stukke breek maklik - sny die pakkie oop en die boksie skeur oop. Jy kry ook 'n weergawe met ses stukke in 'n pakkie.
Prys: R18 by Caltex.


PNP-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Styf-om-die-lyf
Brandtyd: 8:51
Gewig: 318 g (R4,08/100 g)
Die blok is ook in twaalf verdeel, maar breek nie netjies op die lyne nie - selfs al probeer jy 'n stuk met 'n mes afsny, verbrokkel dit. Die blok self pas styf in die sakkie, wat dit moeilik maak om oop te kry. Die boksie het 'n voukant sodat jy die blok weer daarin kan bêre.
Prys: R13 by Pick n Pay.


LION-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Leeuplesier
Brandtyd: 11:02
Gewig: 336 g (R4,76/100 g)
Die blokkies breek maklik en skoon af en die boksie het 'n voukant met 'n ekstra klappie in die middel om dit toe te hou nadat jy dit die eerste keer oopgemaak het. Die sakkie waarin die aanstekers pas, het ook 'n herbruikbare seël - die enigste van die blokaanstekers met dié blink plan.
Prys: R16 by Checkers Hyper.


CHECKERS HOUSEBRAND-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Wat steek in 'n naam?
Brandtyd: 10:07
Gewig: 330 g (R3,94/100 g)
Hierdie is so standaard as wat jy kry: Skeur die boksie oop, sny die pakkie oop en breek vir jou een van die twaalf blokkies af. Daar gaat jou vuur.
Prys: R13 by Checkers Hyper.


SPAR-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Vars kant
Brandtyd: 9:56
Gewig: 331 g (R4,53/100 g)
Die manier waarop dit verpak is, is soortgelyk aan Checkers s'n en die blokkies breek maklik los. Die vervaardiger stel voor jy steek die kant wat jy laaste afgebreek het aan die brand. Dit maak nogal sin, want dit gaan die varsste of vlambaarste wees.
Prys: R15 by KwikSpar.


LK'S-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Tawwe Tienie
Brandtyd: 9:07
Gewig: 269 g (R6,69/100 g)
Per gewig is dit die duurste blokaansteker. Die blok is in harde plastiek geseël, die boksie skeur oop, en die blokke breek moeilik los. Dit is gelerig van kleur, terwyl die ander blokaanstekers wit vertoon.
Prys: R18 by Outdoor Warehouse.


BIC-VUURAANSTEKERS (24 stukke)
Twee dosyn, dankie!
Brandtyd: 9:11
Gewig: 301 g (R4,98/100 g)
Die blok bestaan uit 24 kleiner blokkies, en die boksie is goed verseël. Jy moet dit oopskeur én daar is harde plastiek rondom die blok.
Prys: R15 by Pick n Pay.


RITEBRAND-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Dis nou 'n winskoop!
Brandtyd: 10:27
Gewig: 338 g (R2,93/100 g)
Per gewig is dit die goedkoopste blokaansteker en hy brand ook langer as die meeste ander aanstekers. Die boksie skeur maklik oop en die blokkies breek ook maklik los.
Prys: R10 by Shoprite.


CHARKA-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Langsaam
Brandtyd: 11:15
Gewig: 287 g (R6,27/100 g)
Die sakkie om die blok is ekstrahard, die blokkies breek maklik en die kant waar jy die boksie oopmaak, is liggies vasgeplak. Van al die blokaanstekers het hierdie een die langste gebrand.
Prys: R18 by Game.


SAFARI-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Gee poeier!
Brandtyd: 8:47
Gewig: 268 g (R6,34/100 g)
Die boksie het 'n voukant met 'n ekstra flappie in die middel om dit oop en toe te maak. Die sakkie waarin die blok pas is ekstragroot en die blok breek maklik en netjies, maar aan die buitekant is dit melerig.
Prys: R17 by Game.


ETOSHA-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Skaam-skaam
Brandtyd: 7:15
Gewig: 226 g (R6,63/100 g)
Die boksie se deksel het 'n voukant en die blok self is effens bros, maar dit breek wel netjies. Die bloksakkie is van foelie wat jy oopsny. Die aanstekers wat ons getoets het, was egter gou sonder fut.
Prys: R15 by KwikSpar.


BLITZ-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Soos altyd Blitzvinnig
Brandtyd: 9:42
Gewig: 392 g (R5,86/100 g)
Dis die bekendste van die handelsmerke; trouens, Blitz het al so te sê 'n versamelnaam geword vir enige vuuraansteker. Die pakkie skeur oop en die blokke breek effe bros en oneweredig af.
Prys: R23 by BP se Pick n Pay Express.


WOOLWORTHS-VUURAANSTEKERS (12 stukke)
Stuk-stuk so
Brandtyd:10:30
Gewig: 335 g (R4,46/100 g)
Die boksie skeur oop en die blok was die enigste wat reeds in stukke gebreek was voor ons dit oopgemaak het. Die stukke breek andersins maklik los.
Prys: R15 by Woolworths.















