Buitelewe

VIDEO: Ons toets tuisgemaakte vuuraanstekers

Daai video is al meer as een keer op Facebook gedeel: Een of ander slimjan gebruik gewone huishoudelike items om iets aanmekaar te slaan wat jy gewoonlik in die winkel moet koop.

Terwyl jy na die video kyk, wonder jy of dié plan gaan werk... Ons was moeg gewonder en het besluit om van die internet se vuuraanstekerplanne op die proef te stel.

Ons het fynhoutjies vir die toets gebruik, en as dié ordentlik gebrand het, het die aansteker die toets geslaag. As jy egter daai klomp lywige stompe aan die brand wil kry wat jy by Jeffreys se vulstasie gekoop het, gaan jou geduld beproef word.

Foto's: Dominic Wienand en Leon Botha. Video: Zigi Ekron.

VUURBOLLE

Drie dinge wat jy ieder geval in die huis het - veral as jy 'n baba het - word in 'n bol saamgerol vir 'n indrukwekkende vuuraansteker.

Jy benodig

  • chirurgiese spiritus ('n botteltjie van 100 ml kos R16)
  • eiergrootte wattebolle ('n pak cotton balls kos R13)
  • petroleumjellie ('n houer van 450 ml kos R50)

Só maak jy

Week die wattebol in die spiritus en druk die oortollige vloeistof uit. Bedek die bol met petroleumjellie en bêre dit knus langs mekaar in 'n houer wat deeglik kan toemaak.

Werk dit?

Ja. Ons het twee op 'n slag gebruik en dadelik sukses behaal. Dis egter belangrik om daarop te let dat jy die vuurbol met jou braaitang uit die houer moet haal wanneer dit tyd is om die vuur aan te steek.

Moenie dit met jou kaal hande hanteer nie. (Of was minstens jou hande nadat jy dit uitgehaal het - jy wil nie van die petroleumjellie op jou vingers hê en dit ook aan die brand steek nie.) Die vuurbolle vat blitsig vlam en brand ordentlik. Die fynhoutjies het binne twee minute gebrand.

Weg Ry & Sleep sê Gebruik 'n aansteker met 'n lang nek of trek 'n vuurhoutjie en gooi hom op die bol.

KOOKEIER

Jy kan jou leë eierkartonne slim herwin met dié selfgemaakte vuuraanstekers. Moet ook nie meer daai laaste stukkie kers onder in die blaker weggooi ná julle Valentynsete nie.

Jy benodig

  • ou stukkies kers of enige ander soort was ('n pak wit kerse kos R17)
  • kartoneierhouers
  • watte (jy kan die klaargerolde bolle koop óf gewone watte in bolle rol)
  • 'n skêr of skerp mes.

Só maak jy

1 Smelt die kerse of was tot 'n vloeistofvorm - ons het dit sommer in 'n leë baked beansblikkie op 'n gasstoof gedoen.

2 Rol die watte in bolletjies en sit een in elke afsonderlike eierholte. Vul die eierholtes met gesmelte was tot die watte heeltemal bedek is. Wag tot die was droog is en sny dit in afsonderlike vuuraanstekers.

3 Steek die hoekie van die karton aan wanneer jy reg is om te braai.

Werk dit?

Dit werk! Die wind het wel effens gepla terwyl ons die toets gedoen het, en die karton het nogal aanmoediging nodig gehad om vlam te vat.

Maar toe hy eers brand, het die vuuraansteker sy werk behoorlik gedoen en die fynhoutjies het in 'n japtrap gebrand. Ons het net een op 'n slag gebruik en die eierkarton het die toets met vlieënde vaandels geslaag.

Weg Ry & Sleep sê Jy kan ook die dons (lint) uit jou tuimeldroër gebruik.

VURIGE VUURHOUTJIE

Omskep 'n gewone vuurhoutjie met 'n stukkie witgoud en kerswas in 'n doeltreffende vuuraansteker.

Jy benodig

  • vuurhoutjies (R7 vir 'n groot pak)
  • toiletpapier (dit hoef nie dubbellaag te wees nie - hou dié vir jouself )
  • gesmelte kerswas

Só maak jy

1 Vat 'n blokkie toiletpapier en sny dit middeldeur.

2 Rol die papier om een vuurhoutjie.

3 Doop dit in die gesmelte kerswas en laat dit droog word.

Werk dit?

Verbasend goed. Jy moet net onthou om die kerswas van die vuurhoutjie se kop af te krap vóór jy hom trek. Hou die vuurhoutjie onderstebo tot die kerswas vlam vat (dit gebeur amper onmiddellik) en sit dit onder jou fynhoutjies.

Ons het twee vuurhoutjies per aansteker gebruik en vier van dié outjies gebruik om die fynhoutjies aan die brand te steek. Beter en vinniger kon dit nie werk nie. Trouens, ná twee minute se brand was daar nog meer as die helfte van die aansteker oor.

Weg Ry & Sleep sê Hierdie een het ons werklik verbaas met hoe goed hy brand. Om die waarheid te sê werk hy vir ons beter as van die groot vervaardigers se produkte wat op dieselfde beginsel werk.

TEETYD...

Niemand maak beter vuur as jy en 'n gebruikte teesakkie nie.

Jy benodig

  • gebruikte teesakkies (rooibos, groentee, Engelse tee... dit maak nie saak nie)
  • paraffien (dit kos R30 vir 'n 750 mlbottel)
  • 'n lugdigte houer ('n ou mayonnaisebottel,
  • roomysbak of iets dergeliks)

Só maak jy

1 Sit jou gebruikte teesakkies eenkant om uit te droog. Wanneer die sakkies heeltemal droog is, week hulle in die paraffien.

2 Bêre hulle saam met 'n bietjie paraffien in 'n lugdigte houer sodat hulle nie uitdroog nie, en pak twee of drie onder jou hout wanneer dit tyd is om jou Bosveld-TV aan te skakel.

Werk dit?

Inderdaad. Jy moet meer as een gebruik, maar hy brand maklik genoeg en hou sy vlam vir 'n goeie 4 minute... meer as genoeg tyd om die fynhoutjies aan die gang te kry.

Weg Ry & Sleep sê Moenie skaam wees om baie van hulle te gebruik nie.

Dominic Wienand en Schalk Jonker

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM