Jenine se wenke vir binneversiering
• Laat jou persoonlikheid uitkom in jou binneruimtes - dis immers jóÚ huis. Speel gerus met pret en kleur. Dis maklik om 'n treffende muur te verf, en net so maklik om dit oor te verf.
• As jy nie meer vreugde uit iets put nie, verander dit of voeg iets nuuts by. Trouens, niemand moet enigiets in hul huis hê wat nie vreugde verskaf nie.
• Voeg groenigheid by in tekstuurryke mandjies - dit bring lewe en kalmte in 'n ruimte.
• Plakpapier - hetsy tekstuurryk, bont of klassiek - bring hope pret. Laat waai daarmee; "omhul" 'n hele vertrek in plakpapier en kyk hoe "verdwyn" die hoeke.
• Gee 'n badkamer karakter met 'n spieël in 'n organiese styl en 'n rak daaronder vir 'n geurspreier, handseep en 'n potplant. Om 'n klein ruimte siel te gee, hoef nie jou sak te ruk nie!
• Kyk naweke uit vir unieke meubels waarop jy jou eie stempel kan afdruk vir hergebruik - dís wat 'n ruimte persoonlikheid gee.
• Versamel kuns en mooigoed en gebruik dit in lae op oppervlakke; jy kan uitstallings na hartelus aanpas.
• Indien jy die geleentheid kry om leefruimtes oop te maak en 'n gemeenskaplike spasie te skep, doen dit - jy sal nie spyt wees nie! Ons Suid-Afrikaanse leefstyl is uiters geskik vir gemaklike vloei van die kombuis na die sitkamer, die eetkamer en buitentoe.
















