Huis + tuin

Beeldskoon

’n Leser wil meer weet oor die geskiedenis en waarde van sy drie beeldjies.

Shona Robie van Stephan Welz & Co. antwoord: Die twee beeldjies van die naakte vroue wat balanseertoertjies met goue balle doen, is ongeglasuurde Art Deco-werke deur Hutschenreuther; albei is deur Karl Tutter ontwerp. Die Hutschenreuther-porseleinfabriek is in 1814 in Noord-Beiere, Duitsland gestig deur Carl Magnus Hutschenreuther (1780–1845), wat ervaring opgedoen het deur by die Wallendorf-porseleinfabriek te werk. Ná sy dood het sy vrou, Johanna, en hul seuns die leisels by die fabriek oorgeneem en vanaf 1860 is die porseleinware met die hand geverf en verguld. Die leeu-handelsmerk en die naam Hutschenreuther het sinoniem geword met porseleinware van hoogstaande gehalte, maar sedert 1 Augustus 2000 word dié ware onder die naam Rosenthal vervaardig. Karl Tutter (1883–1969) was een van die bekendste porseleinmodelleerders van die 20ste eeu, en in ’n sekere mate was Hutschenreuther-beeldjies se goeie reputasie aan hom te danke. Dié twee beeldjies sal elk onderskeidelik sowat R1 000 tot R1 500 op ’n veiling haal. Die beeldjie van die sittende vrou is vervaardig deur Gerold Porzellan, een van die minder bekende porseleinvervaardigers in Beiere tussen 1904 en 1997. Die fabrieksmerk dui aan dat dié beeldjie ná 1961 vervaardig is om uitgevoer te word. Dit sal sowat R900 tot R1 200 op ’n veiling haal.

admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM