Huis + tuin

Dié plante is net ’n plesier

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit is baie opwindend om nuwe plante te kies en jy kan 'n hele tuin aanplant met Anna Celliers-gunstelinge wat hier gelys is. Geeneen is neuroties of moeilik om te kweek nie.

Salvia "Mystic Spires" se donkerblou blomme. Daar is salies in elke kleur denkbaar om uit te kies.
Salvia "Mystic Spires" se donkerblou blomme. Daar is salies in elke kleur denkbaar om uit te kies.

Kies uit 'n verskeidenheid moderne hibriede wat vir klein tuintjies ontwikkel is of van nature kompak is om jou nuwe tuin uit te lê. Al hierdie plante groei in volson of oggendson met ligte skadu in die namiddag.

Voor jy laat waai, neem wel kennis van die plant se volwasse grootte - lees dus die beskrywende etiket wat daaraan geheg is. Moenie te dig plant nie en besef daar is krag in herhalende aanplanting.

Blommende meerjariges

Inkalelies: Die uiters gewilde en maklik-om-te-kweek tuin- en snyblomme is nou in dwerggroottes verkrygbaar. Kies uit die reeks AlstroemeriaInticancha in amper elke kleurskakering waaraan jy kan dink.

Salies: Hierdie staatmakers van die somer- en herfstuin hou van son, blom baie lank en oorvloedig, is taai en maklik om te kweek, en bestuiwers is lief vir hulle. Kies Salvia Mystic Spires wat die ideale bye-en-skoenlapper-inry genoem word. Dit is blomryk met digte are donkerblou blomme wat vir die vaas gepluk kan word.

Grondbedekkers

Lysimachia "Goldilocks" (penningkruid): Die unieke lemmetjiegroen, hartvormige blare van hierdie spreidende plant wat maklik wortelskiet, is die perfekte agtergrond om enige ander plant op te helder.

Stachys byzantina (lamsoor): Die silwergrys kleur van die dik, sagte en fluwelige blare is pragtig. Stachys is fiemiesloos en maak gou 'n digte mat op die grond.

Betroubare struike

Abelia "Kaleidoscope": Hierdie dwergabelia maak in die lente nuwe groei met 'n heldergeel randjie met liggroen harte. Somerskakerings is 'n ryk ougoud en donkergroen wat in die herfs na oranje verander, en die winter bring dit 'n vurige rooi kleur.

Escallonia "Pink Elle": Dis kompak en bosagtig met blink, donkergroen blare en 'n massa regop, helderpienk blomkoppe wat tot sagpienk verdof.

Grasieuse grasse

Carex oshimensis "Feather Falls" is die perfekte ornamentele rietgras om in 'n massa te plant en vorm 'n ekstra groot pol buigende en tuimelende, wit-groen-bont blare en maak veeragtige blomstingels van fyn pluime in die lente.

Aristida junciformis: Dié inheemse polgras het 'n ryk groothartige someroes van dofpers pluime.

Taai heiningplante

Chenopodium robertianum (syn. Einadia hastata), bekend as die soutbos. Dis 'n vinnig groeiende, uiters geharde plant met silwergrys loof wat soms na roesbruin verander en het opvallende wit stingels. Kan in enige vorm gesnoei word.

Searsia crenata (duinekraaibessie): Dié inheemse plant met sy vars, groen, leeragtige loof is so taai dat dit op strandsand groei, en is daarvoor bekend dat dit in 'n hoë of lae heining gevorm kan word.

Begeerlike bome

Citrus limon "Eureka" (suur­lemoen): Elke tuin moet 'n suurlemoenboom hê en hierdie een van 'n middelmatige grootte sal jou heeljaar gladdeskilvrugte gee.

Syzygium guineense (waterpeer): Hierdie skraal, regop, immergroen boom met sy effens geurige en gladde lansetvormige blare het 'n baie modieuse klein tuin- of sypaadjieboom geword. Wit blomme in Augustus tot Desember word deur eetbare donkerpers vrugte gevolg.

Die netjiese boom het 'n nie-indringende wortelstelsel.

Gewilde vetplante

Crassula capitella "Campfire" is 'n indrukwekkende vorm wat uit C. Capitella ontwikkel is en in al ons provinsies inheems is.

Dié spreidende plant kan 'n vetplanttapyt van tot 1 m in deursnee maak as dit onbeteueld gelaat word. Dit het skroefvormige blare wat van helderlemmetjiegroen met rooi punte tot vurige oranjerooi verouder hoe kouer of droër dit word.

Echeveria elegans (Mexikaanse sneeubal): Dis 'n geliefde vetplant met duifgrys rosette en 'n spreidende groeiwyse.

Het jy geweet?

Tuinmaaktegnologie ontwikkel net so vinnig as tegnologie op ander gebiede.

  • Plante word deurlopend gehibridiseer vir groter siekte- en hittebestandheid asook blomprestasie. Baie begin hul lewe in 'n steriele weefselkultuurlaboratorium om gesonde plante te verseker wat vry van enige skadelike siekte is.
  • Sistemiese insekdoders beteken skadelike insekte soos sapsuigende plantluise kan nou beheer word deur bloot die grond om die stam daarmee te deurweek. Dit beteken dat voordelige insekte nie deur spuit geskaad word nie.
  • Baie stadig-vrystellende misstowwe het 'n natuurlike basis soos hoendermis of seegras. Gebruik hulle om water te bespaar en wees gerus dat hulle nie plantwortels sal brand nie.
  • Grawe dammetjies om bome en plante om reënwater te versamel en lei dit na die plante pleks van om dit as afloop te verloor.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM