Wit ‘Iceberg'-rose is die topverkoper-rooskultivar en wanneer hulle in volblom is, is jou tuin ekstra bekoorlik. Oktober en April is die beste tyd om die rose te kweek - gedurende die lente lewer hulle blomme in oorvloed, terwyl herfs weer indrukwekkende blomgroottes oplewer.

Die rose bekend as "Icebergs" se weelderige, yswit blomme is nie net mooi om na te kyk nie, hulle dien ook 'n praktiese doel met tuinontwerp. Dit verlig dowwe hoeke, breek harde kleure, as fokuspunt gee dit lewe aan 'n vaal bedding en gee rigting in groot tuine.
Wit help ook klein tuine om groter te lyk en wit blomme beklemtoon loofplante se tekstuur, vorm en kleur.

So versorg jy ‘Icebergs'
"Icebergs" is nie pieperige plante nie. Hulle is gehard en maklik om te versorg - geen wonder dis een van Suid-Afrika se topverkoper-rooskultivars nie. Hul digte loof en sterk takke word deur 'n stewige wortelstelsel ondersteun. Dit maak hulle redelik bestand teen droogte en hitte. Die oorvloed blareskadu bied ook sonbeskerming vir die stamme en wortels.
Soos met alle rose presteer hulle egter die beste wanneer hulle diep en gereeld natgemaak word. Van September tot April kan jy hulle maandeliks voed met 'n rooskunsmis soos Vigorosa. Dit moedig sterk blaargroei en blomproduksie aan.
Hoewel hulle ander plante komplementeer, moet kompetisie vir water en voeding tussen plante beperk word. Hou die ruimte rondom die roosboom se stam skoon en plant veral agapante 'n entjie weg.
Tydens die reënseisoen kan jy swartvlek weghou met 'n swamdoder soos Chronos, wat die boonste laag van die blare binnedring en voorkom dat die swam se spore daar groei. Die rooskultivar is oor die algemeen redelik siektebestand, maar as 'n swartvlek nie behandel word nie, kan die plant al sy blare verloor.

Die snoei van ‘Icebergs'
"Iceberg"-rose kan vir baie jare nuwe stingels uit die ou hout produseer. Dis nie altyd nodig om die ouer, dik stingels weg te snoei nie. Gebruik eerder jou eie oordeel wanneer jy terugsnoei. Verminder of verwyder kruis-stingels om nuwe groei aan te moedig. Bosse wat erg in die ouer volwasse stamme ingesny word, neem langer om lote te vorm en is geneig om sagte stamme te produseer wat maklik breek.
Bied genoeg ondersteuning aan standaard-"Icebergs". Die rooskoppe kan baie groot word en in swaar wind afbreek.
Maak só ‘Icebergs' die fokuspunt
"Icebergs" is 'n veelsydige rooskultivar wat tuiniers op vele maniere kan inspan. Hier is 'n paar idees wat ek deur die jare by skoutuine opgemerk het.
- Voer 'n oprit daarmee uit, want dit lei die oog. Hulle lyk goed op hul eie, of kan ook versag word deur laaggroeiende een- of meerjariges onder hulle te plant. Blou blomme soos vergeet-my-nie en skurfkruid komplementeer die "Iceberg"-rose se wit besonder goed.
- Plant laventel of agapante as 'n sonnige rand voor die standaard-grootte "Icebergs". Herhaal die blou tema deur blou en pers blomstruike, soos spoorsalie, Duranta "Sapphire Showers", Solanum (blou aartappelbos) en sisal agter die rose te plant.
- Gebruik 'n groot "Iceberg"-struik as fokuspunt in die middel van 'n gemengde blombedding. Die helderwit blomme sal ontpop tussen die gemengde kleure daar rondom.
- Span dit as 'n heining of skerm in. Plant "Iceberg"-roosbosse of -standaardbosse dig naby mekaar. Dit help om jou tuin in "vertrekke" te verdeel en kan ook 'n muur of heining versag.
- Vir 'n klassieke effek kan jy standaard-"Icebergs" met lae geknipte heinings kombineer.
- Skep 'n wit hoek deur "Iceberg"-bosse met visuele voorwerpe soos 'n beeldhouwerk of 'n versameling interessante voëlbaddens en bakke te groepeer. Dit word 'n toevlugshoekie in die tuin waar jy weer rustig kan word.














