Huis + tuin

Feestelike blomme

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto:
Foto:

Dit is geen geheim dat poinsettia en amarillis gewilde feesblomme is nie. Hulle is rooi, is dié tyd beskikbaar en hulle word verbind met mites en legendes van liefde en selfopoffering.

Maar hoekom is rooi, groen en wit kleure wat ons met Kersfees assosieer? Byna universeel simboliseer rooi die liefde en ook die lewe, aangesien dit die kleur van bloed is. In die Christelike tradisie het rooi die betekenis van offerbloed, groen die lote van nuwe lewe (hoop) en wit van reinheid.

Poinsettias is langdurige feesplante vir binne en buite.
Poinsettias is langdurige feesplante vir binne en buite.

Antieke wortels

Die simboliek van hierdie kleure gaan trouens ver terug, na voor-Christelike tye. Daar word bespiegel dat die rooi steekpalmbessies 'n heidense simbool was tydens die wintersonstilstandvierings.

In antieke Rome het die Romeine met die draai van die seisoen hul huise met immergroen takke versier en die denneboom (wat die Kersboom geword het) het die lewe gedurende die winter gesimboliseer.

In Suid-Afrika is die Kersboom deel van ons feestelike dekor. Vir 'n vars alternatief, kan 'n mens 'n potnaaldboom (Cupressus macrocarpa) daarvoor inspan.

Hierdie kersvormige boom het helder lemmetjiegroen blare. As daar net klein bome beskikbaar is, koop vyf of ses, trek vir hulle Kersliggies aan en maak 'n venster- of patio-uitstalling. Hulle hou van klam grond en helder, indirekte lig. Plant die bome ná Kersfees in houers as tuin- of patio-fokusplante.

Wonderwerk

Die poinsettia het sy eie mite.

Volgens legende het 'n jong Mexikaanse meisie op pad kerk toe op Oukersaand nie 'n geskenk vir baba Jesus gehad nie, en het 'n paar stukkies onkruid gepluk.

Toe sy dit in die kerk neerlê, bars dit in pragtige kleur uit. Van toe af was poinsettia bekend as Flores de Noche Buena of "Blomme van die Heilige Nag .

Byna 'n eeu later het kapitalisme ingeskop toe 'n Amerikaanse entrepreneur, Paul Ecke Jnr., dié plant se potensiaal as binnenshuise plant gesien - hoofsaaklik natuurlik vir die feestyd. Hy het gratis poinsettia-plante na TV-ateljees oor die land heen gestuur, ook The Tonight Show en Bob Hope se spesiale vakansie-aanbiedings. Die gier het in die VSA posgevat en daarna het die gebruik oor die wêreld heen versprei.

As 'n binnenshuise plant hou die poinsettia van 'n warm kamer in 'n posisie wat goeie indirekte lig ontvang, maar geen direkte sonlig nie. Plante verkies klam grond, maar nie deurdrenk nie. As die grond te nat bly, kan die plant verlep en wortelverrotting kan intree. Om dit langer as net die vakansieseisoen te hou, voed dit een keer per maand met 'n huisplantkunsmis. Moenie bemes wanneer dit in blom is nie.

Amarillis is 'n simbool van liefde en selfopoffering.
Amarillis is 'n simbool van liefde en selfopoffering.

Liefde seëvier

Die narsinglelie of amarillis is ook 'n natuurlike geskenkplant, met sy groot, trompetvormige blomme. In hedendaagse Griekeland is Amarillis 'n vrouenaam wat beteken "om te skitter", maar die verhaal van die amarillis gaan verder terug na antieke Griekeland.

Die mite lui dat Amarillis verlief geraak het op Alteo, 'n aantreklike skaapwagter met 'n passie vir blomme. Hy het geen kennis van haar geneem nie, daarom het sy met die Orakel van Delphi geraadpleeg. Sy is aangeraai om 30 nagte voor Alteo se huis te staan en haar hart dan met 'n goue pyl te deurboor. Op die 30ste nag het 'n pragtige blom uit haar bloed gegroei. Alteo het verlief geraak op die blom, en gelukkig ook op Amarillis (wat gelukkig van die bloedverlies herstel het).

Die narsinglelie wat binnenshuis vertoon word, verkies helder, indirekte sonlig, terwyl buiteplante gedeeltelike sonlig of volskaduwee verkies. Hou die grond klam en vermy om die gedeelte van die bol wat bo die grond is, te benat.

Hortensias is 'n lewende blommerangskikking.
Hortensias is 'n lewende blommerangskikking.

Anderste rose

As rooi nie jou gunsteling- feestelike blomkleur is nie, beteken dit darem nie noodwendig dat jy in dieselfde klas is as die Grinch is wat Kersfees gesteel het nie.

Pienk of blou hortensias is gunsteling-Kersfeesblomme en word dikwels ook Kersfees- of Krismisrose genoem. Hulle het prominente blomkoppe en die binnenshuise variëteit "Hydrangea Magical Revolution" blom vir tot ses maande, met die blomme wat van kleur verander soos dit ouer word. Binnenshuis het dit baie helder lig en klam grond nodig.

Moet dit nie laat uitdroog of in water staan nie. Dit kan ook buite in 'n halfskadu geplant word, in vrugbare grond wat goed dreineer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM