Huis + tuin

Fraai, wit seisoen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Skakerings van room, ivoor, silwer en suiwer sneeuwit blomme sorg vir 'n vreedsame landskap wat selfs saans die tuin ophelder.

Plant die volgende blomstruike; hulle sal vir jou jaar ná jaar lieflike laatwinter en lenteblomme in wit -en ivoorskakerings gee.

Moet jou nie bekommer as sommige nog net stokkies is nie; die skouspel kom!

Kaapse Mei
Kaapse Mei

Viburnum macrocephalum ‘sterile'

Dis 'n pragtige gesig wanneer die struik, wat ook as 'n "Chinese snowball" of gelderroos bekend staan, begin blom.

Balletjies roomwit blommetjies, amper soos pompoms, verskyn vroeg-lente aan sy kaal takke.

Hulle is aanvanklik lemmetjiegroen, verkleur roomwit en kan namate hulle verouder, bespikkeld raak in 'n delikate skakering van pienk. As die blomme, wat uiters gewild in die bloemistebedryf is, byna af is, vou die vars, groen, skildvorminge blare oop en verander in die somer in 'n glansende donkergroen. Aangesien die struik bladwisselend is, kan jy nog 'n kleurvertoning verwag wanneer die blare in ryk herfsskakerings verkleur voordat hulle afval. Die volwasse-hoogte is tussen 2 m en 3 m en jy kan hulle reeds vroeglente maklik voortplant van hardehoutsteggies voordat groei weer begin.) Kweekwenke

Plant dit in volson of halfskadu - die struik verkies ook ryk, klam leemgrond wat goed dreineer. Viburnum is rypbestand en geskik vir koue-klimaatstreke.

Spiraea cantoniensis ‘Flore Pleno'

Die Kaapse Mei (wat anders as wat sy naam aandui, van China af kom) is 'n geronde en spreidende, halfbladwisselende struik met druipende takke.

Tydens die vroeglente word dit met welige trosse donsige, wit dubbelblomme bedek.

Tydens blomtyd lyk die grond om die plant soos 'n bruilof - konfetti-klein kroonblaartjies lê feestelik gestrooi en gee nog meer bekoring aan die struik. 'n Paar van die elliptiese, dofgroen blare kan in daardie tyd ook al hul verskyning maak. Moet ook nie deur sy wintervoorkoms gefnuik word nie - yl, met kaal takke en skrapse, verbleikte blare. Dit stel tuiniers in die versoeking om dit op die verkeerde tyd straf terug te snoei. Maar vingers af van die snoeiskêr - dit maak dat die plant die lenteblomseisoen oorslaan. As jy geduldig is met sy sloerievoorkoms in die winter, sal jy ryklik beloon word met oorvloedige lentebloeisels.

  • Kweekwenke

Plant in volson of ligte skadu; enige goed dreinerende grondsoort is geskik.

As dit eers gevestig is, kan jy dit matig natmaak. Snoei terug in die somer nadat dit geblom het. Die struik is uiters bestand teen koue en ryp.

Jasminum multipartitum

Niks kondig die lente aan soos die soet geur van sterretjiesjasmyn wat teen skemerte 'n tuin vul nie.

Dis 'n inheemse klouterplant wat ook as spreidende plant ingespan word en laatlente hope geurige blomme begin dra. Die bedwelmende geur is bedags subtiel, maar versterk skemeraand. Die blare is leeragtig, donkergroen en blink, en die donkerpienk blomknoppe wat een-een aan die stingelpunte gedra word ontvou in groot, stervormige, wit blomme met pienk getinte onderkant. Dit word gevolg word deur swarterige vrugte, wat weer voëls lok. Gebruik dit as agtergrondklouterplant teen 'n draadheining of traliewerk, of ook as netjies gesnoeide eksemplaarplante in potte. Selfs al blom hulle nie, is die loof mooi genoeg om die fort te hou. Die volwasse grootte wissel, maar is sowat 2 m tot 3 m.

  • Kweekwenke

Plant in volson of ligte skadu - vermy kolle wat te warm kan word omdat die loof kan verbleik of geel word. Plant dit in leemgrond wat met kompos verryk is. Maak gereeld nat en voed gereeld met 'n gebalanseerde misstof.

Geskik vir matige winters.

Mackaya bella

As jy 'n sierlike blomplant vir skadukolle wil hê, plant die inheemse en elegante bosklokkiesbos met sy tuimelende takke.

Tydens die lente word dit bedek met trompetvormige, wit of sagtelila blomme, met die fynste pienk strepies in die keel. Blomtyd is uiters oorvloedig, van die lente tot Desember. Die immergroen loof is blink en donkergroen. Dit is die perfekte struik vir klein tuine (die grootte is sowat 2 m tot 3 m hoog met 'n verspreiding van 2 m), en het 'n bosagtige, geronde groeiwyse. Dit is 'n goeie keuse vir potte op skaduryke patio's of in binnehoftuine.

  • Kweekwenke

Dit verkies ligte of diep skadu - slegs oggendson is geskik. Plant dit in goeie, komposverrykte leemgrond en maak gereeld nat, veral in die somer. Voed gereeld in die somer met 'n stadig vrystellende misstof. Snoei liggies ná blom as dit nodig is. Dit kan 'n bietjie koue en ligte ryp verdra, maar geen wind nie.

Coleonema album

Hierdie inheemse, immergroen struik het soetgeurige, veeragtige loof en is 'n regop, diggroeiende struik. 'n Oorvloed stervormige, wit blomme met 'n heuninggeur verskyn gedurende die winter, lente en vroegsomermaande.

As hulle uitgeblom is versprei die blomme soos konfetti op die grond, vandaar die volksnaam konfettibos. Die geharde plant is uitstekend bestand teen sterk kuswind. Bye, skoenlappers, insekte en voëls word na die blomme gelok. Die volwasse grootte is ongeveer 1,5 m by 1,5 m.

  • Kweekwenke

Plant in die volson, dis die beste vir winterreënklimaatstreke; nie bestand teen strawwe ryp en koue en verdra nie hoë vogtigheid nie. Konfettibos hou van goed gedreineerde sandgrond wat met kompos verryk is. Bedek met growwe kompos of bas om hul gevoelige wortelstelsel te beskerm - moenie om hulle spit nie. Maak gereeld nat totdat dit gevestig is, en snoei ná blom om die plante netjies te maak en nuwe groei aan te moedig.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM