Huis + tuin

Groen bates

Die geskenk van 'n boompie is vir altyd - dit gee skadu, lok voëls en hou ons koel.

Die drolpeer (Dombeya rotundifolia) is inheems.
Die drolpeer (Dombeya rotundifolia) is inheems.

Een van 'n tuinier se grootste vreugdes is om naby 'n skaduboom te sit wat hy of sy self geplant het. Nog 'n dankbaarheid is om verby 'n gesonde en versorgde boom te ry wat jy toeka geplant het wat nou in 'n ander landgenoot se tuin staan.

'n Tuinier trek rond, maar hulle laat 'n groen erfenis agter.

Groen infrastruktuur in die vorm van bome kan selfs in die kleinste van tuine groei. Hulle is mooi, lok voëls en ander natuur­lewe, skerm geraas af, hou ons koel en koester ons. Gebruik een van jou rusdae tydens die vakansie om 'n nuwe boom te plant.

Voordat jy plant

  • Vra uit oor die maksimum hoogte en wydte en of die groeiwyse slank en regop of spreidend is.
  • Die wortelstelsel is bepalend as die boom naby plaveisel of mure geplant gaan word. Meer bome word vanweë indringende wortelstelsels afgekap as om enige ander rede.
  • Bome produseer deurlopend nuwe blare, blomme en vrugte en sade wat afval - so, daar bestaan nie 'n boom wat nie "mors" nie.
  • In die geval van bladwisselendes gebeur die vallende blare eensklaps en die bome groei in die algemeen vinniger (hoewel nie altyd nie!). Immergroen bome, wat meestal 'n bietjie stadiger groei, sal dwarsdeur die jaar iets afgooi.Een van die belangrikste dinge wat ons selde oorweeg, is die impak wat 'n boom in jou buurman se tuin kan hê wat skaduwee en vallende blare betref.

Gesels dus eers met ou Koos van langsaan voordat jy besluit op 'n boom.

'n Klompie mooies

Daar is 'n skatkis van klein bome tot die tuinier se beskikking - inheems en uitheems. Hier is gewilde gunstelinge.

Witpeer (Apodytes dimidiata) - immergroen en inheems met glansende blare met 'n heldergroen bokant en 'n dowwe, bleekgroen onderkant. Die bas is glad en liggrys en 'n massa geurige, wit blommetjies verskyn van September tot April. Al word die boom oortrek van trosse swart bessies met bloedrooi uitgroeisels - waarvoor die voëls baie lief is - is dit nie 'n morsige boom nie.

Die witpeer is goed vir gematigde dele, maar verduur ook ligte ryp, wind en koue, en nat winters.

Grootte 5 m x 4 m en die wortelstelsel is nie indringerig nie.

Kannabas (Dais cotinifolia) - geronde, ligte kroon met blougroen blare en 'n mooi grysbruin bas. Dis immergroen of bladwisselend na gelang van die klimaat.

Die boom werk goed as fokuspunt, maar ook op die agtergrond van beddings. Massas ligteperspienk blom-pompoms oortrek die boompie vir twee tot drie weke in die somer. Die inheemse kannabas groei in gematigde dele in die somer- en winterreënvalstreke en verdra redelike ryp en koue.

Beskut die boompie teen wind in kustuine. Grootte is ongeveer 6 m x 5 m met 'n nie-indringende wortelstelsel.

Drolpeer (Dombeya rotundifolia) - wanneer die inheemse boom nog sonder sy groot blare met hul growwe tekstuur in die laatwinter of lente oortrek staan van wit of babapienk bloeisels is dit 'n lief­like gesig! Later trek die knoetserige stamme met hul amperswart bas weer al die aandag.

Die bome groei in die winter­reënstreek tot aan die kus, in die droë binneland, in subtropiese tuine en in die gematigde dele van die Hoëveld - eintlik oral, mits dit in 'n jong stadium teen swaar ryp beskut word. Sy grootte is ongeveer 6 m x 4 m en hy het 'n penwortelstelsel.

Lagerstroemia indica"Black Diamond" - die eksotiese crêpemirt - is tegnies 'n groot struik, maar kan gesnoei word in 'n boomvorm. 'n Nuwe reeks revolusionêre lagerstroemias genaamd "Black Diamond", wat teen wit roes bestand is, het na ons land gekom. Hulle is bekend vir die donker, amper pikswart, blink loof wat die helder, kontrasterende blomme laat uitstaan. Hierdie plante is bladwisselend, wat hulle koue- en rypbestand maak, en is ook redelik droogtebestand as hulle eers goed gevestig is. Die pragtige loof spruit oorvloedig uit in die lente en word gevolg deur kleurryke, helder blomme wat soos kreukelpapier lyk.

Die res van die reeks sluit in "Best Red", "Mystic Magenta", "Pure White", "Lavender Lace" en "Purely Purple". Volwasse grootte is ongeveer 3,5 x 2,5 m.

Magnolia grandiflora "Little Gem" - 'n eksotiese, regop groeiende boompie wat 6 m tot 8 m hoog word en met geurige, wit blomme van 12 cm tot 15 cm in deursnee spog. Hy bot meestal laatsomer en vroegherfs. Die blinkgroen blare met donsige, bruin onderkant is ewe mooi.

Hierdie magnolia groei goed in die meeste landstreke.

Pas jou jong boom op

Die groeitempo van enige jong boom kan versnel word deur die plantgat deeglik voor te berei met mildelike kompos, beenmeel en 'n handvol algemene misstof.

Maak 'n grondwalletjie om die geplante boom en gee vir die eerste twee jaar gereeld en diep water en verskaf 'n deklaag oor die wortelstelsel. Voed in die lente en elke drie maande daarna met 'n misstof soos 5:1:5.

Anna CIlliers

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM