Links voor -Pynappelment – M. suaveolens ‘Variegata’: ’n Bontblaar-hibried van appelment. Die blare het wit of room vlekke en die plant het ’n effense pynappelgeur, maar jy ruik dit nie as die groeitoestande nie ideaal is nie. Dié ment is goed vir garnering, want die dik blare verlep nie gou nie. In kos moet jy vars pynappelment gebruik, want dit verloor sy smaak as dit gedroog word. Die blare is heerlike in potpourri, veral dié met ’n vrugtegeur.
Regs voor - Peperment – M. piperita (aquatica x spicata): Peperment groei tot 120 cm hoog en dra malvapers blomme. Die geur is perfek vir menttee, en die persgetinte blare sorg vir mooi kontras in die tuin. Die blare word gebruik om tandpyn te verlig; die kruid word ook ingespan om muise en vlooie te verdryf.
Links agter -Sjokoladement – M. piperita f. citrata: Dié meerjarige kruid het die aroma van ment en die geur van sjokolade (dink Peppermint Crisp). Die kruid dra geurige wit of malvapers blomme en moet gereeld teruggesnoei word om nuwe groei aan te moedig. Dis heerlik in gebak en nageregte.














