Hoogsomer is sinoniem met bekoorlike hibiskusblomme.
Dié skoonhede groei gewoonlik aan yslike immergroen struike in gematigde en subtropiese tuine.
Hibiskusse is die vyfde gewildste kommersieel verboude blomplant ter wêreld naas rose, asaleas, angeliere en orgideë. Hulle is veral gewild as blomplante in potte omdat hulle van jongs af al blomme lewer.
Die botaniese naam is Hibiscus rosa-sinensis longiflora.
Elke helderkleurige blom, wat meestal 'n kontrasterende donkerder keel het, lyk asof dit onmiddellik deur nog een vervang word.
Deense kwekers het met "HibisQs" vorendag gekom - 'n pragtige reeks hibriede genoem na Griekse gode en godinne van die mitologie met name soos Poseidon, Juno, Hera en Aphrodite Red. Dié kompakte en uiters blomryke plante is spesiaal geteel om in houers te groei, hoewel hulle ewe goed in die tuin sal vaar.
Hulle hou van volson, maar aard ook goed in halfskadu soos oggendson en middagskadu, en kan selfs vir kort tydjies as blommende huisplante binnenshuis gehou word.

In 'n neutedop
Plant 'n hibiskus op 'n sonnige plek in komposverrykte grond met goeie dreinering. Gebruik gehalte-potgrond vir potte en voeg 'n wortelstimulant soos beenmeel by.
Hoewel volwasse plante grootliks droogtebestand is, hou hulle van gereelde natmaak een of twee maal per week in die somer. Jong plante in die tuin en dié in potte moet tydens warm weer meer gereeld natgelei word.
Voed tuinplante in die lente en middelsomer met 'n stadig vrystellende misstof vir vrugte en blomme. Dié in houers sal 'n maandelikse dosis wateroplosbare misstof waardeer.
Hibiskusse is honger plante!
Snoei plante ná blom in die laatherfs redelik straf terug om nuwe bosagtige groei vir die nuwe blomseisoen aan te moedig.
Taai, maar delikaat
Lagerstroemia, beter bekend as crêpe-mirt of prag-van-Indië, was nog altyd 'n gunsteling omdat dit getrou elke jaar van middelsomer tot einde herfs blom.
Ongelukkig het die plant se dofgroen blare altyd met witroes besmet geraak, wat tuiniers gemeen het die kool nie die sous werd maak nie, en dit het van die toneel verdwyn.
'n Nuwe reeks revolusionêre lagerstroemias - Lagerstroemia indica "Black Diamond" - wat teen witroes bestand is, is nou beskikbaar.
Hulle het donker, amper pikswart, blink loof wat die helder, kontrasterende blomme laat uitstaan. Die plante is bladwisselend, wat hulle koue- en rypbestand maak, en is ook redelik droogtebestand as hulle eers goed gevestig is.
Die pragtige loof spruit oorvloedig uit in die lente en word gevolg deur kleurryke knoppe aan stingelpunte wat in helder blomme ontvou. Die blomme lyk soos kreukelpapier, vandaar die naam crêpe-mirt. Die hele reeks sluit in "Best Red", "Mystic Magenta", "Pure White", "Lavender Lace" en "Purely Purple".
Gebruik dit as 'n agtergrondstruik, lei dit op as 'n pragtige blomboompie vir 'n klein tuin (volwasse grootte is ongeveer 3,5 by 2,5 m) of plant dit in 'n ruim houer om op 'n sonnige patio of in 'n binnehof te sit. Dit kan ook as 'n skouspelagtige blomheining gekweek word - dit reageer goed op snoei in die laatwinter wanneer dit rustend is.
Welriekende skoonheid
'n Warm somernag, 'n volmaan, 'n oulike boompie vol soetgeurige blomme, en alles is reg vir tuinromanse.
Plant Magnolia grandiflora "Little Gem" naby jou onthaalplek of in 'n intieme binnehof en geniet die geur van moeder natuur se suiwerste parfuum.
Magnolia grandiflora se majestueuse volgroeide grootte is dalk nie kleiner tuine bestem nie, maar sy kleinboet, die "Little Gem"-hibried, is perfek vir kleiner ruimtes. Dit het 'n elegante en kompakte piramiedvormige groeiwyse tot ongeveer 6 m hoog.
As die boom in 'n groot pot gekweek word (en dié boom is perfek vir potte), sal dit sy uiteindelike grootte beperk.
Die immergroen blare is donkergroen en blink bo-op met 'n wollerige, bruin onderkant. Sy delikate, spierwit en soetgeurige blomme van 12 cm tot 15 cm in deursnee verskyn heeljaar sporadies, met 'n spitsblomtyd van laatsomer tot vroegherfs.
Versorg dit soortgelyk as die hibiskus en lagerstroemia en jy sal mildelik met geur en skoonheid beloon word.
Anna Celliers
@beeld_nuus














