Huis + tuin

Kom binne!

Foyer, make over, entrance (Francois Oberholster)

Uit die dieptes

 Lisa van Aswegen, haar man, Shaun O’Meara, en seun, Kevin (4), woon in Kampsbaai. Die twee werk lang ure en het nog nie veel aandag aan die portaal gegee sedert hulle drie jaar gelede daar ingetrek het nie, behalwe om ’n werkbank – wat voorheen as Kevin se doekeruilstasie gebruik is – vir pakplek by te voeg.

Die probleem

Lisa en Shaun huur die huis, daarom wou hulle nie te veel gate boor of permanente veranderings maak nie. Maar hul oplossing, die los werkbank, het ’n opgaarplek geword vir alles en nog wat: Kevin se skoolsak, Lisa se handsak, skootrekenaars, pos, en skoene wat uitgeskop word sodra hulle tuiskom. Dit het boonop ’n lae venster versper wat lig kan inlaat. ’n Deurmekaar boekrak het die portaal net nog besiger laat lyk, en dan was daar al die hoede, baadjies en serpe by die voordeur: “Een ry hake was net nie genoeg vir alles nie; die hoede het gedurig afgeval,” sê Lisa.

Die oplossing

• Die Tuis-span het twee van die mure blou geverf om die ruimte af te baken; Lisa en Shaun kan dit altyd weer wit verf wanneer hulle trek.

• Die boekrak is na die leefvertrek geskuif waar dit beter benut kan word. Toe kon ons die werkbank na die boekrak se ou staanplek skuif sodat die lae venster links kan lig inlaat.

• Vir die hoede en baadjies het ons afsonderlike hangplek op teenoorstaande mure voorgestel: Shaun het die hoede se hangplek gemaak van MDF-bord en oorskiet-tappenne, wat ons geel en rooi gespuitverf het – ons hoef dus nie gate in die muur te geboor het vir ieder en elke hoed nie, maar net vier gate om die bord vas te skroef. Die dennehoutplank waaraan al die baadjies en hoede voorheen gehang het, is wit geverf en nuwe silwer hake is daarop vasgeskroef.

• Elke lid van die gesin het nou sy eie bêreboks op die boonste rak van die werkbank, en elkeen het net een paar stapskoene op die onderste rak. Lisa se handsak het ook sy eie staanplek daar.

• Lisa wou lankal ’n klompie familie- en troufoto’s laat druk, en Tuis se projek het haar geïnspireer om dit nou te doen. Sy het van hul ou geraamde troufoto’s saam met verweerde houtrame vir die nuwe foto’s gebruik. Die geraamde foto’s en ’n vrolike afdruk van Kevin se hande en voete is eers op die vloer in die regte patroon uitgepak voordat Shaun die gate vir die galerymuur geboor het.

• Hul pos word nou in ’n ou roosterbroodrakkie uit hul kombuiskas gesorteer.

• ’n Mat met ’n geometriese motief, ’n versameling vase en ’n bloedrooi Mini-motor rond die prentjie af.

Voor

Ná

Foyer, make over, entrance (Francois Oberholster)
Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM