Vrugte uit jou eie tuin smaak altyd soeter, skryf Alice Coetzee.

Twee heerlike vrugte wat geen snoeiwerk, erge insekbeheer of spesifieke suurgrond vereis nie, is die Kaapse appelliefie en aarbeie. Die soetsuur, goue bessies van die Kaapse appelliefie (Physalis peruviana) en ryp, rooi aarbei wat onder blare skuil, is soos twee verborge skatte in jou groentetuin.
Kinders (of kleinkinders) sal ook van hierdie vrugte hou en dit geniet om die ryp bessies uit te soek en dit direk uit jou tuin te eet.
Die Kaapse appelliefie word van erfenissaad gekweek wat by Kirchhoffs beskikbaar is. Dit kan vandeesmaand gesaai word, direk in 'n saadbak wat met 'n vogtige saailingmengsel gevul is. Plant die sade op die diepte wat op die pakkie aanbeveel word. Hou klam tydens ontkieming. Gooi die saailinge 'n week ná ontkieming nat met 'n planttonikum en wanneer die plantjies 10 cm hoog is, plant dit oor in die tuin.
Appelliefies het son en spasie nodig en groei heel gelukkig in swak grond. Die plant vorm later 'n bosserige struik van minstens 1 m hoog en wyd. Plante moet ideaal sowat 1,5 m tot 2 m van mekaar gespasieer word. Die plante kan gedeeltelike skadu hanteer en vereis nie baie water wanneer dit eers gevestig is nie.
Vanaf die dag dat jy dit gesaai het, neem dit sowat 180 dae tot jou eerste appelliefie-oes. Wanneer die vrugte se omhulsel bruin en papieragtig word, is die bessie ryp. Hoe plomp die bessie is (of nie), is ook 'n aanduiding van hoe ryp dit is.
As die bos eers vrugte gedra het, sny dit terug tot sowat 20 cm bokant die grond, gooi kompos en gee dit goed water. Dit sal nuwe, bosagtige groei aanmoedig.
In warm, rypvrye of beskutte tuine kan so 'n plant vir drie tot vier jaar vrugte dra. Appelliefies moet net in baie koue gebiede as jaarplante hanteer word.

Aarbeie neem nie baie ruimte in beslag nie en kan langs blomme, kruie, in potte en selfs in hangmandjies groei.
Aarbeie word tradisioneel van steggies en nie van saad gegroei nie, maar dis nie meer die geval nie. Kirchhoffs bied sade vir Fresca-aarbeie wat groot, soet en sappige bessies oplewer. Fresca is 'n variëteit wat - indien die vrugte gereeld geoes word - herhaaldelik sal blom, van die somer tot die herfs.
Vir suksesvolle ontkieming, gee die sade koue behandeling deur dit vir 'n paar dae voordat jy dit plant in 'n plastieksak in die yskas te plaas. Haal dit uit die yskas en laat dit afkoel tot kamertemperatuur voordat jy dit saai.
Aarbeie se sade is baie fyn en dit is baie makliker om te hanteer indien jy dit in 'n pot eerder as in saaibakke of direk in die grond saai. Gebruik 'n pot van 15 cm, gevul met ontkiemingsmengsel en saai vier of vyf saadjies.
Saad neem 'n week tot 'n maand om te ontkiem. Om 'n klam en warm mikroklimaat te skep, bedek die pot met plastiek of plaas dit in 'n plastieksak vir 'n mini-kweekhuiseffek. Verwyder die plastiek sodra die saailinge te voorskyn kom.
Wanneer die saailinge drie blaartjies ontwikkel het, kan dit oorgeplant word in individuele potte, hangmandjies of in die tuin in 'n bedding wat goed deurgewerk is met kompos en wat ten minste ses tot agt ure se oggendson kry.
Wanneer jy dit uitplant, maak seker die kroontjie is gelyk met die grondoppervlak. Dit moenie deur grond bedek wees nie, want nuwe groei spruit uit die kroon.
Spasieer aarbeiplantjies in jou tuin sowat 36 cm van mekaar. Tot drie groot plante kan in 'n groot pot of hangmandjie pas, maar onthou dat dit dreineringsgate moet hê. Roteer hangmandjies gereeld sodat al die plantjies ewe veel blootstelling aan die son kry.
Aarbeie het grond nodig wat gereeld natgegooi word, maar nie grond wat water terughou nie. Voed die plante in beddings maandeliks met kunsmis wat ryk is aan kalium en elke 10 dae sodra die plante begin blom. Aarbeie wat in houers groei, kan weekliks gevoed word met 'n vloeibare kunsmis wat geskik is vir blomme en vrugte.
'n Ligte strooibedekking onder aarbeie wat in beddings groei, sal onkruid voorkom en keer dat die vruggies op die grond lê en verrot.
Moenie al die uitlopers in die eerste jaar van groei afknip nie sodat die plant homself kan vestig. Van die tweede jaar af kan uitlopers geknip word om die plant meer kompak te hou. Die soetste vrugte word in die tweede jaar geproduseer en daarna kan die plant vervang word.














