Deur kruie, blomme en groente saam in 'n bedding te plant, wen jy op drie maniere:
Dit lok bestuiwers Vrugdraende groente (soos skorsie, tamatie, eiervrug, soetrissie) moet deur insekte bestuif word.
Plant daarom blomme wat baie nektar produseer, asook blommende kruie soos grasuie, naby dié groentesoorte om bye en skoenlappers te lok.
Bestuur plae Kruie met skerpgegeurde blare (knoffelgrasuie, laventel, salie, tiemie) kan plae op gewasse soos kool verdryf of afskrik. Ander kruie (vinkel, kappertjies) tree op as lokvalgewasse deur die pestilensies na hul blomme te lok, weg van jou groente af.
Afrikaners gee 'n stof af wat rondewurms afskrik.
Verbeter die grond Kamille en lava hou voordele in vir groente wat naby hulle geplant is. Groen mis (klawer, wiek, peulgewasse, mosterd) verbeter grondtekstuur en vrugbaarheid, of berook die grond. Komkommerkruid, duisendblad en smeerwortel is mineraalryke kruie; gebruik hul blare as komposaktiveerder of as deklaag wat die grondgehalte verhoog.
• Ander metgesel-opsies sluit die gebruik van langer plante in vir skadu oor brose plante met 'n laer groeiwyse (byvoorbeeld suikermielies saam met pampoen), stikstofbinders vir blaargroente (spinasie saam met stam-groenboontjies), asook plante met dieselfde waterbehoeftes bymekaar (soetrissies en kropslaai).
• Seker die bekendste plantmaats is basilie tussen of naby tamatie om insekte te verdryf. Tamatieliefhebbers glo ook vas dat basilie die geur van tamaties verbeter.
• Jy kan groente, kruie en blomme as metgeselplante begin saai in September. Kyk gerus na die groot verskeidenheid erfenisvariëteite wat nie geneties gemodifiseer is nie by kirchhoffs.co.za.

KOMBUISTUINTAKE
• Berei beddings voor vir saai of plant ná die laaste ryp.
•Gee meer gereeld water namate die dae warmer word.
• Hou aan met die oes van winter- en lentegewasse.
• Kyk uit vir plantluise op groentes in die koolfamilie, veral krulkool en kopkool.

SAAI NOU DIé GROENTE
Somerreënstreke Artisjok, beet, blaarbeet en spinasie, eiervrug, ertjie (in koeler dele), komkommer, kool, kropslaai, mielie, murg-pampoentjie, pampoen, raap, rabarber, radys, seldery, skorsie, soetrissie, spanspek, stam-/rankboontjie, tamatie, wortel.
Winterreënstreke Artisjok, beet, blaarbeet, eiervrug, komkommer, kropslaai, mielie, pampoen, raap, rabarber, radys, seldery, skorsie, soetrissie, spanspek, stam-/rankboontjie, tamatie, wortel.
Laeveld en KwaZulu-Natalse kus Artisjok, aspersie, eiervrug, komkommer, mielie, radys, soetrissie, stam-/rankboontjie.


















