Huis + tuin

Maak jou eie groeimediums

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Net soos 'n mens met droë bestanddele in die kombuis kan rondspeel om dinge soos vetkoek, skons of kleinkoekies te bak, kan jy buite op die stoep bestanddele meng en afmeet om jou eie grondmengsels of potgrond te maak.

Jy het nie 'n fynkok se deeg­hande nodig nie, ook nie maat­lepels nie. Jy hoef nie te knie nie en niks gaan platslaan nie. As jy jou kaal hande met oorgawe gebruik, gaan jou naelvelletjies sommer ook mooi en teruggesnoei wees wanneer jy klaar gemeng het. Tegnies gesproke is kommersiële potgrond nie grond nie, maar 'n mengsel van organiese stowwe soos gekomposteerde dennebas, veenmos, klapperhaar en kompos, en anorganiese materiale soos perliet, vermikuliet, rivier­sand of fyn gruis.

Maak jou eie potgrond vir houers vol plantplesier.
Maak jou eie potgrond vir houers vol plantplesier.

Die ideale potmedium is lig en los sodat plante maklik daarin kan wortelskiet, en lugtig genoeg om genoeg suurstof toe te laat om plantwortels te bereik. Dis reukloos en dreineer goed, maar behou ook vog. Dit moet 'n bietjie voedingstofwaarde bevat, vry wees van siektes en onkruid, en moenie te vinnig afbreek, verdig raak of moeilik weer hidrateer as dit te lank uitgedroog het nie.

Hoewel dit gerieflik is om veeldoelige kommersiële potgrond te koop, kan dit duur raak as jy baie houers moet volmaak. Dis ook pret om jou eie spesialiteitsmengsel in die ou kruiwa te maak, en jy kan met jou resep eksperimenteer en dit algaande aanpas.

Potgrondresepte is volop en wissel van die swaar, outydse mengsels met leemgrond as basis tot hedendaagse mengsels wat met organiese misstowwe, waterhoudende produkte en grond­opknappers verryk word.

'n Perfekte en ligte groeimedium vir blomme en kruie.
'n Perfekte en ligte groeimedium vir blomme en kruie.

Resep 1

1 emmer palmveen

½ emmer perliet

½ emmer vermikuliet

½ emmer fyn kompos of fyn gekomposteerde bas

2 koppies riviersand

2 koppies stadig vrystellende organiese misstof

Resep 2

1 emmer palmveen

1 emmer vermikuliet of growwe riviersand

2 emmers fyn kompos

½-1 koppie erdwurmmis of -kompos

Albei resepte kan gebruik word vir houerplante buite in die tuin of vir huisplante binnenshuis. Meng alles goed saam. As dit te droog voel, klam dit net liggies aan met 'n gieter. Oorblywende grondmedium kan in 'n houer met 'n digpassende deksel op 'n koel, droë plek gebêre word. As jy vetplante kweek, hou in gedagte dat die grondmedium vir hulle baie goed moet dreineer. Pas dan jou resep aan met een deel klaar gemengde potgrond wat organiese materiaal bevat, gemeng met een deel perliet en een deel growwe rivier­sand of fyn grint.

Wat is dit?

Palmveen is in 'n saamgepersde blok te kry wat vooraf in sowat 3 tot 4 liter water uitgeswel word. Dit word dan opgebreek, uitgepluis en die oortollige water uitgedruk. Veenmos is tevore gebruik, maar nie volhoubaar nie, vandaar die meer ekonomiese palmveen, wat net so goed werk.

Perliet lyk soos polistireenballetjies, maar bestaan uit gevuurde vulkaniese klip. Dit help met dreinering en maak die grond ligter.

Vermikuliet bestaan uit silwergrys gekleurde deeltjies. Dis 'n natuurlike, vulkaniese mineraal wat met hitte uitgedy is om sy waterhouvermoë te verbeter. Dit sal nie agteruitgaan of volume verloor nie en verleen kalsium en magnesium aan die grond.

Fyn kompos verskaf voedingstowwe en voordelige mikrobes. Jy kan óf goed verteerde tuisgemaakte kompos sif óf sakke kompos koop, wat baie goedkoper is as sakke kommersiële potgrond.

Gekomposteerde fyn bas stel voedingstowwe vry namate dit vergaan, en help ook met dreinering. Dit kan as alternatief vir kompos gebruik word.

Growwe riviersand help met vogterughouding en dreinering. Vermy bousand of fyn seesand.

'n Organiese misstof wat seewier, vismeel, humussuur en gekomposteerde hoendermis bevat, is 'n perfekte byvoeging. Dit stel voedingstowwe stadig vry en sal nie die plante se wortels brand nie. As jy nog nie 'n wurmplaas het om wurmkompos van te oes nie, gebruik 'n kommersiële produk wat wurmkompos bevat.

Wenke

  • Al die bogenoemde materiale is vrylik by kwekerye en tuiswinkels beskikbaar.
  • As jy kaalhand gaan werk, druk jou naels in 'n koekie seep voordat jy dit in die grond steek. Dit maak handewas makliker.
  • Wanneer jy plante gaan oorpot, kan jy die ou potgrond op jou komposhoop gooi, of weer inmeng met vars potgrond. Sif dit eers om van grondinsekte soos miswurms ontslae te raak.
  • As jy plante met vlak wortelstelsels soos by voorbeeld aalwyne of grasse in hoë, smal potte gaan plant, kan jy bespaar op potgrond deur ou verpakkingsmateriaal soos polistireen of plastiekkoeldrankbottels te gebruik om spasie te vul onder in die bodem van die potte voordat jy dit verder met potgrond opvul.

En tuingrond?

Hoewel gesifte en gesteriliseerde bogrond deel van 'n swaarder potmedium kan wees, is dit nie wys om net 'n bietjie tuingrond uit te grawe en in 'n pot te gebruik nie. Dit kan vol onkruidsaad wees, patogene en siektes bevat en swak dreineer (wat maak dat wortels versuip), en sal verdig raak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM