Gebruik kompakte plante in ryk plate kleur en tekstuur op die voorgrond van struikbeddings wat 'n vinnige regruk dringend nodig het.

Struike en meerjariges in die middel en op die agtergrond is altyd belangrik vir enige mooi randakker, maar wat op die voorrand van die bedding geplant is, trek eerste die aandag. Hier volg 'n keuse van mooi en blywende grondbedekkers en dwergplante van tot ongeveer 40 cm hoog wat kleur en tekstuur aan die voorgrond sal verleen. Lekker plant!
Perswildeknoffel
Die geharde en maklik kweekbare Tulbaghia violacea was nog maar altyd 'n baie gewilde inheemse meerjarige wat gekweek word om sy oorvloedige pers blomtrosse aan hoë stingels bo polle grysgroen lintvormige blare met 'n knoffelgeur. Die blomme, blare en stingels is eetbaar en kan vir hul geur of as garnering gebruik word. Wildeknoffel is ook tradisioneel as medisinale plant gebruik en word ook geplant om slange en plantluise af te weer. Dit is 'n baie waterslim plant om ook by 'n kruietuin in te sluit of om in 'n massa as randakkerplant te gebruik. 'n Kultivar met wit en groen blare genaamd "Silver Lace" is ewe mooi.
Lamsoor
Die silwergrys kleur van die dik, sagte en fluwelige blare van Stachys byzantina komplementeer feitlik enige ander plant wat naby of agter lamsoor groei. Lamsoor is moeitevry en vorm vinnig 'n digte mat op die grond langs wat sowat 40 cm hoog is. Hierdie plante kan dikwels verdeel word wat vir jou meer gee om oral in die tuin rond te plant en om daardie matte te verjong wat te dig geraak het.
Lamsoor verkies sonnige, droë klimaatstreke maar sal ook in ligte skadu groei. Regop blomstingels met are onbeduidende perspienk blomme verskyn in die somer bo die loof. Dis 'n goeie plan om hulle af te knip ten einde die plant se energie terug te voer na die maak van weliger blare waaraan almal graag wil vat en wil streel.
Josefskleed
Alternanthera dentata "Purple Prince" is 'n geronde grondbedekker met 'n kompakte spreidende groeiwyse en diepboergonje blare met robynroos agterkante. Dit is 'n redelik nuwe vrystelling in die plantmark. Plant dit in klam, goed dreinerende leemgrond en maak dit gereeld nat, maar wees daarvan verseker dat hierdie plant baie hitteverdraagsaam is en ook kort periodes van droogte weerstaan. "Purple Prince" sal in volson en ligte skaduwee groei.
Slapaalmoes
Acorus gramineus "Golden Edge" is 'n immergroen siergras met goudgeel tot liggeel blare met groen strepe in die son tot halfskadu. Dit is koue en rypbestand en sal ook in swak dreinerende grond en selfs in water groei.
Penningkruid
Pragtige klein, ronde geel blaartjies versier Lysimachia nummularia "Aurea", 'n immergroen laag groeiende grondbedekker wat van son tot halfskadu hou en koue en rypgevoelig is. Oral waar die sytakkies se ogies aan die grond raak, sal hulle wortelskiet en gou 'n lemmetjiegeel plaat van loofkleur vorm.
Mondogras
Ophiopogon jaburan met sy donkergroen gebuigde blare is 'n immergroen en waterslim polvormende siergras en uitstekende minsorg-randakkerplant. Dit is koue en rypbestand en kan in volson en diepskadu geplant word.
Dwerg-agapant
Agapanthus africanus "Double Diamond" is 'n pragtige variëteit van die getroue agapant en dra 'n massa klein blomhofies met spierwit dubbelblommetjies aan stewige, kompakte plante in die somer. Dit is koue en rypbestand, waterslim, en kan in volson tot halfskadu geplant word.
Euphorbia hypericifolia "Diamond Frost"
Dié uitstekende randakkerplant met sy delikate voorkoms dra heeljaar wolke klein wit blommetjies. Dit is immergroen, geskik vir son of skadu, is bestand teen koue, maar nie ryp nie, en is uiters waterslim.
Kitswenke
- 'n Rand met net een plantsoort, soos die donkergroen mondogras, Ophiopogon jaburan, is netjies en baie elegant met min onderhoud.
- Plant jou gunstelinge in sterk groepe vir 'n kleurryke voorkoms en maak seker jy kies dié met 'n komplementerende blaar of blomkleur.
- Span selfs twee soorte randakkerplante in deur iets hoër agter te gebruik soos plate perswildeknoffel wat voor gekomplementeer word deur die baie laaggroeiende heldergeel Lysimachia nummularia "Aurea" (penningkruid).














