n Leser wil graag meer uitvind oor dié aarbol wat die naam Replogle Globes, Chicago, dra. Dis effens beskadig, met ’n paar klein snytjies in die bol, maar die tafel is nog in ’n goeie toestand.

Jo-Marie Rabe, meubelhistorikus en mede-eienaar van Piér Rabe Antiques, antwoord: Replogle Globes is in 1930, tydens die Groot Depressie, deur Luther Replogle in die sitkamer van sy woonstel in Chicago begin. Sy leuse was “ ’n aardbol vir elke huis”, en vandag is Replogle die grootste vervaardiger van aardbolle ter wêreld. Aanvanklik het Luther en sy vrou self die aardbolle gemaak, maar vandag word dit deur meestervakmanne in ’n massiewe werkwinkel vervaardig. Die ouderdom van ’n aardbol kan bepaal word volgens die geografiese inligting daarop: Baie lande en stede het sedert die dertigerjare nuwe name gekry, daarom kan ’n pleknaam ’n goeie aanduiding van ’n bepaalde era wees. As Ceylon byvoorbeeld op die aardbol verskyn, kan jy seker wees dis voor 1948 gemaak, aangesien die eiland sedertdien Sri Lanka genoem word. Die Renaissance-styl van dié bepaalde tafel was gewild in die 1960’s. Daar is ’n goeie aanvraag na ou aardbolle, en dié wat deur Replogle vervaardig is, het veral in die VSA groot versamelaarswaarde. Vir die plaaslike mark is die waarde effens laer, afhangende van die toestand – sowat R2 500–R5 000.













