Huis + tuin

Tuinmaak: Plant jou eie eiervrug

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Zen Chung/Pexels
Foto: Zen Chung/Pexels

Dié familie van die tamatie, soetrissie en aartappel ken ons ook as "brinjal", en op 'n Italiaanse spyskaart beteken "melanzane" een en dieselfde ding. Die wonderlike kenmerk van eiervrug is dat hy die geure wat saam met hom in die pot beland - tamatie en basilie, knoffel en komyn, pietersielie en parmesaan - opneem en vermeng in 'n hemelse smaakervaring op jou bord.

Eiervrug, of Solanum melongena, is 'n tropiese groente en kom oorspronklik uit Indië. Dis 'n belangrike bestanddeel in tradisionele Maleise kookkuns en Mediterreense geregte, en jou vegetariese kollega sal beaam dis 'n regte staatmaker in vleislose skottels.

Net 'n stoel of vyf naby jou agterdeur gee jou genoeg van dié vet, pers uitblinkers om jou mense weke lank te laat smul. Kry vir jou 'n paar saailinge (saadjies vat darem te lank) - dis juis nou planttyd.

Plantwenke

  • Kies 'n warm, beskutte plek in die tuin waar die grond goed dreineer. Werk baie kompos in.
  • Plant saailinge sowat 60 cm uitmekaar.
  • Dis belangrik dat jy dit in die groeiseisoen goed natmaak; sowat twee keer per week wanneer die plante gevestig is.

Kweekwenke

  • Die stoel word sowat 'n meter hoog. Wanneer die hoofstam sowat 20 cm hoog is, moet jy die groeipunte uitbreek sodat die plante kan vertak.
  • Onthou om die stoele stewig te stut, want die gewig van die vrugte kan die sytakke laat breek.
  • Sodra die eerste blommetjies verskyn, moet die plante met goeie blaarvoeding gevoed word en twee weke daarna met 3:1:5-kunsmiskorrels. Lei altyd goed ná jy kunsmis gegee het.

Oeswenke

  • Die plant sal ná sowat drie maande begin dra.
  • Oes in die laat somer as die vrugte mooi uitgeswel het en die skil blink is.
  • Hoe meer jy pluk, hoe meer blommetjies sal verskyn.
  • Sodra die eerste herfskoue aanbreek, sal die produksie dramaties afneem.

Peste en plae

Slakke en snywurms kan moontlik 'n probleem wees. Gesels met jou kweker oor 'n geskikte lokaas.

Suné Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM