Huis + tuin

Plant lentebolle

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit is nou die tyd om lenteblombolle te begin plant, skryf Anna Cilliers. Sy meen dis die maklikste manier om pragtige blomme vir baie min moeite te kry.

Viooltjies (lachenalias).
Viooltjies (lachenalias).

In net een beddinkie in jou tuin, of in potte op jou stoep of balkon, en selfs binnenshuis, kan jy lekker speel met verskillende bolle. En as jy so elke twee weke tot vroeg in Junie nog 'n paar plant, kan jy hul blomtyd laat strek van laatwinter tot vroeglente.

Viooltjies (lachenalias)

In Suid-Afrika en Namibië saam is daar meer as 120 natuurlike spesies (waarvan sommige by spesialiskwekerye in die blom verkoop word), maar daar is ook baie begeerlike hibriede wat deur kommersiële bolkwekers gekweek word en wat reeds van einde Februarie af geredelik verkrygbaar is.

Hierdie maklik om te kweek bolplante is klein maar helder in die blomtyd van vyf weke. Dit het buisklokvormige, geurige blomare wat afhangende van die hibried of spesie dikwels in twee- of driekleurige kombinasies van wisselende kleure is.

Viooltjies is perfek vir klein tuine en is pragtig in breë, vlak houers wat op sonnige patio's en balkonne staan waar hulle van midwinter tot die lente uitstekende kleur kan verskaf. Die veelvormige loof is ewe mooi en wissel van 'n enkele breë blaar tot grasagtig en is gespikkeld, harig, of glad.

Lachenalias hou van son, maar sal ook ligte skadu verdra en verkies goed dreinerende sandgrond.

As jy 'n paar binnenshuis wil beproef, sit hulle op 'n goed verligte plek. Plant bolle in houers taamlik na aan mekaar en sowat 2 cm onder grondvlak in kommersiële potgrond, terwyl hulle in die tuin 5 cm uitmekaar gespasieer moet word.

Viooltjies groei aktief in die winter en raak rustend in die somer as hulle klaar geblom het en die blare begin doodgaan. Staak natmaak in November in die somerreënstreke, haal die bolle in Desember uit en bêre hulle droog. Hou bolle in potte droog en begin in Maart weer natmaak. In die tuin hou viooltjies daarvan om opmekaar te groei, daarom kan 'n hele paar jaar met uithaal en verdeel verwag word.

Ranonkels

Niks is mooier as ranonkels met hul veelvoudige lae van delikate kreukelpapierdun kroonblare nie. Dit is te kry in grootmaatpakke van gemengde kleure of enkelskakerings, waaronder pienk, wit, rooi, geel en oranje.

Die klouagtige wortels van die bol lyk soos 'n dooie reënspinnekop wat vas is aan die verharde stingelbasis, wat lyk soos die uitgedroogde hoed van 'n tuinkabouter.

Die klou moet ondertoe wys wanneer dit geplant word (nie meer as 5 cm diep nie en sowat 10 cm tot 15 cm uitmekaar). Maak goed dreinerende grond ongeveer 20 cm diep los en verryk dit met kompos. Die groeiplek moet in die son of ligte skadu wees.

Ranonkelbolle van goeie gehalte sal sowat ses weke lank blomme dra. Hoe meer jy pluk, hoe meer knoppe sal verskyn. Pluk hulle vir die vaas as die knoppe kleur wys en nog nie heeltemal oop is nie.

Bolle in potte

Stel jou 'n balkon of patio voor wat in die lente met potte vol blommende affodille en narsings spog, ook vensterbanke binnenshuis vol aromatiese en romantiese hiasinte, en jy is halfpad hemel toe op aarde!

Al hierdie bolle kan in grond in houers of hidroponies (bo water op klippies) gekweek word, wat die woonstelbewoner geen verskoning gee om nie in die herfs 'n bietjie plantwerk te doen nie.

  • Kies potte met dreineergate en sit 'n laag klippies onderin. Maak die potte gedeeltelik vol potgrond tot ongeveer 10 cm van bo af.
  • Rangskik die bolle sowat 2 cm uitmekaar en gooi 'n bietjie potgrond om hulle voor hulle liggies heeltemal bedek word.
  • Plant die bolle met die punt na bo en bedek hulle met sowat 5 cm grond en 'n 2 cm-deklaag van mos of gemaalde bas. Die finale deklaag moet tot 'n paar sentimeter onder die potrand kom om te voorkom dat die pot oorloop wanneer dit natgemaak word.
  • Maak die potte dadelik nat en sit hulle in 'n skaduhoekie om wortel te skiet. Wees versigtig met natmaak omdat die grond nooit heeltemal moet uitdroog nie, maar ook nie heeltyd sopnat moet wees nie.
  • Sodra jy spruite bo die grond sien uitkom, sit hulle waar hulle 'n paar uur oggendson en 'n bietjie skadu in die namiddae sal kry.

Wat is fout?

As die bolle wat jy plant, nie blom nie, kan dit weens die volgende redes wees wat maklik reggestel kan word:

  • Te min water en grond wat uitdroog ná plant en die verwagte blomtyd. Die grond moet immer klam (maar nie sopnat nie!) gehou word. Groeiende bolle moet ook gereeld bemes word met bolkunsmis of wateroplosbare misstof; en
  • Bolle wat ná die blomtyd nie bemes word of genoeg water kry nie. Hulle moet versorg word totdat die blare heeltemal afgesterf het. Dit sorg dat die bol genoeg kos en energie kan stoor om in 'n volgende seisoen weer te blom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM