Huis + tuin

Praktiese plaveisel

Elva van Wyk van Stellenbosch wil ’n dor stuk grond waar sement gemeng is en wat net in die somer son kry, verfraai met tuinteëls en dan grassies tussenin plant. Sy het heelwat vrae, en ek antwoord elkeen afsonderlik.

1 Ek verstaan ’n mens moet eers ’n materiaal lê om te keer dat onkruid daar groei. Wat en hoe? Gebruik beslis Biddum, Weedguard of selfs Plantex onder die plaveisel – dit sal keer dat onkruidsade onder en tussen die stene ontkiem.

2 Die perseel het ’n effense helling – seker so 5 cm oor 6 m. Moet ek dit eers gelyk maak? Dis nie nodig nie, die val is baie klein.

3 Watter gras sou jy aanbeveel? All Seasons Evergreen of Kyotodwergmondogras werk goed tussen plaveistene.

4 Hoe ver van mekaar moet die teëls gelê word? Hou dit prakties, met ander woorde, lê dit so dat ’n mens gemaklik daaroor kan loop. Ek self verkies groot stene (sowat 500 x 500 mm) met 100 mm-openinge tussenin.

5 Moet ek voorkeur gee aan ’n bepaalde teël, en waar koop ’n mens tuinteëls? Kies ’n teël waarvan die kleurpigment dwarsdeur ingemeng is, dan sal dit nie krapmerke wys nie. Maak ook seker dat die stene nie glad is as dit nat word nie. Enige kwekery behoort jou hiermee te kan help.

6 Moet ek potgrond tussen die teëls inwerk? Hoe beter die grond, hoe gouer gaan die gras die openinge toegroei. Potgrond is dalk ’n wyse keuse, want ek vermoed dié area sal redelik bar wees.

7 Daar is bome wat redelik blare mors in die herfs. Kan ek dit met ’n tuinblaser netjies hou? Met ’n tuinblaser sal jy die blare maklik op ’n hoop kan blaas, vanwaar dit komposhoop toe kan gaan.

8 Die area grens aan ’n groterige stoep, daarom sal ons nie noodwendig daar sit nie. Sou klippies as alternatief vir gras gebruik kan word? (Ek sal wel die grassnyer daaroor moet stoot om by die agterste grasperk uit te kom.) Gruisklippies sal ook werk tussen die plaveistene, maar pasop vir klippies wat te fyn is en maklik weggeblaas kan word.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6159/2b7c8aeb86444ab798d8e348b2f6225a.jpg

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM