Huis + tuin

Skep ’n romantiese binnehoftuin

Tuinplan

  1. Blou irisse rondom fontein
  2. Gesnoeide heining agter fontein
  3. Groepe gesnoeide stokkielekkerbome met verskillende teksture en kleure
  4. 'n Franse bistro-tafeltjie of 'n vierkantige houttafel en stoel(e)
  5. Olyfbome
  6. Breë gruispaadjie wat met 'n staalrand in toom gehou word
  7. Pilaar-fontein met spuite en vierkantige opvangbak
  8. Potlood-konifere
  9. Laventelheining langs gruispaadjie
  10. Groepe grondbedekkers
  11. Roosboë met roes-afwerking

Die oplossing

Die eienaars droom van 'n romantiese tuin wat nie so formeel is nie en hul smaak en sak sal pas. Die volgende elemente is in 'n klein area van omtrent 5 x 5 m groot bymekaargevoeg om 'n Provensaalse gevoel te skep:

1. Fontein

Dit staan teen die muur en is die fokuspunt van die tuintjie. Die gemurmel van die vier spuite verleen 'n rustige atmosfeer.

2. Twee dubbele ysterboë

Vir rankrose bepaal die silhoeët van die tuin en stut die geurige pienk rose. Die boë skep ook die gevoel van 'n dak oor die tuin.

3. Plante

Laventel, roosmaryn, rankrose, olywe, sipresse, artisjokke en blou irisse pas almal by 'n Provensaalse tuin. Die Abelia- en Durantastruike wat rond en bont in die beddings geplant is, sal mettertyd in balvorm gesny word om hulle netjies te hou.

So maak jy

  • Meet die tuin op die grasperk af en spit die gras uit.
  • Hark die grond netjies gelyk en stamp dit vas.
  • Lei die elektriese kabel vir die fontein binne-in 'n PVC-omhulsel van die huis af na die nuwe tuin toe en begrawe dit onder die grasperk.
  • Maak die fontein se opvangbak agter in die middel van die tuin teen die muur staan.
  • Tel die fontein se swaar spuitpilaar op en sit dit in die opvangbak neer.
  • Skuif die fontein se pilaar tot mooi in die middel van die opvangbak.
  • Gebruik 'n glas water om te bepaal of die fontein presies gelyk staan.
  • Las en koppel die fontein se waterpype.
  • Lê die ysterrand waarin die paadjie se gruisklippies gegooi word, neer.
  • Sit die plante op hul regte plekke neer.
  • Installeer die boë en plant die plante. Voeg beenmeel en kompos by die grond.
  • Maak die fontein vol water. Gooi die gruis en hark die paadjie gelyk.
Lizette Jonker

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM