Huis + tuin

Skoonheid wat ook eetbaar is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om groente, vrugte, kruie en meerjarige blomme sommer deurmekaar te plant is niks nuut nie.

Inteendeel, dit word al eeue gedoen. Sommige meerjarige blomplante is eetbaar, ander lok goeie insekte soos bye en liewe­heersbesies en party is net bloot te mooi om nie te plant nie.

Maar hoekom sal tuiniers - veral met klein tuine - kosbare ruimte wat eerder vir kos gebruik kan word, opoffer vir blomme? Die meeste meerjariges wat hier aanbeveel word, is nie net mooi nie, hulle is ook veelsydig.

Hul blomme lok bestuiwers soos bye, skoenlappers en nektar-liewende voëls, en as 'n mens hulle toelaat om saad te skiet in die laatherfs is dit nog 'n vorm van kos vir voorstedelike natuurlewe in die winter.

Boonop lewer hulle pragtige snyblomme en sal selfs in die kleinste tuin 'n goeie oes blomme lewer.

Aangesien hulle nie giftig is nie, kan jy ook met hul blomme in die kombuis eksperimenteer.

Party het medisinale gebruike, sal plae afweer en kan selfs 'n komposhoop "aktiveer" om vinniger af te breek.

Bergamot
Bergamot

Bergamot

Die plant se loof is heerlik aromaties en die kranse buisvormige blomme wat die plant tydens die hoogsomer vorm, lok veral bye. Sowel die blomme as loof het 'n vrugtige geur wanneer dit fyngekap word en komplementeer vrugteslaaie en vrugtedranke. Monarda didyma "Balmy" is 'n kompakte reeks hibriede in skakerings van roos, lila en pers.

Duisendblad
Duisendblad

Duisendblad

Dié plant het 'n aromatiese, varingagtige loof en 'n massa plat blomhofies aan lang stele. Dit lok skoenlappers, lewer lieflike snyblomme en is boonop 'n goeie komposaktiveerder. Vra vir die kompakte hibriede van Achillea millefolium by jou plaaslike kwekery wat blomkleure soos wit, viooltjie en rooi sal insluit.

Agastache

Hierdie taai, lang blommende meerjarige plant het slanke blomritse en aromatiese blare. Die plant lewer fantastiese snyblomme en is ook broodnodig vir bestuiwers.

Mooi hibriede sluit in die Agastache "Kudos"-reeks met 'n netjiese groeiwyse en heuninggegeurde blomme in gloeiende kleure.

Agastache
Agastache
Keëlblom
Keëlblom

Keëlblom

Echinacea, of keëlblomme, is perfekte meerjariges om tussen gewasse te plant en sommer oral omdat hulle alle plante komplementeer. Hulle word hoog geag vir hulle medisinale waarde om immuunstelsels 'n hupstoot te gee. Die pragtige blomme aan lang stele hou lank in die vaas en die blomblare is eetbaar.

"Cheyenne Spirit" is 'n kampioenkeuse met groot blomme in helder skakerings van pers, rooi, pienk, oranje, geel en roomwit.

Daglelies

Hemerocallus-hibriede sal nooit uit die mode gaan nie, al hou die individuele lelieblomme net 'n dag.

Die plant se produktiwiteit vergoed egter vir sy wispelturigheid aangesien net een plant meer as 50 blomme van Oktober tot Mei kan lewer.

Die blomme is boonop eetbaar en kan gebruik word om skemerkelkies, slaaie en poedings mee te garneer.

Physostegia
Physostegia

Russiese salie

Benewens laventel en roosmaryn in jou kostuin, kan jy gerus ook Russiese salie byvoeg. Dit het 'n aromatiese silwer loof en klein, blou blommetjies aan lang, silwerkleurige stele. Hierdie is 'n bladwisselende plant wat entoesiasties deur bye besoek word. Die ritse delikate blommetjies is pragtig in gemengde snyblombosse.

Gaan soek na Perovskia atriplicifolia "Blue Steel", wat 'n mooi hibried is.

Physostegia

Plant dié aantreklike veldblom om bye en skoenlappers te lok.

Hy is gehard en verskaf pragtige kleur in die hoogsomer tot diepherfs. Die blomstele van Physostegia "Crystal Peak White" is dig aan goed vertakte plante en die spierwit blomme verkleur nie algaande bruin nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM