Hierdie plant met sy vlesige groen blare is goed vir die mens, dier, natuur, tuine en potte.

In ander lande gebruik mense een soort plant vir siersnoei en formele heinings (gewoonlik buksbome), ander soorte plante as spesimenboompies vir klein tuine, nog verskillendes as goeie grondbedekkers, en meer nog as permanente fokusplante vir groot houers. As hulle nog boonop hangmandjies in die somer wil plant, gebruik hulle doodgewone petunias. En hulle is maar immer op soek na mooi patioplante wat nie gereeld vervang hoef te word nie.
In Suid-Afrika weet ons mos daar is een baie spesiale inheemse plant (wat so stil-stil 'n befaamde reputasie wêreldwyd gekry het) wat ons sonder inspanning vir al hierdie gebruike kan inspan en wat boonop eetbaar ook is. Dis die spekboom (Portulacaria afra) met al sy goeie eienskappe en in al sy gedaantes.
Blitsgids
- Die spekboom, wat ook as olifantskos bekend staan, kom natuurlik voor in die oostelike somerreënstreke van die Oos-Kaap deur KwaZulu-Natal, Swaziland en Mpumalanga tot in Limpopo, en word ook aangetref in die Klein-Karoo.
- In 'n natuurlike habitat kan die spekboom tot 4 m hoog word, maar gekweekte plante is gewoonlik veel kleiner. Met gereelde snoeiwerk tot 'n enkelstam kan hulle in oulike boompies gevorm word.
- Dit het ronde of ovaalvormige lemmetjiegroen tot donkergroen vlesige blaartjies en rooierige of grys stingels met 'n blink bas wat mettertyd kurkagtig raak.
- Digte trosse pienk stervormige blommetjies verskyn teen die einde van die winter en is in volle blom in die lente en vroegsomer. Dis dan feestyd vir heuningbye, skoenlappers en ander nektarsoekers.
- Die verskillende kultivars van die spekboom wat ook goudgeel of bont blare het, grondbedekkers insluit, en kommersieel gekweek word, blom snoep of selde, maar dis nie 'n probleem nie, aangesien hul gewildheid lê in hul digte en spreidende groeiwyses en pragtige loofkleur wat hulle heeljaar aantreklik maak.
- Spekbome vereis min sorg, is uiterse verdraagsaam met droogte en het 'n uitstekende vermoë om koolstof te berg en dit in suurstof om te sit.
Kweekgebooie
Spekbome hou van warm, sonnige plekke en sanderige, skraal grond, maar sal ook in ligte skadu groei. Om welige plante te kweek, verryk die grond met goeie kompos en bemes met 'n organiese misstof in die somermaande. Gebruik potgrond van gehalte vir houers en gee hulle meer gereeld water, maar moet dit nie oordoen nie.
Dis maklik om in die lente meer plante van steggies te kweek. Laat die gesnyde steggies se oppervlakke eers 'n paar dae uitdroog voor dit direk in oop grond of in 'n kissie vol klam riviersand geplant word.
Plantplanne
Gewone spekbome is uiters veelsydig. Jy kan hulle in 'n rotstuin, sypaadjietuin of in potte as enkelstruike gebruik en bloot toelaat om hul natuurlike groeiwyse uit te leef.
Hulle kan egter ook formeel gesnoei word in die vorm van lae heinings, skerms en ook in ander siersnoeivorms. Bonsai-kwekers gebruik baie graag die spekboom om sierlike boompies te kweek.
Daar is spekboomkultivars met opvallende ander groeivorms:
- Prostrata is 'n vinniggroeiende grondbedekker met 'n kruipende of hangende groeiwyse en is veral nuttig om grond te stabiliseer met 'n breedte van 1-2 m. Die blaartjies is heldergroen en glansend en die plant is ook ideaal om in hangmandjies te gebruik.
- Aurea is ook 'n grondbedekker met heldergeel blare en word aanbeveel om in informele groepe te plant. Dit groei stadiger as die gewone spekboom, het 'n hoogte van ongeveer 30-50 cm en 'n spreidende groeiwyse. Die blaartjies is heldergeel aan rooierige stele. Plant dit in volson om die helder loofkleur uit te bring.
- Twee ander kultivars is Limpopo met groot vlesige blare en dik karaktervolle stamme wanneer volwasse, en Variegata, 'n stadige groeier met aantreklike room en groen blare aan rooierige stele.
Bonuspunte
Diere soos skilpaaie, wildsbokke, vee en olifante vreet graag heeljaar aan die blare. Hoewel dit 'n suur smaak het, is die rou blare ook vir die mens voedsaam en eetbaar. Dit les die dors en help teen sonsteek en ontwatering wanneer dit gesuig word. Daarby het die blaarsap talle medisinale gebruike, soos om 'n seer keel te verlig as dit gekou word, of inseksteke, uitslag en sonbrand te behandel as dit op die vel aangewend word.














