Huis + tuin

Speel met lugplante

Hulle lyk dalk vreemd, kort nie grond om te groei nie en jy kan lekker met die plante rondspeel, al het jy beperkte ruimte.

'n Mooi aardstertuintjie in 'n stuk dryfhout - net die ding om jou kuierplek 'n bietjie interessantheid te gee.
'n Mooi aardstertuintjie in 'n stuk dryfhout - net die ding om jou kuierplek 'n bietjie interessantheid te gee.

Moeder Natuur het wonderlike plante geskep wat sonder hoogtevrees groei in enorme reënwoude se blaredakke.

Hul lugwortels haal vog en voedingstowwe uit die atmosfeer en bewortel hulself stewig aan 'n boom, sonder om inbreuk op hul gasheer te maak.

Hulle word epifiete genoem en as ons hul groeitoestande kan namaak, kan ons bromelias, lugplante, orgidees en talle varing­soorte op ou verweerde stompe tuis maak.

Tuiniers lief dit om met vreemde en ongewone plante te eksperimenteer, en met die plante hoef jy nie eens te spit of sweet nie. Sleep 'n ou boomstomp of mooi stuk hout nader, en "plant" na hartelus.

Vaardige varings

Die voëlnesvaring (Asplenium nidus), met leeragtige blare en 'n gesonde heldergroen glans, en die gewone takbokvaring (Platycerium bifurcatum), waarvan die blare, soos sy naam aandui, soos takbokhorings lyk, werk uitstekend om stewige stukke bas te versier. Jy kan hulle selfs in van jou bome laat groei.

Maak só:

  • Haal die plant uit sy pot en skud die meeste grond liggies af.
  • Sit dit op 'n stuk skadudoek of voëlnet.
  • Pak stukkies bloemiste-mos of palmveen onderom die plant en maak alles saam in 'n bal vas met vislyn of kabelbinders. Die net hou alles bymekaar terwyl die plant groei.
  • Gebruik nog vislyn of kabelbinders om die hele pakkie in die mik van 'n boom, 'n stomp, of 'n stuk bas vas te bind.
  • Plaas of hang jou skeppings op 'n warm en beskutte plek met goeie lig (soos 'n braai- of sonkamer of stoep). Dit kan selfs buite in die tuin in ligte skaduwee aard. Hou die groei-omgewing klam deur die plant gereeld met 'n fyn missproei te deurweek.

Sodra die plante goed gevestig is, kan die vislyn of kabelbinders afgesny word. Die voëlnesvaring sal dik ankerwortels maak en die takbokvaring se steriele blare sal in 'n kits 'n dekskild oor sy wortels vorm. Albei sal op hul plek bly. Die plante word by goeie kwekerye se huisplant-afdelings verkoop waar hulle in grond in potte groei - maar die grond is net daar om hulle te anker. Takbokvarings word soms reeds op 'n stuk bas of hout gemonteer - jy hoef dit net op die regte plek op te hang.

Aardsterre in 'n stomp

Cryptanthus-spesies, ook bekend as aardsterre, is lede van die uitgebreide bromelia-familie.

Hulle lyk soos sterre wat geval het met gestreepte, golwende blare wat eindig in skerp punte. Die blaarkleure kan wissel van heldergroen, pienk en vuurrooi tot amper swart afhangende van die spesie en groeitoestande.

Hulle is gesogte huisplante wat in gewone plantpotte sal groei, maar ook in terrariums of in die holte van 'n stuk dryfhout. Hoewel hulle lugplante is, sal hulle soos baie ander bromelias ook in 'n grondmedium groei.

Maak só:

  • Vul die holte van jou dryfhout met 'n bietjie kommersiële orgidee-potgrond (beskikbaar by kwekerye en huiswinkels). Dit word spesiaal geformuleer as groeimedium vir orgideë, wat ook epifities is.
  • Gebruik 'n stokkie om 'n klein holtetjie in die mengsel te maak, plant elke aardster en druk die grond rondom hulle vas.
  • Volg dit op met 'n deklaag van mos of basstukkies wat dit mooi afrond en ook sal help om die vogtigheid in die omgewing te behou.
  • Stof ongewenste grond af met 'n klein kwassie en maak gereeld nat met missproei nadat jy dit geplant het.

Basiese nasorg

Hou aardsterre op 'n helder verligte plek in die huis of op die stoep, maar vermy direkte sonlig op die blare.

Hou hulle klam met missproei op warm dae en verminder water in die winter.

Voed jou aardstertuintjie maandeliks in die somer met 'n wateroplosbare plantvoedsel.

Wetenswaardig

Aardsterre is nes ander bromelias eenmaalbloeiend van aard. Die moederroset sterf as sy klaar geblom het.

Sy maak op hiervoor deur talle klein lopertjies te maak wat verwyder kan word soos hulle 'n bietjie lyf bykry, en wat jy dan kan oorplant.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM