Plant vandeesmaand inheemse bome en plante, asook groente en kruie.
Regdeur jou tuin:
* Hou jou lentetuin so lank moontlik mooi deur jou plante gereeld kos te gee en dooie blomme te verwyder.
* Lente is die tyd wanneer plante nuwe lote en loof vorm, daarom moet alle jong bome, struike en klimplante so spoedig moontlik uitgeplant word.
* Houerplante het gevestigde wortelstelsels, daarom is dit vir hulle so 'n groot skok wanneer hulle oorgeplant nie. Die wortels mag dalk effens saamgekoek wees en moet daarom liggies losgemaak word om nuwe wortelgroei aan te moedig.
* As jy ’n sonnige skuinste of rotstuin het, plant droogtebestande bokbaaivygies wat vinnig blomtapyte en golwe van pienk, oranje, geel, purperrooi en pers sal vorm.
* Plant knol-dahlias wat regdeur die somer sal blom. Hulle het komposryke grond nodig wat met ’n algemene misstof en ’n hand vol superfosfaat per gat gemeng is. Druk stutte in die grond nadat jy die bolle geplant het sodat jy dit nie later beskadig nie.
* Berei die grond voor vir somerbolle: Spit die grond om, breek klonte op, en werk kompos en ’n hand vol superfosfaat per vierkante meter in. Plant Liliums, aronskelke, dahlias, soetamalings, pynappelblomme en Galtonias. Knolagtige Begonias en Achimenes is uitstekende opsies vir hangmandjies.
* Waar tuinspasie beperk is, laat tamaties, rankboontjies en komkommers teen wigwams of tralies oprank, met grasuie, tiemie en basilie daaronder. Saai gereeld stamboontjies om die oestyd te verleng.
* Saai slaai elke twee weke sodat daar die heeltyd ’n voorraad jong blaartjies is. Gooi strooi tussen die rye om vog in die grond te behou, onkruid se groei te stuit en te keer dat modder op die blare spat. Maak groente goed nat in droë weer.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6159/7f1511f331e741bdadebd4c2d635b1cf.jpg













