Huis + tuin

Vakansieverhuring

As jy jou eiendom vir die vakansie verhuur, moet jy vooraf met die agent (of huurders, as jy self die transaksie behartig) ooreenkom wie bedlinne,  badhanddoeke en strandhanddoeke verskaf.

Eers was dit hoofsaaklik kusdorpe en -stede waar mense ’n stewige inkomste uit vakansieverhuring kon verdien – in so ’n mate dat baie van die plaaslike inwoners die pad vat en hulle eie huis aan vakansiegangers verhuur.

KunstefeesteAfrikaners is inderdaad plesieriger as ooit tevore. Plekke soos Oudtshoorn, Grahamstad, Potchefstroom, Vredendal, Knysna en Nelspruit lok elke jaar duisende mense van heinde en ver vir kuns en kultuur, braaivleis en bier, of hulle eie kombinasies van dié vier. Susan Maree van Kango-eiendomme sê baie mense op Oudtshoorn trek tydens die fees heeltemal uit hulle huis óf verhuur ’n deel daarvan. Sy raai huiseienaars op feesdorpe aan om hulle verhuring deur die amptelike feeskantoor te laat behartig. Dit beskerm huurders én verhuurders in ’n mate teen onetiese praktyke. “Die feeskantoor het vaste reëls wat nagekom moet word, soos hoe die blyplek ingerig moet wees. Tente, woonwaens en matrasse in die tuin is uit, en daar is ook reëls oor hoeveel mense in ’n eiendom mag bly. Die feeskantoor hanteer ook klagtes namens eienaars.” Diegene wat verkies om privaat te verhuur bespaar dalk ’n paar rand aan kommissie, maar hulle het nie ’n amptelike kanaal vir klagtes nie.

KuseiendomMinstens twee keer per jaar – oor die Kersseisoen en die Paasvakansie – verander die atmosfeer op stil kusdorpe dramaties wanneer groot viertrekvoertuie, gesinsmotors en Ventersleepwaens die strate oorneem. Dis presies wanneer die rustige siele van dié dorpe self die pad vat – en ’n hele paar rand verdien deur hulle eie huis te verhuur. Ook in ons kusstede is dié manier van verhuring net so ’n aantreklike moontlikheid. Woonstelle in die Kaapse Waterfront word vir tot R6 000 per dag verhuur, na gelang van die seisoen. Op dorpe soos St. Francisbaai in die Oos-Kaap en Plettenbergbaai, die vakansiespeelplekke van die rykes en beroemdes, kry huiseienaars tussen R500 en R6 000 per dag. ’n Mens moet goed nadink voordat jy besluit om jou eie blyplek te verhuur. Besluit eers waar jy vir dié tydperk ’n heenkome gaan vind – dis nie goeie maniere om by die binnelandse familie af te pak en te spog met die ekstra R40 000 wat jy in jou sak gaan hê nie. As jy byvoorbeeld oorsee gaan, moet daar iemand naby jou eiendom wees wat kan spring as die geiser dalk bars. (Dis waar betroubare eiendomsagente goud werd is.)

Waar kry ek huurders?Merle Peens van Alva Merle Estates op St. Francisbaai raai huiseienaars aan om ’n agent te gebruik as hulle hulle eie huis vir die vakansie wil verhuur. “ ’n Private transaksie het sekere risiko’s – vir die huurder én verhuurder. Agente weet hoe om huurders te keur en stel ook standaarde waaraan die eiendom moet voldoen,” sê sy. Volgens Merle laat haar agentskap glad nie toe dat die eienaars op die perseel bly terwyl die blyplek verhuur word nie. Sy sê dis ’n goeie plan om, indien moontlik, jou huishulp se dienste vir die huurders aan te bied: “ ’n Huishulp kan jou oë en ore wees en jou inlig as die huurders nie goed na die eiendom omsien nie.” ’n Mens kan ook jou eiendom by jou dorp se toeristekantoor registreer.

Daar’s nadele ook…• Vreemdelinge neem jou blyplek heeltemal oor en het toegang tot elke hoekie en gaatjie in jou huis.• Jy en jou troeteldiere moet ’n ander heenkome kry vir dié tydperk.• Jou klere- en badkamerkaste moet leeggemaak word.• Waardevolle items moet op ’n veilige plek gebêre word.• In die feesseisoen, veral op aande soos Oujaarsaand, brand die vreugdesvure dikwels besonder hoog… só hoog dat jy dalk nie jou huis herken as jy middel Januarie die voordeur oopsluit nie.

Bou ’n goeie verhoudingVakansiegangers keer jaar ná jaar na dieselfde huureiendom terug as hulle lekker gebly het. Hulle bou ’n goeie verhouding met die agent of verhuurder op, en die huiseienaars het weer die gemoedsrus dat hulle plek in goeie hande is. Boonop sal gelukkige huurders jou eiendom by hulle vriende aanbeveel. Dit is dus lonend om hulle verblyf so aangenaam as moontlik te maak. En vir die geld wat hulle moet betaal, is dit waarop hulle geregtig is. ’n Tuis-leser (sy wil nie haar eie of die dorp se naam noem nie) vertel sy sal nooit weer op ’n private advertensie vir kusblyplek reageer nie. Nadat haar seevakansie een jaar heeltemal bederf is deur ’n onaangename “ekstra” by hulle peperduurhuurhuis, werk sy nou net deur ’n agent. “Ons het op ’n koerantadvertensie gereageer en gedink ons speel veilig deur e-posfoto’s te vra. Ons is van die binneland en die see-uitsig het ons asem weggeslaan. Ons het die deposito betaal en die slapies begin tel. Toe ons opdaag, was alles nes ons verwag het en die uitsig selfs mooier as op die foto’s. “Die grootste – en nare – verrassing was egter die woonwa in die agterplaas met die eienaars, hulle twee kinders en selfs ’n papegaai. Elke keer as ons uitgegaan het, het ek ’n gevoel gekry die mense is in die huis. As ons op die stoep gesit het, kon ek voel hoe ons dopgehou word. “Ons werk heeljaar hard en het maande lank vir ons vakansie gespaar en daarna uitgesien. Die spulletjie in die agterplaas het dit vir ons bederf.”

’n Kuierplek met ’n dak is ’n pluspunt as jy jou huis aan vakansiegangers wil verhuur. Die stoele is van balauhout, wat besonder geskik is vir die buitelug omdat dit sterk en weerbestand is. Wees op die uitkyk vir soortgelykes by De La Rey asook Indofurn (Wes-Kaap) en Livingstones (Johannesburg).

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6145/1059ab022d3d464ba7ef9491c8082df7.jpg

’n Kuseiendom met ’n mooi uitsig wat binne én buite geniet kan word, kan vir etlike honderde rand per dag verhuur word.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6145/a7d4a1c3e59a442fbb2a00ab5fa23863.jpg

’n Rietdak sorg vir koelte op dié stoep, terwyl goedgeplaaste buiteligte dit moontlik maak om die ruimte ook saans te geniet (probeer Eurolux in Johannesburg of Eagle Lighting in Kaapstad vir ’n verskeidenheid).

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6145/9526aa1659f24ecf99543eac21728d0e.jpg

admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM