
https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6155/5bbeca4c81ec4448a40f0acd3b86d0a2.jpg
Knap muurpapier
Hul statige 91 jaar oue huis in die lowerryke Morningside in Durban is waar dié Hindu-gesin verkies om die feestyd deur te bring. Met sy lieflike uitsig op die see straal die huis heeljaar ’n vakansiegevoel uit en dit vorm dus die perfekte agtergrond vir feestelike okkasies wanneer hulle graag vriende oornooi. Die vakansieseisoen is die gesin se gunstelingtyd van die jaar, veral omdat hul seun, wat in Praag studeer, dan tuis is.
Chirjeev en haar man, Sirgie, is albei mediese dokters, maar Chirjeev leef ook haar flair en
passie vir goeie linne en antieke goed uit in haar winkel, Dastakari, in Durban. Gedurende haar kinderjare in Indië het sy onder die invloed van haar gesin en vriende vroeg al ’n liefde vir mooi meubels en dekor aangekweek.
Chirjeev se smaak is klassiek dog informeel en oor die jare het sy asemrowende vintageen antieke stukke, waaronder ’n uitsonderlike versameling blou Spode-beenporselein, versamel. Laasgenoemde lyk net soos Delft, maar het in die 1700’s in Engeland ontstaan.
Vanjaar trakteer Chirjeev ’n paar vriendinne en hul dogters, asook haar eie Kavya, op ’n
feesmaal in die kleine.
Die vrolikheid word ingelui met keurige versnaperings op die veranda. Dis ’n redelik onlangse toevoeging tot die agterkant van die huis en word deur oopswaaideure uit die kombuis bereik.













