Produksie Marian van Wyk en Sven Alberding
Oop en toe
Die kunstenaar Vicky Zigras woon in 'n enkelwoonstel net 'n paar treë van die Seepuntse promenade in Kaapstad.
"Dis 'n piepklein plekkie, skaars 36m², maar omdat dit L-vormig is, kon ek maklik die slaap- en die leefdeel van mekaar skei!" -Vicky
"My suster Nikki is 'n binne-ontwerper en sy het voorgestel ons doen dit deur 'n ‘muur' te bou met rakke waarop ek al my plante en ornamente kan uitstal, en al die oninteressante gebruiksartikels agter toe deure aan die onderkant kan wegsteek. Dis 'n oplossing wat nie veel vloerruimte in beslag sou neem nie."
Deure wat in die kabinetstruktuur wegskuif laat 'n oorvloed lig in wanneer dit oopstaan, maar sodra dit sagkens toeskuif verander die ruimte in 'n knus en rustige slaapkamer. "Ek het 'n eklektiese mengsel van handgemaakte, massavervaardigde en vintage-artikels. Ter wille van 'n vars en ligte gevoel het ek die mure eenvoudig gehou en kleur en lewe ingebring met dit wat ek uitstal.
"Die sitkamer maak op 'n klein tuin oop en ek het dit as ‘lewende inspirasie' vir my binneruimte gebruik. My kleure is hoofsaaklik blou en groen, met spatsels heldergeel om die sonskyn in te bring," sê Vicky.
Ontwerp deur Nikki Zigras van Studio Do Cabo; skrynwerk deur Wilson Chirikumarara; linne-duvetsloop van H&M Home; bamboesleer van Brightfields; Octopus-bak van Jeanette Thomas Ceramics; keramiekplantpotte van Urchin Art; blou keramiekmelkbeker en -vaas van Mervyn Gers Ceramics

Op 'n ligter trant
Die Groot-Karoo het Marc Watson en James Moffatt gelok weens die eenvoudiger leefstyl wat dit bied. Toe hulle in Nieu-Bethesda verlief raak op die fasade van 'n erfenis-huisie, het hulle die eiendom gekoop. Binne was alles waarvan hulle gedrom het: oorspronklike houtvloere, hoë plafonne en dik mure. Al probleem was die min lig.
Karoo-huise het meestal klein vensters en hortjies vir klimaatbeheer, en die enigste ding wat Marc en James wou verander, was om die vensters en deure te vergroot. Die biblioteek, voorheen 'n kantoor, was donker en dit het kopkrap gekos om die uitleg presies reg te kry. Hulle het 'n venster ingesit en 'n ryklik versierde spieël teen die teenoorstaande muur bo die boekrak gehang - en so as't ware die hoeveelheid lig in die vertrek verdubbel.
"Dis die beste vertrek vir 'n middagslapie," sê Marc.

Hout spel woud
Die mode-ontwerper Jenni Button se huis in Houtbaai, Kaapstad, is 'n groot ateljeetipe ruimte teen 'n berghang. Dis omring deur die natuur, en verryk met klip, ontblote baksteenmure en ruwe houtvloere. Jenni spot dat daar heelparty "Fred Flintstone"-elemente in die huis was toe sy dit gekoop het, en haar eerste fokus was om die uiteenlopende elemente van die dubbelvlakgebou bymekaar te bring met 'n klipgrys palet deurgaans - en natuurlik orde te skep in die groot tuin, wat die meeste van haar tyd in beslag geneem het.
"Dit was altyd my droom om 'n solder in die New Yorkse styl in 'n woudomgewing te hê, maar ek sou nooit kon dink dis moontlik nie," sê Jenni.
Onder die betontrap uit die leefruimte na die tussenvloer, waar Jenni se slaapkamer en suite is, is 'n treffende staalstruktuur met kubusvormige rakke. Dis gevul met houtstompe van verskillende groottes, wat die kubusse 'n beeldende karakter laat aanneem. Die hout is ook 'n skakel met die natuur en dien as brandstof vir 'n groot kaggel op die grondvloer.
VERSKAFFERS EN KONTAKTE
Brightfields 021 448 8548, brightfields.co.za
H&M Home 0860 690 707, hm.com/za
Jeanette Thomas Ceramics instagram.com/jeannette_thomas_ceramics
Klooftique klooftique.com
Mervyn Gers Ceramics mervyngers.com
Old Johannesburg Warehouse Auctioneers oldjwauctioneers.com
Rowley & Hughes rowleyandhughes.co.za
Studio Do Cabo 063 161 8578, studiodocabo.com
Urchin Art urchinart.co.za
Weylandts weylandts.co.za
Wilson Chirikumarara 078 314 9546, wchirikumarara@gmail.com















