Foto's Karl Rogers/vignette.agency Produksie Natalie Boruvka
Dubbelspel!

Dié ontbythoekie in die kombuis van die skilder Alice Toich se huis is gevul met sentiment en mooi herinneringe danksy 'n vergrote afdruk op materiaal van 'n foto wat by haar ouers se troue geneem is.
"Ek spot altyd en sê dis ‘Photoshop voor Photoshop', want as jy vinnig kyk, sal jy dink jy sien dubbel. Albei my ouers is een van 'n identiese tweeling, en my oom en tante - my ouers se broer en suster onderskeidelik - is op dieselfde dag in eenderse pakke en rokke in die Pretoriase stadsaal getroud. Ek moes al so baie my familie vir mense uitlê, nou kan ek sommer net na die muurbehangsel wys as ons tee drink!" sê Alice en lag.
"Die muurbehangsel is op katoen gedruk; dit was deel van die dekor op my eie troue en is 'n lieflike herinnering aan al twee heuglike dae! Ek is gek oor dié foto en wou dit op 'n opsigtelike plek gebruik, toe kap ek dit eenvoudig teen die muur vas nadat ons hier ingetrek het."
Haar ou laai

Die kombuis is vir Alice, 'n kranige bakker wat in 2015 aan The Great South African Bake Off deelgeneem het, 'n hartsplek. Sy en haar man, Julz, het twee weke voordat die Covid-19-inperking aangekondig is, by hul huis in Mowbray ingetrek. Toe het die kombuis reeds 'n sagte blou spatvlak gehad en die dennehoutkaste was in 'n goeie toestand. Die ruimte het nogtans 'n regruk gekort, en meer pakplek.
"Outydse kramerykaste het nog altyd my oog gevang met al daardie wonderlike laaitjies vir allerhande losgoed," sê Alice.
"Ek koop graag vintage-bakware en het te veel goed wat elk hul eie plek nodig het, maar die kombuis was te smal vir 'n gewone eiland. "Nadat die inperking verslap is, het ek op Facebook Marketplace begin soek na so 'n kramerykas. Toe ek dié een op Malmesbury vind by 'n kafee wat moes toemaak, het ek dit dadelik gekoop!"
Alice en Julz het die eikehoutkas afgeskuur tot al die vernis verwyder was, en dit toe geseël met helder vernis. "Ek het ook al die stukkende handvatsels vervang met nuwe koper-handgrepe, en toe die kante wit geverf met emaljeverf. Sedertdien is dit die fokuspunt van ons kombuis." Alice was ook die baasbrein agter die oop rakke bo die wasbak en die blou mosaïekteëls.
"Ek het presies geweet wat ek wou hê: Die rakke moes oop wees, met 'n lippie wat keer dat goed afglip, en daaronder 'n goudkleurige reling waaraan ek vatlappe en ander kombuistoerusting kon hang."
"Nadat ek die mate geneem het, het ek die hout daarvolgens laat saag. Vir die lip is 'n prentlys onderstebo gebruik. Ek het als aanmekaargesit met houtlym en skroewe, en toe die rak wit geverf met emaljeverf. Dis aan die bokant met sterk metaal-rakstutte vasgesit.
"Die goudkleurige staaf is eintlik 'n gordynreling. Ek is gek na dié rak. Dit is perfek in elke opsig!"

VERSKAFFER & KONTAKTE
Crazy Wire Crafts crazy-wire-craft.business.site
Lucie de Moyencourt luciedemoyencourt.com
















