Met hul sterk grysgroen blare, getande rande en vorstelike houding kan jy nie aalwyne miskyk nie. Hulle is ideale plante vir moderne en stylvolle tuine jeens hul treffende, argitektoniese voorkoms. Hulle is ook droogtebestand en taai, wat hulle maklik maak om in stand te hou.
Wanneer hulle eers gevestig is, is aalwyne volhardende, byna onvernietigbare plante. Met die regte sorg kan hulle in enige omstandige floreer, van klam en subtropies tot hard en droog.

Gunstige toestande
Aalwyne groei die beste in helder lig, maar nie noodwendig direkte, volson nie. Jong plante verkies ligte, spikkelskadu. As plante te veel son kry, word hul blare donkergroen tot rooibruin.
Plant aalwyne in grond wat goed dreineer. Beteuel jouself in die winter met die tuinslang, te veel water in die kouer maande veroorsaak wortel- en stamvrot.
Gee wel gereeld water gedurende hul groeiseisoen.
Oorhoofse natmaak is die beste omdat dit stof wegspoel en blare skoon hou.
Kleiner variëteite en jonger, kleiner plante moet meer gereeld natgemaak word omdat hulle nie soveel water stoor as hul groter, volwasse eweknieë nie.
Pleks van giftige plaagbeheer, gebruik organiese of nieskadelike insekdoders of bio-plaagbeheer om lastige snuitkewers, plant- en witluise te stuit.
Verwyder witdopluis deur dit met 'n sterk straal water te spuit.
Jy kan ook jou eie afweermiddel maak deur 5 ml neem-olie (beskikbaar by Dis-Chem en talle Indiër-winkels) met 2 ml skottelgoedseep en 1 liter water in 'n spuitbottel te meng. Spuit mildelik aan aalwyne en herhaal nadat dit gereën het.

Voëls en ander metgeselle
In die winter is aalwynblomme 'n waardevolle bron van nektar vir suikerbekkies en bestuiwende insekte. Aloe marlothii (bergaalwyn), Aloe castanea (katstertaalwyn), Aloe spicata (Lebombo-aalwyn) en Aloe mutabalis (Bloukransaalwyn) het almal 'n besonder hoë nektarinhoud.
Aalwyne meng goed met ander plante wat droogte kan verduur, soos adamsnaalde (yuccas), vlasse, drakebome (cordyline) en ornamentele grasse. Vir bykomende kleur of vir 'n sagter kontras kan ook met waterslim eenjarige en meerjarige plante gepas word.
Osteospermum (madeliefies), vincas (kanniedoods), pelargoniums (malvas), bulbine (kompasplant), wilde knoffel, Geranium incanum (vrouebossie), gazanias (gousblomme), Felicia bergeriana (visvangermadeliefie), Plectranthus neochilus (rotstuinsalie) en Carissa macrocarpa (groot noem-noem), is goeie pasmaats.Aalwyne vir beginners
Aloe arborescens (kransaalwyn) word die meeste gekweek. In die winter produseer dit kandelare van rooi, oranje of geel blomme.
Die plant kan dig en struikagtig of meer boomagtig voorkom.
'n Ander gewilde aalwyn is Aloe marlothii (bergaalwyn), wat tot 4 m hoog kan word. Dit is 'n enkelstammige aalwyn en produseer groot blomkandelare met van oranje en geel blompunte. Dit groei die beste in warm Bosveldstruike en rypbeskutte tuine.
Aloe ferox (bitteraalwyn), oorspronklik inheems tot die Karoo, is ook gewild vanweë die skouspelagtige regop aartjies van helder, vlamkleurige blomme wat soos kerse lyk. Dit is 'n uitstekende aksentplant.
Aloe barberae (boomaalwyn) is 'n majestueuse reus en die enkelstammige boom kan tot 15 m hoog groei. Die salmpienk tot rooskleurige rooi blomme is boonop ryk aan nektar en 'n goeie vormplant vir jou tuin. Dit groei in grond met swak dreinering.
Klein tuine en huisplante
Aalwyne is veelsydig, of jy nou 'n landgoed van 'n tuin het, 'n balkon of klein erfie in 'n meenthuiskompleks.
Vir laasgenoemde vaar hulle goed in houers. Maak net seker dat die pot se grootte effens groter as die finale blomgrootte van die plant en sy wortelstelsel is. Plaas binnenshuise plante op 'n plek waar hulle helder lig maar nie direkte son ontvang nie.
Goeie ventilering en redelike humiditeit sal ook die plant bevoordeel. Hou die blare skoon deur dit af en toe met 'n nat lap af te vee en voed maandeliks met seewierekstrak gedurende die groeiseisoen. Verplant die aalwyne wanneer die wortels deur die dreineringsgate begin groei.














