Dit hoef nie 'n plaas se prys te kos om jou binnenshuise versiering stylvol, gesofistikeerd en duur te laat lyk nie.

Dit is 'n kuns om die binneversiering van jou huis duur te laat lyk sonder dat dit duur kos. Maar dis makliker as wat jy dink. Nes jy nie duur handelsmerke soos Gucci van kop tot toon hoef te dra om elegant te lyk nie, net so hoef jy nie jou hele huis uit Weylandts of Ardmore te meubileer en te versier om 'n gesofistikeerde voorkoms te skep nie. Die truuk is om duur en bekostigbare dekor op so 'n slim manier te meng dat dit lyk asof alles in jou huis uit uitsoekwinkels kom. Volg dié wenke om elke vertrek in jou huis luuks te laat voel sonder om jou bankbalans te laat bewe:

Luuks en prakties
Jou hoofslaapkamer moet soos 'n hawe voel waar jy kan ontspan en herlaai. Belê eerstens in 'n bed en matras van hoë gehalte. As jy hier afskeep, gaan jou rug en welstand die prys betaal. Betaal dus wat jy moet om jouself 'n goeie nagrus te waarborg, maar sorg dat dié belegging klassiek en tydloos is. Jy wil nie oor 'n paar jaar 'n nuwe bed moet koop omdat jy vir 'n vlietende modegier geval het nie. Nog iets waarin jy gerus kan belê is goeie linne. Goedkoop linne gaan jou laat sweet of laat koud kry en ook baie vinnig lelik lyk.
Bespaar op jou bedkassies en bedlampies. Solank dit goed werk, hoef dit geensins duur te wees of 'n ontwerpersnaam te dra nie. Jy kan ook spaar met versierings en dekor. Niemand gaan weet of daardie waterverflelies teen die muur oorspronklik is of afdrukke in Mr Price-rame nie. Wees ook op die uitkyk vir winskope wanneer jy strooikussings, ottomans en ekstra komberse en dekens koop om jou kamer af te rond.
Elegant en funksioneel
As jy slim te werk gaan, kan jy jou badkamer in 'n oase omskep sonder om te veel geld te bestee. Hier kan jy belê in artikels soos jou bad, wasbak en krane. Dit moet 'n leeftyd hou en kan nie van swak gehalte wees nie.
Waar jy egter kan spaar, is met die spieëls, die dekor, wasgoedmandjie, kaste, die beligting en die sagte versierings soos die badkamermatjies. Moet egter nie die handdoeke afskeep nie. Goedkoop handdoeke gaan soos skuurpapier voel en baie vinnig verflenter raak.
Die hart van die huis
'n Basiese kombuis kan peperduur wees. Jy sal dus hier versigtig en slim te werk moet gaan. Belê in die oond en stoof, die kaste en die toonbanke, want jy gaan dit nie binnekort wil vervang nie. Pasop egter vir foefies, giere en oormatig duur handelsmerke. Jy kan 'n goeie, duursame stoof en oond koop wat jou lewenslank sal hou sonder dat dit die nuutste, spoggerigste Franse model hoef te wees.
Volg dieselfde benadering met jou toestelle. Koop gehalte, maar stuur weg van giere. Jou ketel en broodrooster hoef nie 'n uitspattige naam op te hê om soggens vir 'n lekker, warm ontbyt te sorg nie.
Bring die winskope in met bekostigbare, oop rakkies, bekers en ander breekware. Rond die prentjie af met mooi maar goedkoop vadoeke, vatlappe, voorskote en potplante.
Gemaklik en stylvol
Hier moet jy jouself werklik uitleef, want jou leefvertrek moet jou persoonlikheid en smaak weerspieël. Koop eerstens 'n goeie rusbank. Nie net gaan jy elke aand hierop lê nie, maar dit gaan ook die vertrek se fokuspunt wees. Kies 'n tydlose, klassieke styl in 'n neutrale kleur, tensy jy oortuig is jy gaan oor 40 jaar steeds verlief wees op daai lemmetjiegroen fluweel . . .
Bespaar op jou koffietafel, kanttafeltjies en leunstoele. Dié kan jy alles tweedehands op plekke soos Facebook Marketplace aanskaf of bekostigbare, lieflike antieke stukke kry. Nie net sal dit jou derduisende rande bespaar nie, maar dit sal ook heelwat karakter aan jou vertrek verleen.
As jy ná al hierdie aankope nog 'n paar rand in jou beursie het, belê gerus in 'n oorspronklike kunswerk of handgemaakte Persiese mat. Jy sal dit waarskynlik oor tien of 20 jaar vir heelwat meer kan verkoop as wat jy daarvoor betaal het.
Bekostigbare luuksheid
Jou stoep is 'n verlenging van jou huis - moet dus nie hier afskeep nie. Tweedehandse tuinstelle en stoepstelle is volop en kos dikwels 'n fraksie van wat 'n nuwe stel kos. Wees veral op die uitkyk vir daardie winskope wat jy met 'n bietjie skuurpapier en vernis in 'n blinknuwe pragstuk kan omskep. Voeg 'n paar bekostigbare potplante by.
Belê dan in duursame buitekussings en dekens wat die wind en weer kan deurstaan. 'n Mens kry deesdae wonderlike materiaal met vrolike, helder motiewe wat jare lank dag in en dag uit in die son kan staan sonder dat die kleure vervaag of verdof.
En voilà, 'n bekostigbare buite-oase!
- Nicholls is die stigter en uitvoerende hoof van diygirls.co.za.




















