Paasfees is verby; dit beteken dis tyd om bolle te plant. Beplan nou jou lentetuin en pluk oor 'n paar maande die vrugte van jou herfsarbeid.

'n Bossie affodille, 'n geurige freesia of die delftsblou van Nederlandse irisse. Lenteblombolle bring 'n magiese gevoel aan jou lentetuin wanneer hy uit sy winterslaap ontwaak.
Kleurterapeute meen kleur in die natuur is een van die kragtigste maniere om ons gemoedstoestand te lig.
Omdat die blomme van die bolle so kleurryk is - wat jy op die verpakking sien, is waarlik wat jy kry - bring dit nuwe energie en lewe na die tuin ná die winter se somberheid.
Die tweede "terapeutiese" faset van blombolle is hul geur, veral dié van freesias, hiasinte en affodille. 'n Enkele hiasint of 'n bak "Paper White"-narsings sal 'n leefruimte met delikate geure vul. Dit is nie toevallig dat feng shui-praktisyns glo affodille en ander blombolle bring voorspoed na jou huis nie.

Doen eers 'n inventaris
Voordat jy bolle koop, stap eers 'n draai deur jou tuin en kyk hoe jy bolle vir maksimum effek kan aanwend.
Die meeste bolle verkies halfskadu of oggendson. Die liefhebbers van halfskadu is die Hollandse iris, affodille/narsings, Tulbaghia, anemone, freesia, Leucojum, hiasinte en tulpe. Die sonliefhebbers is ranonkels, ixias en botterblomme (Sparaxis).
Enkele idees
Gesiggies, somerviooltjies, feetjie-primulas en Bellis perennis is goeie metgeselle om tussen blombolle te plant.
Saai eers die blomme, maar laat genoeg ruimte tussenin vir die bolle.
Jy kan ook 'n rand van eenjarige plante plant, met die bolle daaragter.
Bolle lyk minder georden wanneer hulle in ewekansige groepe geplant word. Om vrye vloei en 'n spontane, impressionistiese komposisie te skep, strooi die bolle eers oor die oppervlak sodat jy dit kan rangskik om 'n "natuurlike" voorkoms te kry wanneer jy plant.
Hulle lyk ook goed tussen grondbedekkers of laaggroeiende siergrasse.
Gebruik geurige bolle om 'n beskutte hoekie van die tuin waar jy graag vertoef lekker te laat ruik. Jy kan dit ook op jou patio inspan.
As jou begroting knap is, plant bolle in houers en span dit in as aksentplante in jou tuin, op die patio en by die ingang. Gebruik enige houer met gate in die bodem vir goeie dreinering en hou die grond klam, maar nie papnat nie.
Plant bolle
Voor jy bolle begin plant, spit eers die bedding om, sowat 'n graaf se diepte, en meng kompos in. Moenie vars mis gebruik nie, dit kan die bolle brand. Moet ook nie langs 'n sonnige muur of plaveisel plant nie, want bolle het koel grond nodig om te ontwikkel.
Volg die instruksies op die pakkie rakende plantdiepte, spasiëring ensovoorts. Dien 'n 3 cm-deklaag toe om die grond koel en klam te hou.
Wanneer bolle in houers geplant word, plant hulle naby mekaar sodat hulle amper aan mekaar raak, om vir 'n goeie kleurvertoning te sorg.
Maak dit elke vier tot vyf dae nat. As bolle uitdroog, gaan hulle dalk nie blom nie. Bolle in houers moet elke tweede dag natgemaak word.
Vermy die gebruik van pierings onder houers, aangesien bolle kan versuip en dit daartoe lei dat die bolle vrot.
Stoor die bolle só
Affodille, freesia, botterblomme, ixias en ranonkels kan vir 'n tweede seisoen hergebruik word.
Pluk dooie blomkoppe sodat die bol voedingstowwe vir volgende seisoen kan opbou. Voed met bolkos en gee steeds water. Wanneer die blare dood is, spit die bolle uit die grond en bêre hulle in 'n koel, droë plek tot volgende seisoen.
Party noem hulle narsings, ander affodille. Affodille val onder die genus Narcissus, met plante wat in hoogte wissel van kortbeen- (8 cm) tot groot 60 cm-variëteite.
Dié wat affodille genoem word, het in die algemeen groot enkelblomme wat hoofsaaklik geel is.
Die bekendste hibried is "blommetapyt" ("Flower Carpet").
Het jy geweet?
Party noem hulle narsings, ander affodille. Affodille val onder die genus Narcissus, met plante wat in hoogte wissel van kortbeen- (8 cm) tot groot 60cm-variëteite.
Dié wat affodille genoem word, het in die algemeen groot enkelblomme wat hoofsaaklik geel is.
Die bekendste hibried is "blommetapyt" ("Flower Carpet").














