Kortverhale

Kortverhaal: Blou, blouer, blouste

Illustrasie: Michael De Lucchi
Illustrasie: Michael De Lucchi

Met die oopmaak van die halsstarrige luik voor die venster dink sy aan die woorde van Jan F. E. Cilliers wat sy iewers op hoërskool moes ontsyfer: "Puur al-omwelwend asuur . . ."

So het die digter die uitspansel bo 'n Hoëveldse vlakte beskryf. Asuur, het sy in juf. Kleynhans se klas geleer, is 'n hemelsblou kleur.

Vandag pas die beeld volmaak om die wye see voor haar te beskryf. Sy het nooit geweet hoeveel skakerings van blou daar is voor sy hier op die eiland Praslin in die Seychelle geland het nie.

Hemelsblou, poeierblou, asuur, akwamaryn, turkoois, bergblou, babablou, blouselblou, indigo, koringblomblou, siaan, silwer, grys en natuurlik asvaal.

Elkeen van hierdie skakerings het sy iewers al gesien hier op die eiland en in die see wat dit omring. Die verblyf op Praslin het as 'n reddingsboei gekom.

Sy is haar pa se sakevriend innig dankbaar dat hy sy vakansiehuis aan haar beskikbaar gestel het.

As 'n verrinneweerde afvlerkvoëltjie het sy op die vliegtuig in Johannesburg geklim en een aand laat op Mahé afgeklim.

Die eilandatmosfeer in die lughawegebou het haar gewalg. Hoe kan enigeen so vrolik wees? Hoe kan hulle sulke uitspattige klere en stringe blomme om die nek dra?

Weet hulle nie ander mense het seer nie? Ná 'n gesukkel om 'n taxi in die hande te kry het sy ure later doodmoeg op die bed in die gastevilla neergeval.

Die volgende oggend vroeg het die heel eerste veerboot haar met 'n verbysterende spoed na Praslin geneem. Die eerste drie weke op die eiland het in 'n waas verbygegaan.

Sy het per e-pos aan almal laat weet sy het veilig op die eiland aangekom en so af en toe weer van haar laat hoor. Maar al die e-pos in haar inboks lê onoopgemaak en wag.

Selfs dié van nabye vriende en familie is bloot 'n herinnering aan die nagmerrie waarvan sy gevlug het. Vir telefoonoproepe sien sy nog nie kans nie.

Vanmiddag lyk die see net te aanloklik om binne te bly. Sy stap stadig op die spierwit sand langs die see. Klein krappies skarrel parmantig in die deurskynende water en suig in die grond weg.

'n Jellievis het tragies tot sy einde gekom hier op die sand, en tog is dit nou weer 'n kosbare bron van voedsel vir honderde seewesens wat verdwyn met elke brandertjie wat oor hulle breek.

Die son hang al taamlik laag, maar sy besluit om tog vir 'n wyle in die fyn wit sand neer te plak. G'n wonder dis die ideale wittebroodsbestemming nie, dink sy.

Dit is werklik so prentjiemooi soos die brosjures beloof. Sy tel 'n hand vol sand op en laat dit deur haar vingers syfer. Al wat agterbly, is 'n spierwit skulpie, fyn en amper deursigtig.

So broos en delikaat. Die lewetjie wat uit haar geruk is met Werner se vuishou in haar maag was waarskynlik niks groter as dié klein skulpie nie.

Hou op! raas sy met haarself en smyt die skulpie eenkant toe. Nie eens drie weke in die paradys kan die gedagtes aan die nag van geweld keer nie. Sy word wel rustiger toe die son luilekker op haar arms bak.

Wit winterarms. As sy elke dag net so 'n bietjie op die sand stap, behoort sy binnekort nie meer soos 'n spook te lyk nie. Van die strand verskil die see se kleure ook weer drasties.

Donkerder kolle akwamaryn in die ligte turkoois. Blou, blouer, blouste . . .

'n Goeie blou. Met die laatmiddagson wat lui op haar bak, oorval 'n rustigheid haar. Ek gaan eendag weer oukei wees. Ek sal weer heel word.

Sy skrik vervaard regop toe iemand aan haar skouer raak. Haar reaksie moes te intens gewees het, want die arme jong man begin onmiddellik verskoning vra.

"Pardon, pardon," pleit hy in 'n taal wat sy glad nie verstaan nie. Hy moes agtergekom het dat sy hom nie verstaan nie, want hy slaan dadelik oor na 'n taamlik gebroke Engels.

"The tide is coming. You'll get wet," verduidelik hy sy vroeëre aanraking. Tot haar verbasing merk sy dat die branders nou meteens net hier vlak voor haar breek.

"Pierre," stel hy homself voor, en so al sukkelend verduidelik sy aan hom dat sy uit Suid-Afrika kom. Hy glimlag breed; dis duidelik sy is nie die eerste Suid-Afrikaner wat sy pad kruis nie. Dan staan sy op en sê sy moet huis toe gaan. "See you tomorrow afternoon," groet hy vriendelik en verdwyn strandaf.

Dit word 'n daaglikse ritueel. Elke middag, wanneer die son stadig maar seker sy wentelbaan see-in maak, gaan stap sy op die strand waar Pierre vir haar wag.

Op sommige dae het hy 'n paar visse aan 'n tou vasgemaak, maar sy vra hom nooit waarheen hy daarmee gaan nie.

Sy is verstom oor alles wat hy vir haar wys, en toe hy een middag met 'n duikbril staan en wag, huiwer sy nie om om te draai en haar swembroek te gaan aantrek nie.

Vanmiddag sien sy sy volmaakte liggaam, die ferm spiere, vir die eerste keer raak

Die wonderwêreld onder die water slaan werklik haar asem weg en die see is louwarm. Dit word 'n onvergeetlike ervaring. Die volgende middag staan Pierre weer onder die hoë palmboom en wag.

Sy sien dadelik hy is geweldig opgewonde. Hy brand duidelik om haar iets te gaan wys. "Come, come," wink hy haar nader.

Die Franse bloed van sy voorvaders pomp nog vurig in sy are, besef sy terwyl sy hom woordeloos dophou. Hy praat self nie vanmiddag veel nie; stap net met lang treë aan al op die soom van die bosse langs die see. "Come," wink hy haar weer nader toe sy agterraak. Genade, ek is onfiks, besef sy. Dit moet die paar weke wees wat sy net hier in die woonstel gesit het.

Al wat sy in daardie drie weke gedoen het, was om na 'n sonarfoto'tjie te staar. In Kaapstad was sy tog fiks en het sy gereeld iewers gaan fietsry of stap.

"Sjuut," beduie Pierre meteens vir haar, sy vinger op sy lippe, en sy is onmiddellik terug in die oomblik.

Dan wys hy vir haar die seeskilpadeiers wat in die seesand begrawe lê.

Dit is asof hul weerloosheid meteens haar asem wegslaan. Sy het in die verlede dikwels gelees hoeveel uitdagings daar vir seeskilpaaie is wat voortplanting betref.

Wanneer die eiers uitbroei, is dit mos 'n naarstiglike geskarrel om die wateroppervlak te bereik voor duikende seevoëls hulle as middagmaal opraap.

Gaan hierdie lewetjies ook veels te vroeg eindig?

Meteens brand haar oë. "Tomorrow," is al wat Pierre sê, maar sy breë glimlag verklap sy vreugde.

Sy wonder meteens hoe hy so seker van sy saak kan wees. Hy kyk haar alwetend aan; sy glimlag herinner aan die spreekwoordelike kat met 'n piering room. "I watched mommy."

Sy kan nie anders as om die mooi spierwit glimlag te beantwoord nie. Vanmiddag wag hulle tot die oranje drywende bal finaal in die see wegsak. "It's late," sê sy en spring op.

Sy vertrou steeds nie die donker nie. Dis vir die donker dat sy bang is, nie vir Pierre nie, besef sy. Sy het nog nooit aan Pierre gedink as lid van die manlike geslag nie.

Vir haar is hy bloot een van die strandwesens van Praslin. En tog is hy 'n pragtige jong man wat beslis nie van hierdie vergelyking sal hou nie. 'n Oomblik lank wonder sy wat hy sal doen as sy haar hand op sy bruingebrande skouers plaas.

In die ses weke dat sy elke dag saam met hom op die strand was, het hy nog nooit 'n hemp aangehad nie, maar vanmiddag sien sy sy volmaakte liggaam, die ferm spiere, vir die eerste keer raak.

Hulle stap stadig terug na die huis van haar weldoener. Hy glimlag toe sy hom vir die spesiale ervaring bedank. 'n Oomblik lank wens sy hulle het net daar in die maanlig langs die klompie eiers bly sit. Miskien is vannag die nag.

Teen drieuur skrik sy wakker; die maanlig stroom blink by haar venster in. Sy het nog nooit weer die luike toegemaak nadat sy dit vir die eerste keer daardie dag van haar ontmoeting met Pierre oopgegooi het nie.

Dis asof sy die see se oneindige blou met daardie gebaar in haar tydelike vesting wou innooi. Ná vanaand is daar iets wat haar aanjaag, onrustig maak. Wat is hierdie brandende gevoel in haar?

Soos blits gryp sy na haar klere wat oor die stoel voor die venster hang en steek haar voete in haar plakkies. Haastig gaan sy na buite. Die nag is soel en warm.

Die maanlig spieël blink op die baai wat rustig hier onder die vakansiehuis lê. Haar hart klop opgewonde in haar keel, en sy begin vinnig stap.

Sy sien sy gestalte lank voor hy haar gewaar. Hy sit gehurk langs die nes, en reeds van ver af sien sy die gewriemel van lewende wesentjies.

"They are here!" roep hy bly uit toe hy haar sien nader kom. Sy hardloop vinnig nader, opgewonde oor wat sy daar gaan sien. Toe sy eindelik langs hom staan, voel sy hoe die dankbaarheid in haar opwel. In die lewe wat voor haar uitbars, lê die toekoms.

Die ebgety het vir die vloed gewyk. Vanaand is geen seevoël in sig nie; hierdie klompie sal dit veilig maak, dink sy bly. Toe Pierre sy arms om haar vou, weet sy dit is die keerpunt dié.

Vorentoe sal dit ál makliker gaan. Vorentoe sal al die skakerings van blou vir haar net een ding uitstippel: nuwe lewe.

Alita Steenkamp

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM