Skoolreünies is 'n euwel," het haar professorvriend gesê. "Die skerwe van talle huwelike lê tussen klaskamers gestrooi." Sy het gelag. Professor kan so dramaties wees.
"Matriekreünies is die gevaarlikste plek vir koersloses. 'n Mens gryp terug na jou ongekompliseerde jeug, na eerste soene en intense emosies. Maar opgegraafde eerste liefdes se slaagsyfer is nul."
Wat laat jou dan op jou huweliksherdenking na jou skoolreünie ry? Miskien sou sy nie as sy nie al maande lank so verlate en leeg gevoel het nie. Miskien sou sy wou bly en nie na iets gaan soek het wat sy nie meer het nie.
Diederik. Gaan sy oor Diederik?
Die snelweg verstop stadig voor haar. Nes haar kop en hart en armsalige lewe wat net gaan staan het. Remligte flits namate die motors ongeduldig ophoop en weer aankruip.
Seker 'n ongeluk. Soos haar huwelik.
Sy wil amper lag. Tegnies gesproke is daar nog nie 'n opgefrommelde wrak waaruit twee bebloede mense strompel om hul eie koers in te slaan nie, maar die olie lê op die pad; die glymerke is sigbaar. Die kinders miskien reeds beseer.
Ná matriek het sy haarself belowe sy sal nooit weer hier kom bly nie. Dit was 25 jaar gelede.
Sy wonder oor hul matriekgroep. Sy het kontak verloor, maar weet Daleen is twee jaar gelede aan kanker dood. Conrad het kort ná skool verongeluk. Paul is 'n alkoholis, geskei. Ook hy is die lewe nie gespaar nie. Die rugbyklub sy enigste hawe wat hy saam met dieselfde groep weekliks aandoen. Daar teer hulle seker steeds op hul verlore "glory days".
Hoe sal dit wees om Diederik weer te sien? Dalk is hy tog die rede vir die terugtog. Dalk soek sy na 'n polsslag in haar dooie siniese lewe. Het sy so desperaat geword?
Mart skrik toe 'n polisiebeampte teen haar ruit klop. Sweet prik haar vel. Die man beduie iets van 'n ongeluk voor in die pad en dat geduld vereis word. Geduld. Sy haal diep asem. Sy moet dink. Maar sy kan nie.
Nie verby Diederik se grou oë wat sy nog so goed onthou nie. Sy het ook vir Ben se oë geval. Op universiteit, in die chemieklas. Hulle het mekaar verras raakgekyk, en niks was ooit weer dieselfde nie. Behalwe nou. Nou sien hulle net. Gaan blind met hul lewe aan.
En Diederik is gelukkig getroud, het mooi kinders en 'n groot huis teen die rivier. Sover sy weet.
Wat soek sy? Wil sy haarself martel? Haar foon lui. Ben. Sy ignoreer dit en stel die klank af. Die verkeer het iewers vorentoe weer losgetorring en stadig begin beweeg.
Dinge voel bekend en heeltemal anders toe sy die moedelose vaal dorp binnery. Al drie kerktorings steek steeds ná al die jare ywerig hand op, skerp vingers tussen hoë dennebome wat na bo wys.
Ná matriek het sy haarself belowe sy sal nooit weer hier kom bly nie. Dit was 25 jaar gelede. Sy het nuwe horisonne verby die grys treinspoor en 'n ongelukkige ouerhuis gesoek. Haastig universiteit toe; haastig om weg te kom. Nie eens Diederik en sy woorde en sy oë kon haar keer nie.
Sy het haar oorgegee aan die genot van student wees, vry wees en weg wees. Ver van rusies en woede. En toe sy omkyk, was Diederik weg. Wat op aarde weet jy wanneer jy 18 is? Jy maak planne, en as dit nie uitwerk nie, klim jy oor die puin en gryp na nuwe kanse. Hoe gaan sy oor die slagveld in haar kom?
By die gastehuis gooi sy haar oornagsak moeg neer. Alles aan die plek lyk vir haar verkeerd. Kussings vol idiome, metaalletters wat liefde en hoop vir die toekoms uitspel. Hoekom dink die hele wêreld almal moet kort-kort herinner word aan iets wat kennelik ontbreek?
Sy gaan lê op die bed en raak uitgeput aan die slaap. 'n Onrustige droom vol ongelukke en proefbuise jaag deur haar slaap. Mnr. Nel staan in die biologieklas en kondig formeel aan alle drome sal vandag waar word. Sy sit langs Diederik en hy lyk soos 25 jaar gelede toe hulle verlief en in matriek was. Mart en Diederik.
Die vakansieoord se onthaalsaal is met 'n onseker spanning gelaai. Ook sy voel half verlore en uit plek. Dis nie maklik om almal te herken nie. Gelukkig staan Dawid, grootbek en bier in die hand, dadelik nader en groet joviaal.
Sy groot lyf is 'n golf wat oor 'n mens breek. Sy het hulle darem die afgelope jaar af en toe gesien. Tyd is met swaar spore oor hom, maar hy lag nog hard en wyd en sy Amanda is 'n blom wat hy onder sy arm vasknyp. Mart voel jaloers. 'n Mens kry seker die uitsonderings.
Sy weet die feit dat sy alleen is, sal taktvol hanteer word. Op 43 sal almal blitsvinnig die aftreksom maak. Dit sal maklik wees - sy het haar ring in die gastehuis gelos. Sy vat die glas rooiwyn by Dawid. Hy het soos 'n hele paar ander ná universiteit tog teruggetrek om 'n lewe hier te kom bou.
Mart voel nou soos die vreemdeling. Sy het niks om te sê of te vertel nie, en sy weet sy wag eintlik vir Diederik. Sy soek deur die saal na sy grou oë wat alles reg kon maak. Dit voel of sy in 'n massa geskiedenis verdrink en na 'n reddingsboei soek. Dit was 'n fout om te kom. Jy maak nie iets reg deur jou hart met vakansie te neem nie.
"Ja, my ding, hoe gaan dit?" Haar wyn stort toe sy omswaai. "Jana!" Verligting brand haar oë en sy is werklik bly om dié lawwe vriendin te sien. "Ek sien jou glas is leeg . . . of halfleeg, soos ou Baard sou sê. Kom ons maak vol. Vanaand haal ons in," sê sy en lag.
Sy lig 'n peperduur rooie triomfantelik omhoog: "Op die pessimiste!" Dis tipies Jana: duur skoene en duur wyn. ("My ding, dis al hoe jy deur twee egskeidings kom.") "Prost! Waar is Ben? Julle is deesdae baie skaars, en ons bly in dieselfde stad. En hoekom, my liewe pel, is jou ringvinger kaal?" ryg sy die vrae uit.
Maar voor sy kan antwoord, omhels Jana 'n aantreklike donkerkopman. Mart lag verstom. "Hardus? Hoe op aarde het jy so mooi geword?"
"Ek en Jana is by dieselfde plastiese chirurg," terg hy. "My liewe Mart, as Hardus wél my chirurg besoek het, het hy nie so lank gevat om te trou nie. Hardus is nou 'n bekende wildboer in Limpopo. Party van ons het dit groot gemaak," sê Jana teatraal.
"Jy is laf, maar ek het darem vir Emma in Limpopo losgeboer. En sy is 'n baie beter boer as ek, want sy het drie seuns grootgekry."
"Hallo, Emma."
Nog 'n suksesverhaal, dink sy bitter en hou haar leë glas na Jana uit terwyl haar oë oor die saal gly.
Dan sien sy vir Diederik. Hy is net skielik daar. Hy leun teen die muur en glimlag skeef vir haar.
"Hy is oorsee, Mart. Vir werk, hoor ek," sê Jana sag toe sy hul glase volmaak. Mart kyk verby haar en stap stil na die badkamer. Haar hart ruk toe sy die toiletdeur agter haar sluit.
Niks ontglip Jana ooit nie. Wat het sy verwag? Om gered te word? Om skielik so gelukkig soos Dawid en Hardus te wees? 'n Mens kan nooit weghardloop nie. Jy sit in jou eie lewe vas soos in swaar modder.
"Jou maskara gaan smeer; kom uit," sê haar vriendin. Jana leun teen die deur. Mart kan haar Jimmy Choos onder die hoë deur sien.
"Besef jy dat al ons klaspartytjies van gr. 2 af hier was? Hel, hulle kon darem oorspronkliker gewees het en ons reünie in die skoolsaal gehou het."
Mart moet lag: "Jana, niks het verander nie; die klaspartytjies word steeds hier gehou. Selfs die vloekwoorde op die deur is nog dieselfde."
Mart voel roekeloos toe 'n ou bekende treffer begin speel.
"Ek gaan met Baber dans. Wanneer laas het ek gedans?"
Baber was al op skool 'n partytjiedier, en terwyl hulle oor die dansvloer swaai, onthou hulle laggend die kattekwaad en stories uit hul skooldae.
Dan sien sy vir Diederik. Hy is net skielik daar. Hy leun teen die muur en glimlag skeef vir haar. Die musiek en gelag om hulle val weg en haar hart sit skielik in haar keel.
"Hallo, Mart."
Sy glimlag op in sy gesig toe hy sy hand uithou vir die volgende dans. Sy val woordeloos in sy grou oë. Diederik en Mart. En sy sien dit wat altyd daar sal wees, al het hulle vir ewig anders gekies.
Diederik se woorde vee warm oor haar nek terwyl hulle dans. Mart wil weghardloop en sy wil bly. Sy kyk weg, bang om vir hom te kyk. Bang dat sy haarself daar sal sien.
"En kyk wie is hier," hoor sy Jana sê toe die musiek stil raak.
"Liewer laat as nooit. Welkom, Ben!" Mart se hande kom stadig los van Diederik. Sy voel baie ver en sukkel om deur 'n mistigheid om haar te fokus. Dan voel sy Ben se arm om haar toe hy haar soen.
"Jammer ek is laat. Hallo, Diederik. Ek vat net gou my vrou terug. En vir ons 20ste huweliksherdenking gaan ek met haar dans."
Mart se hart en asem is stil toe sy in sy arms volg.
"Dit lyk my ek is wragtig net betyds."
Ben glimlag; sy vingers vleg deur hare, soos sy daarvan hou. Sy voel sy ring teen haar kaal hand. 'n Hele geskiedenis vol van alles is daarin gegiet.
Ben en hul twee seuns en 'n leeftyd saam. Sy kyk reg in sy oë en haal diep asem. Sy kry dit reg om weer asem te haal.





















