Hou die blink kant bo
Jy benodig
(genoeg vir 4 as hoofgereg)
- 1 klein witui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- 2 eetlepels matige kerriepoeier
- 1 teelepel borrie
- sout en varsgemaalde swartpeper
- 2 droë lourierblare, gekrummel
- ¼ koppie bruinasyn
- 4 varklieswiele van 2 cm dik, sonder vel
- 1 opgehoopte eetlepel appelkooskonfyt
Só maak jy
1. Meng die ui, knoffel, speserye en kruie, en asyn saam met ewe veel water. Sit die vleis in die sous en maak seker dit is oraloor goed bedek. Laat dit vir sowat 1 uur marineer om die geur te bou.
2. Haal die vleis uit die marinade (hou dit vir later), druk dit effens droog en ryg dit op stokkies. Braai dit dan lank en stadig oor matige kole sodat die vet so 'n bietjie kan uitbraai.
3. Smelt die konfyt saam met die marinade in 'n kastrolletjie en verf dit oor die vleis net voor dit klaar gebraai is. Sit die varkwiele voor met gestoomde rys, blatjang, piesangslaai en groente.
Weg Ry & Sleep sê:
Dié kitskerriesous is nie soet nie, want jy wil nie hê die vleis moet brand terwyl dit braai nie. Ryg gerus sagte groente soos vlapampoentjies op stokkies en braai dit saam met die vark vir 'n maklike bygereg. Verf dit ook sommer met die kerriemarinade as jy wil.












