Kos + wyn

RESEPTE | Sê ja vir neute & sade

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Gebalanseerde diëte bestaan uit baie groente en vrugte, peulgroente, melk en melkprodukte asook vis, hoender en maer vleis. Neute en sade bevat 'n verskeidenheid voedingstowwe wat waardevol is vir jou en jou kinders se gesondheid.

Dit bevat gemiddeld 50 persent vet, waarvan die oorgrote meerderheid onversadigde plantolies ("goeie vette") is. Verder bevat dit onder meer baie vesel, vitamien E en minerale soos sink, magnesium en kalium. Neute en sade is ook 'n goeie bron van plantaardige proteïen.

Die spesifieke voedingstowwe hang af van elke soort neut en saad. Brasiliaanse neute is byvoorbeeld bekend vir die groot hoeveelheid selenium daarin en amandels vir hul kalsiuminhoud. Chiasaad en okkerneute is gewilde keuses danksy hul omega 3-vetsure.

Dis 'n slim plan om gereeld vir jou kroos neute en sade te gee.

Getty Images
Getty Images

NEUTE EN SADE VIR BABAS

Neute en sade is nie algemene babakos nie, waarskynlik weens die gevaar van allergie en verstikking. Tog is dit belangrik dat babas dit leer eet. Babas het meer vet as volwassenes nodig en neute en sade is een manier waarop hulle gesonde plantvette kan inkry. Gesinne waarin allergieë voorkom, behoort dus steeds neute en sade in te sluit.

Die insluiting van neute by 'n baba se dieet kan versigtig verloop om die risiko van lewensbedreigende reaksies te verminder. As voorkomingsmaatreël kan 'n klein bietjie neutbotter op die baba se wang en 20 minute later onder sy onderlip gesmeer word voor 'n klein hoeveelheid in die mond gesmeer word. As enige rooiheid of swelling verskyn, het die baba waarskynlik 'n neutallergie waarvoor mediese hulp gesoek moet word. As daar geen reaksie is nie, kan dit met veiligheid gegee word.

Skakel die verstikkingsgevaar van harde neute uit deur neutbotter by babakos te meng. Later kan fyngekapte neute of sade ook bygevoeg word.

Beproef dié idees vir jou baba

  • Voeg 'n halwe teelepel sout- en suikervrye gladde grondboontjiebotter by hawermoutpap, mieliepap, ysterverrykte babapap of ongegeurde jogurt.
  • Voeg 'n halwe teelepel gemaalde lynsaad by pap, jogurt, pampoen of vleispuree.
  • Voeg 'n halwe teelepel gemaalde amandels by babapap, ongegeurde jogurt of fyngemaakte blomkool, broccoli of groenbone.
  • Sit van agt maande af chiasaad-pap vir ontbyt voor. Dit is 'n ideale manier om teksture bekend te stel. Maak 'n gladdejantjie met ongegeurde jogurt, piesang en sout- en suikervrye gladde grondboontjiebotter. Sit dit van omtrent agt maande af met 'n strooitjie voor.
  • Voeg fyngekapte sagte neute soos pekanneute of okkerneute van 10 maande af by hawermoutpap.

NEUTE EN SADE VIR PEUTERS

Namate jou kleinding ouer word, neem die verstikkingsgevaar van neute en sade af en neem die voorsitmoontlikhede toe. Peuters het steeds heelwat gesonde plantolies nodig wat onder meer deur 'n halwe tot een porsie neute of sade per dag geneem kan word.

Beproef hierdie idees om neute en sade vir jou peuter te gee

  • Sit chiasaad-pap (resep op volgende blad) met vars vrugtestukkies vir ontbyt voor.
  • Sit oornag-hawermoutpap (resep op volgende blad) met chiasaad vir ontbyt voor.
  • Smeer 'n dun lagie grondboontjiebotter op 'n lae-Gl-volgraanbroodjie en vou dit toe. So verminder die kans dat dit teen die verhemelte vassit.
  • Sagte neute kan van twee jaar oud af onder toesig as happies vir tussenvoedings gegee word.
  • Bak saadbrood en gee as deel van 'n ligte maaltyd.
  • Voeg 'n teelepel chia- of sesamsaad by pap of ongegeurde jogurt.
  • Voeg 'n halwe teelepel gemaalde lynsaad by 'n teelepel kanolamargarien en smeer op 'n broodjie.
  • Strooi 'n eetlepel fyngekapte neute oor pap of ongegeurde jogurt.
  • Maak 'n gladdejantjie met ongegeurde jogurt, piesang en grondboontjiebotter.
  • Voeg 'n paar eetlepels chiasaad-pap by gladdejantjies.

NEUTE EN SADE VIR KLEUTERS

Kleuters kan neute en sade soos volwassenes eet.

Idees vir hulle en die hele gesin

  • Pak gemengde neute in skoolkosblikke.
  • Wanneer jy botterskorsie gaarmaak, verwyder die pitte, rooster dit en gebruik as 'n gesonde peuselkos tussen maaltye of in kosblikke (resep op volgende bladsy).
  • Voeg geroosterde pampoenpitte by slaai.
  • Voeg 'n eetlepel gemaalde lynsaad by pap, semelvlokkies of ongegeurde jogurt.
  • Voeg 'n hand vol neute by mengelslaai.
  • Sprinkel amandelsplinters oor vis en bak dit in die oond.
  • In resepte met twee of meer koppies meel kan jy 'n kwart tot 'n halwe koppie meel met gemaalde lynsaad vervang.
  • Voeg 'n hand vol neute by roerbraai.
  • Maak 'n mengsel van sonneblom- en sesamsaad en pampoenpitte en strooi 'n teelepel vol oor pap.
  • Meng appel, piesang of peer met ongegeurde jogurt en bedek met 'n lagie fyngekapte grondboontjies. Sit voor as slaai.
  • Voeg 'n hand vol gekapte neute of 'n kwart koppie saadmengsel by koeskoesslaai of aartappelslaai.
  • Beproef neutbotters soos amandel- of makadamiabotter op 'n toebroodjie.
  • Meng chiasaad, fyngemaakte lynsaad, parmesaankaas en vars kruie as 'n bolaag vir gebakte geregte of as 'n krummellaag vir vis of hoender.

KOOP SLIM

Baie van die gesonde antioksidante wat in neute voorkom, is in die sagte bruin skilletjie wat die neut bedek.

Koop dus neute wat nog die skilletjie aanhet en ongebleik is.

Rou, ongesoute neute is ook 'n slimmer keuse as geroosterde en gesoute neute.

Gemengde neute en saadmengsels sorg dat jou gesin al die voedingstowwe wat elke spesifieke soort neut en saad bevat, inkry.

Omdat neute en sade baie vet bevat, kan dit maklik galsterig raak.

As jy dit in grootmaat koop, bêre dit in die ys- of vrieskas.

Maak jou neute en sade self fyn met 'n voedselverwerker, stokmenger of koffieboonmaler.

Hoeveel is 'n porsie?

Neute bevat baie kilojoules en daarom moet almal liefs net een porsie per dag eet. Babas kan 'n halwe porsie per dag eet. 'n Derde koppie of 30 g neute word as een porsie beskou.

Speel telspeletjies met jou kleinding en tel die neute vir jul tussenvoeding af.

Een porsie =

  • 20 amandels
  • 10 Brasiliaanse neute
  • 15 kasjoeneute
  • 15 makadamianeute
  • 15 pekanneuthalwes
  • 20 okkerneuthalwes

GEROOSTERDE PAMPOENPITTE

  • Pitte van 2-3 botterskorsies
  • 1 eetlepel (15 ml) kanola- of olyfolie

Voorverhit die oond tot 180 °C. Spoel die pitte af en druk met kombuispapier droog.

Plaas op 'n bakplaat, voeg die olie by en meng goed. Bak tot ligbruin en bros.

ERTJIESLAAI

  • 500 g bevrore ertjies
  • ½ komkommer
  • 1 wiel fetakaas
  • 100 g pekanneute, gekap

Slaaisous

  • 1 koppie (250 ml) natuur- like laevet- of vetvrye jogurt
  • 1 koppie (250 ml) laevet-mayonnaise
  • ½ teelepel (2,5 ml) heuning

Laat die ertjies ontvries en druk droog met kombuispapier.

Sny die komkommer in klein stukkies en voeg by die ertjies in 'n slaaibak.

Krummel die fetakaas oor en strooi die gekapte pekanneute oor.

Slaaisous: Meng die bestanddele vir die slaaisous en giet oor die slaai.

Getty Images
Getty Images

CHIASAAD-PAP

  • 2 eetlepels (30 ml) chiasaad
  • ½ koppie (125 ml) water of melk

Meng die chiasaad met die water of melk en laat 20 tot 30 minute staan.

Die mengsel sal verdik en kan as pap gevoer word.

Sit aanvanklik net so voor of geur met vrugtepuree of vrugtestukkies.

Getty Images
Getty Images

OORNAG-HAWERMOUTPAP

  • ½ koppie (125 ml) hawermoutvlokkies
  • 1 koppie (250 ml) ongegeurde vetvrye of laevet-jogurt
  • 1 eetlepel (15 ml) chiasaad
  • 1 teelepel (5 ml) vanieljegeursel

Meng al die bestanddele saam in 'n bakkie, bedek en laat oornag in die yskas.

Geniet die volgende oggend met vars vrugte. (Die vanieljegeursel laat dit soet smaak en daarom is dit heerlik sonder suiker of 'n ander versoeter.)

NEUT-ALLERGIEë

Sowat 1 uit 100 mense is allergies vir neute en die meeste daarvan ontstaan by babas of jong kinders. Neutallergieë word as 'n gevaarlike voedselallergie beskou omdat dit in baie gevalle 'n ernstige reaksie, anafilakse, kan veroorsaak wat tot die dood kan lei as dit nie vinnig en gepas hanteer word nie.

Hoewel 'n klein aantal kinders met grondboontjie-allergieë dit wel ontgroei, word neutallergieë nie so maklik ontgroei soos ander voedselallergieë nie en uitsluiting is dus gewoonlik lewenslank. As 'n kind vir neute allergies is, behoort alle soorte neute uitgesluit te word.

In die verlede is aanbeveel dat 'n baba met 'n familiegeskiedenis van allergie voor drie jaar oud geen neute behoort te kry nie.

Nuwe studies wys dat die uitsluiting van allergene nie help om allergieë te voorkom nie. Babas kan dus vandat hulle op ses maande begin eet,- met neute wegspring omdat die vroegtydige insluiting neutallergieë kan help voorkom.

Zelda Ackerman, Geregistreerde Dieetkundige

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM