Kos + wyn

Salm-taco’s

Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
  • - SLAAI
  • - komkommer
  • knippie - sout
  • 1 klein - rooi of groen koolkop
  • 2 bondels - pak choi
  • 1 - rooi soetrissie
  • 1 bossie - sprietuie
  • 1 bossie - koljander
  • - rooi brandrissie
  • 50 g - gekapte amandels
  • - SOUS
  • 30 ml - lemmetjiesap
  • 30 ml - vissous
  • 30 ml - sesamolie
  • 30 ml - witasyn
  • 5 ml - gerasperde gemmer
  • 5 ml - gerasperde knoffel
  • 10 ml - heuning
  • 30 ml - gekapte koljander
  • 15 ml - gekapte ment
  • 12 - mielie-taco's
  • 125 ml - mayonnaise
  • - wasabi na smaak
  • 600 g - vis (salm, tuna of forel)
  • - lemmetjiesap
  • - sout en peper

1. Slaai, Meraai

Rasper 'n klein komkommer, strooi 'n knippie sout oor en laat dit vir 30 minute in 'n vergiettes oor 'n bak dreineer. Druk al die ekstra vog uit. Kap nou 1 klein rooi of groen koolkop, 2 kleinerige bondels pak choi, 1 rooi soetrissie, 1 bossie sprietuie, 'n klein bossie koljander en 'n rooi brandrissie fyn en meng deur die komkommer. Strooi 50 g gekapte amandels oor.

2. Ry die soustrein

Skud 30 ml lemmetjiesap, 30 ml vissous, 30 ml sesamolie en 30 ml witwynasyn saam in 'n fles. Geur nou met 5 ml elk gerasperde gemmer en knoffel, en 10 ml heuning. Proe en pas die hoeveelhede aan na smaak. Roer laastens 30 ml gekapte koljander en 15 ml gekapte ment by. Meng die helfte van die sous deur die slaai.

3. Gooi mielies

Verhit 12 bros mielie-taco's (Old El Paso-taco's werk goed) volgens die aanwysings op die pakkie in 'n voorverhitte oond - dis belangrik vir 'n lekker knars; maak ook sowat 125 ml pikante mayonnaise skrik met 'n spuitjie wasabi (of gebruik die mayonnaise net so).

4. Vis vir komplimente

Vars salm-, tuna- of forelfilet is duur en 'n regte bederf, maar vir 12 taco's het jy net sowat 600 g nodig. Vryf die vis liggies met 'n bietjie olie. Verhit 'n dikboompan en seël die vis tot ligbruin alkante, maar steeds pienk binne. Geur met 'n bietjie lemmetjiesap, sout en peper (onthou net die slaaisous is ook suur). Sny met 'n skerp mes in dun skyfies of vlok eenvoudig.

5. Arriba!

Skep 'n bietjie souserige slaai in elke taco, met 'n paar stukkies vis bo-op. Drup nou mildelik mayonnaise oor elkeen en lê weg!

WENKE

Vir meer fut, oorweeg 'n skeppie bruinrys in elke taco; of versag die byt met romerige avokado in seisoen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM