Kos + wyn

Skaaprugstringpastei

Dié tradisionele resep het maar 'n kort bestanddelelys.Jy kan die vleis ook met naeltjies, koljander, spek en 'n bietjie sojasous geur.

Genoeg vir 6 | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 3 uur

Jy benodig

* 2 kg rugstringvleis (vra jou slagter vir 'n hele skaaprugstring)

* 3 takkies roosmaryn (of 2 eetlepels droë roosmaryn)

* 1 teelepel gemaalde swartpeper

* 240 g koekmeel

* 1 teelepel bakpoeier

* sout na smaak

* 1-2 koppies water

* 80 ml botter

* koue water

Só maak jy

1 Verhit die oond tot 160 ºC. Geur die vleis met die roosmaryn en peper (maar moenie sout bysit nie), sit dit in 'n pot met 'n styfpassende deksel en gooi die water by.

2 Bak dit vir 2 uur of totdat die vleis van die been af loskom. Jy kan dit ook oor 'n vuur of op 'n matige stoofplaat kook.

3 Maak intussen die kors: Meng die meel, bakpoeier en sout, en vryf dan die botter met jou vingerpunte daarby in (dit moet soos broodkrummels lyk). Voeg nou net genoeg koue water bietjies-bietjies by, sodat dit 'n stywe deeg vorm. Rol die deeg ongeveer 3 mm dik uit, volgens die grootte van die pasteibak.

4 Haal die bene uit die vleis en voeg ongeveer 1 eetlepel sout (of na smaak) by. Skep dit in 'n oondvaste bak en bedek dit met die uitgerolde pasteikors.

5 Bak die pastei vir 40 minute teen 180 º totdat die kors goudbruin is. Sit dit voor saam met kweperjellie en soetpatats of kweperblatjang.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM