Kosassistent Tani Kirsten
Braai-braai riepa
Jy benodig
- 3 eetlepels sonneblomolie
- 2 uie, fyngekap
- 250 g strepiespek, gesnipper
- 8 groot wasagtige aartappels
- sout en swartpeper na smaak
Só maak jy
1. Verhit die olie in 'n lekker breë platboomswartpot of pan. Voeg die ui en spek by en braai dit oor matige kole vir 5 minute of totdat die vet uit die spek begin braai en die ui mooi sag en glansend is.
2. Skil intussen die aartappels en sny dit in blokkies van 2 cm.
3. Voeg die aartappels by die spekmengsel in die pot en roer alles een keer deur. Soteer nou die aartappels totdat dit plek-plek bruin en bros begin raak. Roer die mengsel sodra dit wil vasbrand, maar moenie die hele tyd karring nie, want dan gaan jy uiteindelik sit met kapokaartappel.
4. Geur die aartappels met sout en peper. Ná sowat 15-20 minute in die pan behoort die aartappelblokkies effens bros te wees met 'n heerlike spekgeur. Sit dit dadelik voor.
Weg Ry & Sleep sê
Vir ekstra lekkerte kan jy 'n eetlepel of drie botter by die pot gooi wanneer jy die aartappels insit.












