- 180 g - botter
- 80 g (160 ml) - versiersuiker
- 1 - groot eier
- 5 ml - vanieljegeursel
- 280 g (500 ml) - meel
1 Klits die botter en suiker saam in 'n mengbak tot lig en romerig ('n elektriese klitser maak dit makliker). Klits die eier en die vanieljegeursel by. Meng laaste die meel met die hand by totdat die deeg bymekaarkom. Keer uit op 'n skoon werkoppervlak en knie tot dit net glad is. Vorm die deeg in twee plat skywe, bedek met kleefplastiek en laat rus vir 30 minute in die yskas. (Die koue, plat skywe deeg is baie makliker om uit te rol.)
2 Voorverhit die oond tot 180 °C. Strooi 'n bietjie ekstra meel op die werkblad, haal die eerste deegskyf uit die kleefplastiek en rol dit met 'n koekroller uit tot sowat 5mm dik. Gebruik 'n paletmes om die uitgerolde deeg op te lig en seker te maak dit kleef nêrens aan die oppervlak vas nie. Sny nou met koekie-drukkers vormkoekies uit en pak op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is. Bring enige orige deeg weer bymekaar, rol weer uit en sny nog vorms uit. Herhaal tot al die deeg gebruik is.
3 Bak nou vir sowat 8-10 minute per bakplaat totdat die koekies mooi gaar is. Dit help om al die koekies op dieselfde bakplaat dieselfde grootte en dikte te hou sodat almal gelyk gaar bak. Laat die koekies afkoel op 'n draadrakkie en versier na willekeur wanneer dit koud is - of geniet dit net so. Bêre in 'n lugdigte houer. Wenk Pleks van vanieljegeursel kan jy die deeg ook met fyngerasperde sitrusskil, 'n paar laventelblommetjies of tiemieblaartjies geur. Speel gerus.
Koninklike versiersel
Om koekies met 'n spuitsak te versier is groot pret. As jy wil hê jou versiersel moet blink en hard droog word, is dié versiersel die antwoord.
Só maak jy:
Klits 2 eierwitte met 'n elektriese klitser in 'n groot mengbak tot sagte punte vorm. Klits nou 2-3 koppies gesifte versiersuiker geleidelik by tot die mengsel dik en glad is. Roer 5ml suurlemoensap by. Die mengsel moet loperig genoeg wees om met 'n spuitsak te teken, maar styf genoeg dat jou ontwerp sy vorm hou. Gebruik daarom jou oordeel wanneer jy die versiersuiker bymeng. Skep nou die wit versiersel in 'n spuitsak met 'n klein skryfpunt en versier jou koekies.
Gekleurde versiersel As jy verskillende kleure wil gebruik, verdeel die wit versiersel tussen bakkies en kleur elke hoeveelheid individueel met kleursel. As die kleursel die versiersel te loperig maak, voeg weer 'n bietjie versiersuiker by totdat dit styf genoeg is.
Sit 'n venster in
Vensterkoekies is die grênd skoonsuster van 'n gewone vanieljekoekie en lyk alte mooi aan 'n Kersboom. Jy gebruik dieselfde deeg as vir die vanieljekoekies, en 'n bontspul Sparkle-lekkers met vrugtegeure.
Só maak jy:
Druk koekies in 'n stervorm uit en pak dit op 'n bakplaat. Druk dan 'n "venster-opening" in elke koekie met 'n kleiner drukker (ster of sirkel). Kap volgende die Sparkles stukkend ('n plastieksakkie en 'n vleishamer werk goed) en skep die splinters versigtig in die opening in die rou koekies. Bak totdat die deeg gaar en die splinters heeltemal gesmelt is - niks langer as 8 minute nie. As die gevulde koekies te lank gebak word, begin die suikervensters karamelliseer en verloor dit die oorspronklike kleur. Laat op die bakpapier afkoel. Die suikervensters verhard namate dit afkoel. Lig dan versigtig met 'n paletmes en bêre in 'n lugdigte houer.
Onthou As jy die koekies wil ophang, moet jy 'n gaatjie in die rou deeg maak voor jy dit bak sodat jy 'n toutjie daardeur kan ryg.













