Lewer 6 porsies
Voorbereityd 10 minute
Gaarmaaktyd 15 minute
Jy benodig
• 1 engelvis, met vel
• sout na smaak
• swartpeper na smaak
• 2 nartjies
• 3 eetlepels olyfolie
• 3 knoffelhuisies, gekap
Vir die taco's
• 2 avokado's
• 4 eetlepels dik jogurt
• 300 g murgpampoentjienoedels
• ½ rooiui, fyngekap
• 1 komkommer, fyngekap
• 1 klein bossie koljanderblare, gekap
• taco-skulpies of mini-wraps
Só maak jy
1. Vlek die vis en geur dit na smaak met sout en peper. Rasper die nartjies se skil in 'n bakkie, drup die sap daaroor uit en meng die olyfolie en knoffel ook daarby in. Verhit die sous vir 'n paar minute in die mikrogolfoond of op die stoof en hou dit eenkant.
2. Druk die avokado's fyn, meng dit met die jogurt en geur na smaak met sout en peper. Roer die avokadomoes ligweg deur die murgpampoentjie-noedels, ui, komkommer en koljander. Hou die slaai eenkant.
3. Braai die vis met die vel na onder vir ongeveer 12 minute tot gaar. Draai die taco-skulpies of wraps in foelie toe en plaas die foeliepakkie eenkant op die rooster om te verhit. Tel die visstukke in 'n plat bak oor en skep die nartjiesous dadelik bo-oor.
4. Laat elkeen sy eie taco met stukke vis en 'n skeppie van die slaai berei.












