Motors

KIA Sorento 2010

Op papier het Kia nie eintlik ’n voet verkeerd gesit met die ontwerp van die nuwe Sorento nie. Dié ouens het hul huiswerk behoorlik gedoen, van die nuwe voorkoms tot die nuwe ratkas en binneruim. Omtrent al wat van die ou Sorento oor is, is die naam.

Hier’s wat jy kan verwag van die tweedegeslag-Sorento:

  • ’n Splinternuwe dieselenjin, ’n verbeterde petrolenjin* en nuwe sesspoedratkaste;
  • Beter verrigting, maar ook beter brandstofverbruik en minder skadelike uitlaatgasse
  • Beter aërodinamika en minder klanksteuring en vibrasie;
  • Gevorderde (en beter) veiligheidstelsels;
  • Beter padgedrag en hantering;
  • ’n Ruimer en luukser kajuit;
  • ’n Rits tegnologies gevorderde funksies.

Boonop is die nuwe Sorento 215 kg ligter, meer vaartbelyn en sy nuwe voorkoms gaan beslis ’n paar koppe laat draai.

Dit behoort nie eintlik ’n verrassing te wees nie, want die nuwe kurwes van die Sorento is die handewerk van die legendariese Peter Schreyer, die man wat ook verantwoordelik was vir die Audi TT.

Klink goed, nè? Ja, maar in dié hernuwingsproses het die Sorento baie van sy veldryvermoëns ingeboet en speel nou in die “sagte” SNV-liga.

Kia sê sy navorsing het gewys kopers is nie veel gepla met hardebaard veldryvermoëns nie.

Op grond daarvan is die vorige Sorento se leerraamonderstel met ’n skulpromp vervang, die laestrekratkas uitgehaal en die grondvryhoogte met 1,9 cm verminder.

Sy vierwielaandrywingstelsel is ook maar net dit in naam. In normale omstandighede, soos in die stad of op die snelweg, stuur die stelsel al die krag na die voorwiele (wat glo brandstofverbruik verbeter). Sodra een van die voorste wiele egter sy vastrap verloor, word krag ook na die agterste wiele gestuur.

Jy kan wel die Lock Mode aktiveer wat krag gelykop tussen die voorste en agterste wiele verdeel, maar dit skakel self af as jy vinniger as 30 km/h ry.

Verder gebruik die Sorento nét 50 ppm-diesel met ’n lae swaelinhoud – iets wat nou nie juis by elke vulstasie in Suider-Afrika beskikbaar is nie.

Braaivleisfeit:

Kia, gestig in 1944, is Korea se oudste voertuigvervaardiger. Die meer as 1,5 miljoen voertuie wat die maatskappy jaarliks vervaardig, word in 172 lande verkoop.

* Die sewesitplek 3,5 liter V6 (net outomaties) sal in die tweede kwartaal van 2010 bekendgestel word.

Kia sê …

Enjin:

2,2 liter-turbodiesel

Ratkas:

Sesspoed outomaties of handrat

Krag:

146,9 kW @ 3800 r.p.m.

Wringkrag:

421,7 Nm @ 1 800-2 500 r.p.m. (handrat);

436,4 Nm @ 1 800-2 500 r.p.m. (outomaties)

Vering:

MacPherson-stutte voor; veelskakelvering agter

Remme:

Skywe voor en agter

Grondvryhoogte: 18,4 cm

Naderingshoek: 25,1 °

Vertrekhoek: 23,1 °

Brandstoftenk: 70 liter

Brandstofverbruik: 6,5-7,4 liter/100 km

Waarborg/diensplan:

5 jaar/100 000 km (waarborg en diensplan)

Diensintervalle: 20 000 km

Modelle:

2.2 Diesel 4x2 (vyfsitplek; outomaties en handrat);

2.2 Diesel 4x4 (vyf- of sewesitplek; outomaties en handrat)

Prys:

Vanaf R339 995 vir die vyfsitplek-4x2 (handrat) tot R399 995 vir die sewesitplek-4x4 (outomaties).

Wat kry ek alles?

ABS, remhulp, hellingwegtrekhulp, snelheidsbeheer, elektroniese stabiliteitsbeheer, leersitplekke, remkragverspreiding, vastrapbeheer, Xenon-hoofligte, tru-parkeerhulpstelsel

Ons sê ... WegRy se indrukkeDIE EERSTE INDRUKKE

  • Die Sorento het waarskynlik ’n nuwe standaard gestel vir “sagte” SNV’s.
  • Wat het geword van Kia se tienjaarwaarborg?

DIE BINNEKANT

Gemak en ruimte:

Alles wat kan oop- en toemaak, goeie afwerking, hope ruimte … dit voel nét reg.

Op die agtersitplekke:

Die tweede ry sitplekke het skaflike beenruimte, maar die derde ry sitplekke is soos gewoonlik eintlik vir tuindwergies bedoel. Die tweede ry sitplekke vou vorentoe sodat jy (of die tuindwergies) makliker by die derde ry sitplekke kan uitkom.

Kindervriendelik:

Swart leer is die standaardbekleedsel – en swart wys gelukkig nie sommer glipsies nie …

Laairuimte:

Die tweede en derde ry sitplekke vou amper heeltemal plat.

Met die derde ry sitplekke platgeslaan, het jy 1 047 liter se pakplek.

As jy die tweede ry sitplekke ook platslaan, het jy 2 052 liter pakplek (as jy dalk wonder, dis soveel soos soos 7 gesinsyskaste).

Veiligheid:

Dubbele voorste-, kant- en vollengte gordynlugsakke. Die voorste sitplekke het albei “aktiewe” kopstutte wat in ’n ongeluk vorentoe skuif en jou só teen sweepslagbeserings beskerm.

Gebou om te hou, of nie:

Daar’s bitter min fout met die hoëgehalte-afwerking binne en buite.

OP PAD

Bestuurderposisie:

Die bestuurdersitplek, soos die stuurwiel, is elektries verstelbaar, die klankstelsel en spoedbeheer het beheerknoppies op die stuurwiel, en dan is daar ook ’n tru-parkeerhulpstelsel en herontwerpte instrumentkonsole.

Padgeraas:

Kia het uit sy pad gegaan om padgeraas te verminder, soos nuwe geluiddempende materiaal in die meer vaartbelynde romp met sy laer sleursyfer, dikker ruite voor, beter ontwerpte kantspieëls en nuwe seëls in die deure … en dit werk.

Padhouvermoë:

Volgens Kia is die onderstel-ingenieur aangesê om veral die nuwe Sorento se teerpadryvermoë te verbeter. En hy het goeie werk gedoen, want daar is bykans geen bakrol nie en die Sorento klóú in die draaie. Die sewesitplekmodel het agtervering wat self verstel.

In stadsverkeer:

Die gewillige dieselenjin sal jou by verkeersligte ’n voorsprong gee.

Op die langpad:

Die enjinreaksie is só skerp jy kan skaars glo jy is in ’n 2,2 liter-dieselvoertuig. Dié enjin en sy nuwe sesspoedratkas het net nie einde nie. En dan is daar natuurlik al die ander lekker langpaddinge soos die klankstelsel, spoedbeheer, verstelbare bestuurdersitplek en leersitplekke.

Ratwisseling:

Die ou met die wit jas by Kia wat die nuwe kompakte sesspoedratkaste ontwerp het, verdien ’n vet bonus. Kies tussen gewone outomatiese skakeling of die Sport-verstelling as jy meer beheer wil hê.

Werkverrigting:

Kia het wel die Sorento se enjins verklein (die dieselenjin van 2,5 liter tot 2,2 liter en die V6-petrol van 3,8 liter tot 3,5 liter), maar dit reggekry om dit meer brandstofdoeltreffend te maak én meer woema te gee.

Remme:

Die skywe voor en agter doen presies wat van hulle verwag word. Dit vat wel ’n tydjie om gewoond te raak aan die voethandrem.

VAN DIE PAD AF

Dís wat jy alles kry: Kom ons kyk eers na wat jy nie kry nie: laestrek, goeie grondvryhoogte, ’n leerraamonderstel en ’n bewese viertrekstelsel.

Saam met die “viertrekstelsel” hierbo beskryf, kry jy darem hellingwegtrekhulp, stabiliteitsbeheer en remhulp teen afdraandes (dit handhaaf 8 km/h teen steil afdraandes).

Hoe vaar hy op …

  • Grond: Die Lock Mode skakel self af as jy vinniger as 30 km/h ry – wat ’n probleem kan wees as jy byvoorbeeld ekstra vastrap wil hê op grondpaaie of momentum in sand moet hou.
  • Sand: Sien bo.
  • Klip: Dis nie eintlik bedoel as ’n klipbreker nie, of hoe?

Van Zylspas of nie? Geen probleem nie, mits die pas geteer is.

HOE PRAKTIES

Dít werk:

  • Die herontwerpte middelkonsole het 16 liter se bêreplek – 10 liter meer as voorheen.

Maar dít pla:

  • Die volgrootte noodwiel is onder die vloer van die laaibak, m.a.w. jy sal eers alles moet afpak as jy ’n pap band het.
  • Die agterste ruitveër vee net ’n betreklik klein kolletjie – as dit hard reën, is jou uitsig ietwat belemmer

DIE SJOE!-GEVOEL

WAARDE VIR GELD

Ons hou van ...

•

Die Sorento se stilering laat hom uitstaan in die “sagte” SNV-klas.

•

Die nuwe dieselenjin en sespoedratkas is fluweelglad.

•

Jy kry 15% meer pakplek as voorheen (foto).

Ja, maar ...

•

Dis jammer Kia het die laestrekratkas weggelaat.

•

Die nuwe dieselenjin is allergies vir enig¬iets anders as 50 ppm-diesel (foto).

Grootste mededingers?

Chevrolet Captiva 2.0 D LTZ: R393 080

Toyota RAV4 2.2 D-4D: R363 700-R408 600

Honda CRV 2.2 i-CTDi: R396 900 (foto)

WegRy sê:

Die eerstegeslag-Sorento het mense se beskouing van Kia as ’n “Koreaanse vervaardiger van klein karretjies” op sy kop gekeer.

Die tweedegeslag-Sorento is eenvoudig ’n kwantumsprong vorentoe vir Kia. Net jammer van die laestrek.

Oorspronklik gepubliseer in WR#17 | Feb-Maart 2010

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM