Motors

Land Cruiser 200 VX 2008

Toyota het nie eintlik ’n advertensieveldtog nodig vir die nuwe Land Cruiser 200 nie, want watter beter advertensie wil jy nou hê as die Cruiser se legendariese reputasie wêreldwyd? Maar is reputasie genoeg, vra Barnie Louw.Laat ek nou maar eerlik wees: Ek’s ’n Toyota-man, my familie is Toyota-mense en my oom het selfs ’n Toyota-handelaarskap. Coronas, Corollas, Cressidas, noem maar op, ons het hulle gery. Omtrent al my 4x4-ervarings was in ’n Land Cruiser of ’n Hilux.Die aand voor die bekendstelling van die nuwe Land Cruiser 200 was ek so opgewonde ek kon omtrent nie ’n oog toemaak nie. Op die bekendstelling het ek selfs my vrou leedvermakerig gebel, net om te sê ek sit agter die stuur van die nuwe Cruiser.Maar terug op kantoor begin ek my huiswerk doen en ... Wag ’n bietjie, wat gaan dan nou hier aan? Is dit moontlik dat in die ongenaakbare lig van die feite, weg van ’n paar dekades se emosie en nostalgie, die nuwe “Koning van 4x4’s” (waarvan daar al 65 000 in Suid-Afrika verkoop is) nie meer so onoorwinlik soos gewoonlik is nie?Wat is anders?Kom ons kyk eers hoe verskil die 200-reeks van sy voorganger, die 100-reeks:Topklas, man. Die 200-reeks is net beskikbaar in die luukse VX-spesifikasie. Geen meer GX’e nie ...Ratwerk.Die dieselmodel het ’n outomatiese sesspoedratkas, en die petrolenjin ’n outomatiese vyfspoedratkas.Viervoetig.Dit het permanente vierwielaandrywing, maar die skakeling tussen hoë- en lae-strek word elektronies gedoen, in plaas van die hefboom-skakeling van die 100.Om beter te ry, my kind.Die veerstelsel is nou dubbele mikvere voor en ’n verbeterde veelskakel-kronkelstelsel agter.Sjoe, maar jy’s groot. Hy’t dieselfde as-afstand as die 100, maar die 200-reeks is 6 cm langer, 3 cm breër en 3 cm hoër, en die bestuurkajuit 13 cm en die bagasieruim 5 cm langer.Om beter te sien, my kind. Danksy die meer kompakte V8-enjin is die enjinkap effens korter, sodat jy beter kan sien.Roes?Ga! Die bak is ligter, sterker en roesbestand.Vat 8, my vriend.Die 200-reeks het net V8-enjins (petrol én diesel). Behalwe dat dit waarskynlik die langste enjinnaam ter wêreld is, het die 4,5 liter-hoëdruk-deeltoevoer-V8-dieselenjin met tussenverkoelde dubbele turbo-aanjaers (173 kW @ 3 200 r.p.m. en 615 Nm @ 1 800-2 200 r.p.m.) ook 23 kW (15%) meer krag en 185 Nm (43%) meer wringkrag as die 100-reeks se 4,2 liter-turbodiesel.Die 4,7 liter-VVT-I V8-petrol-enjin (202 kW @ 5 400 r.p.m. en 410 Nm @ 3 400 r.p.m.) ontwikkel 30 kW (17%) meer krag as die 100-reeks se 4,5 liter-V8-petrol, maar sy wringkrag bly dieselfde.Wag ... daar’s nogBehalwe die meganiese goeters het die 200-reeks sommer baie nuwe elektroniese funksies:Hokaai! Die nuwe veelterrein-ABS pas outomaties aan by die terrein waaroor jy ry.Stadig oor die klippe.Met die nuwe kruipfunksie vir die petrolmodel kruie die voertuig self teen ’n bestendige lae snelheid (1 km/h-10 km/h) oor uiters rowwe terrein. Jy hoef net die stuurwiel vas te hou.Nóg ’n afkorting.Die KDSS (Kinetic Dynamic Suspension System) beperk voertuigrolbeweging, en in die veld help dit vir beter wielspeling. Alles danksy ’n hidrouliese stelsel wat die voorste en agterste stabiliseerders verbind.Nóg speelgoed.Dit het alles wat jy sal verwag in ’n voertuig van R700 000+, soos byvoorbeeld tien lugsakke, hoofligwassers, leerbekleedsel,’n satellietnavigasiestelsel met raakskerm, ’n ses-CD-wisselaar, ’n radio met nege luidsprekers en MP3- en Bluetooth-versoenbaarheid, reëngevoelige ruitveërs, ’n koelkassie in die middelkonsole en ’n 12 V-kragprop.Kyk die kat uit die boomAlles klink nogal indrukwekkend, of hoe? Maar voor jy koop, besin eers oor waarvoor jy die Cruiser 200 wil gebruik.Die mededingers.Die mense by Toyota maak geen geheim daarvan dat die nuwe Cruiser eintlik gemik is op die mense met baie bokke nie.Niks daarmee verkeerd nie, maar as jy byvoorbeeld jou nuwe Cruiser 200-diesel van R770 000 gaan gebruik om jou skoonfamilie te beïndruk, en af en toe die hond veearts toe te vat, moet jy miskien eers appels met appels vergelyk.Vir R754 000 kan jy ’n Volkswagen Touareg V10 TDI kry. Sy 230 kW en 750 Nm is onderskeidelik 33% en 22% beter as die Cruiser s’n. Boonop is sy brandstoftenk van 100 liter 7 liter groter as die Cruiser s’n.En vir R752 000 kan jy ’n Range Rover Sport TDV8 koop. Sy 200 kW en 640 Nm is onderskeidelik 16% en 4% beter as die Cruiser s’n. Boonop kan jy 11 liter meer brandstof ingooi.Aan die binnekant.Die binne-ruim van die Cruiser-vlagskip is verbeter, ja, maar gemeet aan sy mededingers skiet dit wat ware luuksheid betref nog hier en daar tekort.In die veld.Land Cruiser se legendariese taaiheid en betroubaarheid is in die 200-reeks se DNS, en al is die 200 waarskynlik nie bedoel as hardebaard-veldryer nie, is daar min plekke waar dit jou nie gaan bring nie.Maar in die afwesigheid van ’n GX-model is die minder luukse, maar veel taaier Cruiser 70 waarskynlik ’n beter keuse as jy die werklike wilde dele anderkant die Limpopo gaan pak.Boonop is die noodwiel steeds onder sy pens, en die 93 liter-brandstoftenk is miskien ’n bietjie klein om die V8 baie ver aan die gang te hou. (Terloops, die grondvryhoogte en naderings- en vertrekhoek van die Touareg en Range Rover is ook aansienlik beter as die Cruiser s’n, maar nie een van dié twee het die reputasie van ’n ernstige veldvoertuig nie.)Dus ...As jy ’n super-luukse speelding soek om jou kollegas en buurman te beïndruk is daar ander voertuie in dieselfde klas wat die Cruiser effens oorskadu. En as jy ’n geharde veldvoertuig soek, kan hy weer nie heeltemal met die 100-reeks GX of 70-reeks saamgesels nie.Jou besluit om een te koop sal waarskynlik daarop berus hoeveel waarde jy aan Toyota se reputasie heg. En is dit ’n goed genoeg rede?Besluit maar self.Braaivleisfeit: Vir die prys van ’n nuwe Cruiser kan jy ’n Fortuner én ’n Cruiser 70 koop (en nog sommer baie biergeld oorhê).Bl 2: Die feiteDIE FEITEGOED, HOEVEEL?

  • Vloerprys: Diesel: R770 000;Petrol: R738 000
  • Diensplan: 5 jaar/90 000 km
  • Waarborg: 3 jaar/100 000 km

GEE MY KRAG!

  • Enjin: Diesel: 4,5 liter V8;Petrol: 4,7 liter V8
  • Ratkas: Diesel: outomatiese 6-spoedratkas;Petrol: outomatiese 5-spoedratkas
  • Krag: Diesel: 173 kW @ 3 200 r.p.m.;Petrol: 202 kW @ 5 400 r.p.m.
  • Wringkrag: Diesel: 615 Nm @ 1 800-2 200 r.p.m.; <br/> Petrol: 410 Nm @ 3 400 r.p.m.

HOE VINNIG, HOE DORS?

  • 0-100 km/h: Diesel: 8,6 sek; Petrol: 9,5 sek
  • Topspoed: Diesel: 210 km/h; Petrol: 200 km/h
  • Brandstofverbruik: Diesel: 10,2 liter/100 km; Petrol: 14,4 liter/100 km
  • Brandstoftenk: 93 liter

ONDERKANT?

  • Vering: Dubbele mikvere voor en ’n veelskakelkronkelveerstelsel agter.
  • Remme: Geventileerde skyfremme voor (34 cm)en agter (34,5 cm)

HOE GROOT?

  • Wiele/bande: 17 duim-allooi; 295/65 R17;volgrootte noodwiel
  • L./B./H.: 495 cm; 197 cm; 191 cm

HOE SWAAR?

  • Gewig: 3 300 kg
  • Maks. sleepgewig: 3 500 kg

HOE BEKWAAM?

  • Naderingshoek: 30 °
  • Vertrekhoek: 20 °
  • Grondvryhoogte: 22,5 cm

MEDEDINGERS? VW Touareg, Mercedes-Benz ML/GL, Range Rover SportVIR? Dis ’n Toyota – die naam behoort vir party mense genoeg te wees.TEEN? Miskien nie heeltemal luuks genoeg vir ’n ware luukse voertuig nie, en miskien nie heeltemal taai genoeg vir ’n ware veldvoertuig nie.Oorspronklik gepubliseer in WegRy #5 | Feb-Mrt 2008

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM