Batterymotors word al hoe meer met 'n heel gawe reikafstand van 400 km of selfs meer aan die publiek opgedis. Maar hoe akkuraat is daardie belangrike syfer? Marnus Hattingh doen verslag.

Daar is twee dinge wat kopers van elektriese voertuie (EV's) huiwerig maak om hand in die beursie te steek: Eerstens is hulle peperduur - gewoonlik dubbel die prys wat jy vir 'n ekwivalente, petrolgedrewe model sou moes betaal. En tweedens is hul reikafstand nog beroerd.
Vervaardigers is nie te veel gepla oor die prys-faktor nie. Dit is grootliks net in Suid-Afrika waar EV's so duur is. Dis vanweë ons bykomende belasting wat op hierdie soort voertuie gehef word (wat oorsee nie die geval is nie), plus ons swak wisselkoers, wat die invoer van die motors ekstra duur maak.
Owerhede in die buiteland maak EV's baie meer toeganklik as 'n alternatiewe opsie deurdat hulle nie so baie belasting hef op EV's nie en ook verskillende soorte aansporings vir kopers aanbied om dit aan te skaf. Dit sluit in 'n kontant-hupstoot as jy 'n nuwe EV aankoop, verlaagde lisensiekoste of selfs bloot die reg om in middestede te mag ry en parkeer.
Iets waaraan vervaardigers wel baie aandag gee, is die voertuie se reikafstand. Die oorgrote meerderheid EV's word deur litiumioon-batterye aangedryf. Dié kragbronne is baie swaar (maklik 400 kg vir 'n tipiese battery) en neem lank om te herlaai.
Ry jy boonop energiek, verloor hulle vinnig hul lading.
Deur van ligte metale in die bouproses gebruik te maak, kon vervaardigers die moderne EV se gewig - sonder sy battery - al heelwat afbring. Dit help om 'n beter reikafstand daar te stel.
Ons sien dus dat reeds binne 'n dekade die gemiddelde reikafstande van 250 km tot 400 km opgeskiet het. Hoe akkuraat hierdie syfers van die vervaardigers is, is 'n groot debat in die bedryf.
Baie verbruikers en joernaliste sal meld dat in gewone gebruik, die ervaring is dat 'n mens nie naby daardie syfer kan kom nie.
Vier menere op 'n ry
In 'n poging om 'n meer wetenskaplike en vergelykbare toets te bied om die verrigting van hedendaagse EV's se batterye mee te meet, het die plaaslike webwerf Autotrader vier intree-EV's geneem en op die Gerotek-toetsbaan buite Pretoria gaan toets.
Die voertuie is konstant om die groot ovaalbaan gery teen 120 km/h. Elkeen se battery was op 90% vol en daar is eers stilgehou wanneer die battery nog net 10% lading oorgehad het.
Hoe sou die BMW iX1, Haval, Ora, Volvo XC40 Recharge en die Mercedes-Benz EQA in die toets vaar?
Die uitslag was eintlik openbarend en getrou aan wat al meermale ervaar is in werklike toestande met EV's. Die voertuie kon nie naby hul gegewe reikafstande kom nie (sien kassie).
Die dilemma vir die EV's was tweërlei. Eerstens hou EV's nie daarvan om teen hoë snelhede te toer nie.
Waar 'n petrolmotor 'n agtste rat het wat jy kan benut om jou spoed te handhaaf terwyl die enjin stadig draai, het die EV net een rat. Hy verkies dus 'n stadige spoed om matige batterygebruik te benut.
Die tweede probleem waarmee die EV's sukkel, is dat hulle in stadsverkeer gereeld kans kry om energie te herwin wanneer jy rem vir verkeersligte of ander verkeer. Op die oop pad, soos wat die ovaalbaan-toets nageboots het, is daar geen herwinning nie.

En toe die goëlbal . . .
Vir die verbruiker laat dit met 'n kopseer. Vervaardigers maak aanspraak op groot syfers vir hul reikafstand. Maar in normale, alledaagse gebruik sukkel dit om by daardie magiese syfers uit te kom. Presies soos wat die toets op die ovaalbaan gewys het.
As 'n goëlbal vir die oefening, het Autotrader ook 'n Toyota Corolla Cross Hybrid aan die toets laat deelneem. Sy verbruik, teen die konstante 120 km/h, was 6.7 liter, wat aan die Cross 'n reikafstand van 537 km gebied het. Meer as dubbel die EV's s'n en terwyl hy baie goedkoper is.
Die Cross gebruik petrol en stel dus 'n mate van skadelike uitlaatgasse vry. 'n Mens kan ook sê die EV's word met Eskom-krag gelaai, wat met steenkoolkragstasies opgewek word.
Wat's die oplossing?
Die antwoord is steeds dat ons huidige batterytegnologie nog nie op die punt is om as haalbare alternatief te dien nie.
Wat 'n mens wel kan hoop gebeur, is dat wetgewing toegeefliker gemaak word vir EV's om die speelveld vir hul pryse gelyk te kry. Dan sal die vervaardigers meer van die klein EV's moet invoer, wat ons as stadsbuksies in die week kan benut, op kort roetes na die kantoor, die winkel en die skool.
Terwyl jy jou EV dan oor die naweek herlaai (straks met gratis sonkrag?), kan jy die langpad haak met 'n sportnuts - hibried of dieselenjin.














