Motors

Black Edition ’n kispak vir die A3

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Met al sy swart stilerings by die rooster en flanke lyk die A3 Black Edition sommer heel spoggerig. Die 1.4-liter is besonder lig op brandstof. Foto: Marnus Hattingh
Met al sy swart stilerings by die rooster en flanke lyk die A3 Black Edition sommer heel spoggerig. Die 1.4-liter is besonder lig op brandstof. Foto: Marnus Hattingh

Ek loop 'n jong ma in die winkel raak. Haar oë staan wild - in haar hand klou sy 'n lang kooplysie vol probleme vas.

"My negejarige verjaar Saterdag. Ons hou partytjie," gooi sy die dolosse tussen ons neer.

Ek snap dadelik die uitdaging en gesigsuitdrukking.

"Het jy garage-paarties gehad op skool?" Haar oë kantel skuins na bo. Die gesigspiere verslap. Sy onthou lekker dinge. "Ons het altyd garage-paarties gehad. Laerskool al."

Ek knyp die Audi se sleutel in my broeksak vas. Dis die A3-sedan, my toetsmotor. Soos ek is hy nie heeltemal die garage-paartie-soort nie.

Sportiewe voorkoms

Audi het sy bes probeer met die opgeknapte A3-sedan.

Saam met die Q3 en die A4 kan jy nou twee spesiale modelle by elk gaan uitkies: Die Urban­ en die Black Edition.

Myne is die Black Edition en soos die naam sê, is hy heerlik getooi met swart aksente en spesiale bykomstighede. Die vier ringe op die sierrooster is byvoorbeeld pikswart. So ook die kantspieëls, die buffer ag-ter en die groot 18-duim-sierwiele.

Binnelangs bederf die Black Edition jou met Audi se S Line-afwerkingspakket as standaard.

Dit beteken 'n kleiner, vetter sportstuurwiel, dieper sportsitplekke, swart leerbekleedsel en kontrasterende stikwerk.

Dit als lyk heel spoggerig.

Daar's selfs laer sportvering wat netjies by die laeprofielbande pas en 'n tamaai sondak wat die son nader wink.

Tog is dit net al of die A3-sedan soos daai bleeksiel by die garage-paartie net te hard probeer om cool te lyk. Hy bly 'n klein gesinsedan.

Stylvolle kajuit

Wel, as 'n ryding is dié kompakte sedan heel skaflik. Eintlik heel lekker. Onder die enjinkap sit die bekende 1.4-liter-petrolturbo wat 'n gesinsvriendelike 110 kW en 'n beskaafde 250 Nm wringkrag losdraai.

Die hoogtepunt van die kragbron is sy lae brandstofverbruik. Audi sê jy behoort 6,1 liter te handhaaf, maar ek het hom vinniger as wat jy "waar's die DJ?" kan sê, afgebring na 4,8 liter. Dis baie goed. Eintlik is dit uitstekend, want jy kan met een tenk brandstof 1 000 km ry, sou jy soos 'n muurblom bestuur.

Die sedan draf heel gewillig in die verkeer. Soos alle moderne Audi's is die instrumentpaneel so 'n seepgladde, skoon affêre. Daar's niks los knoppies of skakelaars nie. Net so 'n stomp pennetjie om die ratte te kies en 'n plat skakelaar vir die elektroniese handrem.

Aanvanklik moet jy gewoond raak aan die lae sitposisie van 'n sedan noudat alle motors deesdae hoogsit-sportnutse is.

Maar die kajuit is lekker stil en die versnelling moeiteloos danksy die flink turbo onder die enjinkap.

My enigste frons was die gebrek aan 'n trukamera. Vir 'n motor van R800 000 is dit effe laf om nie 'n kamera te hê as jy agteruit by 'n nou parkeerruimte moet uit nie.

Afsaal

Met die Black Edition - die valer Urban Edition skreeu: "My pa is 'n bibliotekaris" - het Audi raakgevat om sy gesinsmodel 'n bietjie oemf te gee.

Al die regte aksente is daar.

Hy is boonop suinig met brandstof en bestuur so lig soos room op poeding.

Vir R800 000 kan jy egter uit baie voertuie kies, onder meer 'n hele paar groot sportnutse met groter enjins - en 'n trukamera. Kom ons kyk of die Black Edition-modelle die garage-paartie aan die gang kan skop vir Audi.

  • Prys: Audi A3-sedan 35 TFSI Black Edition - R806300

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM