Omoda en Jaecoo het op die onlangse Beijing-motorskou die kollig met 'n rits nuwe produkte gesteel, waaroor ons verlede week berig het. Die twee handelsname se moedermaatskappy, Chery, het darem ook sy eie spogmodel gehad in die vorm van die nuwe Tiggo 9 Pro PHEV met sy inprop- hibridiese aandrywingstelsel wat op die skou bekend gestel is.
Ons kon op die skou van naderby met die nuweling kennis maak en het 'n paar dae later boonop die geleentheid gehad om agter sy stuur in te skuif. Die goeie nuus is dat die Tiggo 9 ook vir Suid-Afrika bestem is.
Die Tiggo 9 skuif in die boonste gestoeltes as vlagskipmodel van die Tiggo-reeks in. Dis ook die grootste model wat Chery tans bied en is 9 cm langer en 6 cm breër as die reeds ruim Tiggo 8 Pro, met 'n asafstand wat teen 280 cm ook 9 cm langer is. Soos die Tiggo 8 het die Tiggo 9 ook drie rye sitplekke.
Visueel vertoon die Tiggo 9 statig met sy skoon, ongekunstelde stilering. Die reguit lyne, veral aan die flanke, en deurhandvatsels wat gelyk met die bakwerk lê, blyk 'n gewilde ontwerptema te wees, so ook met die Tiggo 9.
In die PHEV-model se geval verleen die toegemaakte "sierrooster" 'n bietjie ekstra glans met 'n interessante sirkelvormige patroon. Die agterkant vertoon ook netjies met 'n dun ligstrook wat aaneenlopend van een kant na die ander strek.
Die binneruim is 'n luukse affêre met ruim, gemaklike sitplekke en sagte materiale vir die meeste oppervlakke. Die instrumentpaneel bestaan uit verskillende vlakke wat deur 'n netjiese beslag en chroomstreep verdeel word wat tot in die deure strek. 'n Mediaskerm van byna 40 cm in die middel tref die oog met 'n kleiner aparte skerm wat voor die bestuurder geplaas is.
Die algehele ontwerp is minimalisties met feitlik geen fisieke skakelaars nie, soos wat deesdae maar die gebruik is, behalwe by die middelkonsole, wat taamlik hoog geplaas is en onder meer 'n draaiknop het vir bestuursverstellings, asook 'n laaivakkie vir jou foon. As topmodel in die Tiggo-reeks kan 'n mens 'n string luukses te wagte wees, asook 'n stewige lysie veiligheids- en bestuurshulpmiddels.
As Chery sy prys onder R1miljoen kan hou, behoort hy 'n aanloklike opsie te wees.
Massiewe reikafstand
Wat die enjins betref, is daar die genoemde PHEV-model, wat deur 'n 1.5-liter-turbopetrolenjin aangedryf word wat 175 kW en 385 Nm lewer, gekombineer met 'n agtspoed- outomatiese ratkas. Die enjin word bygestaan deur 'n elektriese motor wat op sy beurt 165 kW bydra vir 'n stewige kraghupstoot.
Ons het nog nie syfers vir hoe ver die Tiggo 9 PHEV op elektriese krag alleen kan ry of wat die grootte van sy battery is nie, maar die enjin het 'n gemiddelde brandstofverbruik van 5,2 liter, wat hom in kombinasie met die elektriese motor 'n beweerde reikafstand van tot 1 400 km gee.
As die syfer naastenby akkuraat is, is dit potensieel grensverskuiwend en 'n doeltreffende manier om enige vrese oor reikafstand te besweer.
Daar is ook 'n petrolmodel wat dieselfde 2.0-liter-turbo-enjin as die Tiggo 8 Pro gebruik wat 187 kW en 390 Nm lewer.
Ons kon in China op 'n toetsbaan vlugtig agter die stuur van die Tiggo 9 PHEV inskuif. Hoewel dit moeilik is om veel wys te word oor so 'n kort afstand, was die tekens belowend, veral wat versnelling betref, terwyl die ritgehalte ook aangenaam voel met 'n redelike ligte stuur.
Die Tiggo 9 PHEV word einde vanjaar of vroeg volgende jaar plaaslik verwag.
Daar wag taai mededinging op hom in die premium deel van die mark, maar as Chery sy prys onder R1 miljoen kan hou, behoort hy 'n aanloklike opsie te wees wat 'n goeie balans bied tussen die voordele van elektriese aandrywing en die praktiese gebruik van 'n binnebrandenjin.















