Blaas tog volgende keer jou bande af, pak herwinningstoerusting in en los die ego by die huis. Hier's WegRy se grootste oepse van 2015.
1. Los maar die ego tuis

Dis lekker om in die duine te speel, maar soos hulle sê, van lekker lag kom lekker huil.
Waar: Die rooi duine van die Kgalagadi-oorgrenspark
Hoe: "Ons was teen dié tyd al 'n paar dae in die veld en ek het al geglo geen duin kan my keer nie. Ek het in daardie stadium nie meer uitgeklim voor ek die duin uitry nie omdat ek gevoel het ek weet wat aan die anderkant aangaan." - Quentin Wessels, Jwaneng, Botswana
Herwin met: 'n Kinetiese tou
2. As dit reën in die Kalahari


Moenie dink jy kan nie in die dorre Kalahari vassit nie. Want 'n vinnige reënbui kan jou sommer gou op jou neus laat kyk.
Waar: Kalahari, verby Groblershoop en Grootdrink
Hoe: "Op pad verskyn daar 'n stewige plas water in die tweespoorpad, maar ons druk deur. Met die terugkomslag deur die plas gee ons Toyota 3000 KZ TE 4x4 egter net een hoes en daar staan hy." - Cobus Dreyer, Bloemfontein
Herwin met: Moeite (Radeloos besluit ons toe die helfte van die span moet te voet met die werk voortgaan, terwyl die ander twee die 4 km teerpad toe moes aflê om 'n geleentheid te soek om die ander bakkie 30 km verder te gaan haal.)
3. Die dag as die gety draai

Nie alle oepse is snaaks nie. En wanneer sake ernstig raak, help 'n mens, of dit nou jou voertuig is of nie...
Waar: Hole in the Wall in die Transkei
Hoe: "Die een middag was ons by Hole in the Wall en het ons gesien hoe 'n man op die strand sy waterponie op sy sleepwa probeer laai. Hy en 'n ander man het taamlik gesukkel. Intussen het die gety gedraai en was dit vinnig besig om in te kom." - Condré Swart, Upington.
Herwin met: 'n 2.7 Hilux-bakkie, groep omstanders en kinetiese tou
4. As 'n pyp jou laat bars

Soms val jy op die mees onverwagte plek vas... soos in 'n kampterrein.
Waar: Nwanedi-reservaat
Hoe: "Ons het binne die kamp rondgery op soek na die perfekte staanplek, en ek het 'n waterpyp misgekyk wat al weke lank gelek het. Die grond was papsopnat, en voor ek my kon kry, sit ons vas." - Corharm Snijder, Pretoria
Herwin met: Die kampterrein se trekker en 'n paar behulpsame werkers.
5. As 'n wenas jou moet red

Banddruk is die goue reël van sandry. En as jy dít vergeet, moet die "verkeerde" mense jou dalk uit 'n penarie red.
Waar: Suid van Sorris-Sorris, by droë Ugab-rivierbedding
Hoe: "Ek het nie my Patrol se banddruk verlaag nie. Ons het dit tot so in die helfte van die rivier gemaak voor die Patrol sy wiele in die sand ingegrou het." Johan Pheiffer, Pretoria
Herwin met: Ek wil net beklemtoon dat dit 'n Warn-wenas was wat my uitgesleep het en nié 'n Land Rover nie. Die Land Rover was net 'n ankerpunt vir die wenas.
6. Viér keer

As jy jou met dik kikoejoegras misgis, gaan jy jou naam deur die modder sleep. Keer op keer op keer.
Waar: Swaziland
Hoe: "Ons wou kyk wie kan deur 'n lekker stuk modder onder dik kikoejoe-gras ry. Met 'n splinternuwe paar moddertekkies op die Colt het ek hope gemoedsrus gehad en gedink dit gaan sommer kinderspeletjies wees… Ek het my naam letterlik deur die modder gesleep daardie dag - ek het viér keer probeer om deur te ry, en moes viér keer herwin word!" - Arrie Korkie, Bethlehem
Herwin met: Goeie kinetiese tou
7. Grawe jou graf


Die eerste reël van sandry is om jou bande af te blaas. As jy dit nie doen nie, gaan jy beslis in die stof byt.
Waar: Duin 7, Swakopmund
Hoe: "Ons het net 'n paar uur vroeër ons bande in Swakop laat pomp en ek dog toe, kom ons kyk hoe ver ons met harde bande kan kom." - Thinus Kruger, Kempton Park.
Herwin met: 'n Nissan Hardbody
8. Diep in die moeilikheid

Om in die modder te speel is altyd pret, maar ná swaar reëns kry jy dalk 'n vuil verrassing. Nes Juan Jacobs uitgevind het.
Waar: 'n Stuk veld in Emalahleni (Witbank)
Hoe: "Ek het die spore gesien en gedink ek wil dit met my Land Rover Defender 90 waag. Hulle was egter baie dieper as wat ek geskat het en die modder was boonop baie dikker as wat ek gedink het. En daar val ek vas!" - Juan Jacobs, Witbank
Herwin met: My broer en sy Jeep kon my met 'n vinnige kinetiese pluk herwin.
9. Gestop deur 'n knop

Die terrein, banddruk en momentum is gewoonlik die sondaars as jy vassit. Soms kan dit egter iets so eenvoudig soos jou voertuig se lengte wees wat jou in die moeilikheid laat beland.
Waar: 4x4-baan in Lichtenburg
Hoe: "Vol selfvertroue volg ek toe vir Wimpie oor ‘n "spoedhobbeltjies". Of so het ek gedink. Ek moes eers na dié "spoedhobbel" gekyk het voor ek oorgery het, want om daai spoedhobbels in 'n reguit lyn aan te pak met 'n voertruig wat 'n lang asafstand soos die Patrol het, is nie 'n goeie idee nie." - Cedric Warner
Herwin met: Wimpie se Patrol
10. Eerste uitstappie, eerste blaps

Wanneer jy ordentlik begin 4x4 ry, is dit 'n kwessie van tyd voor jy gaan vassit. Hoekom dit uitstel as jy al sommer op die éérste uitstappie met jou nuwe bakkie kan vasval?
Waar: Tussen Polokwane en die Matlalarivier
Hoe: "Die wêreld was baie nat op sommige plekke, maar droog op ander. In 'n stadium het ek voor gery toe my Mitsubishi Triton skielik in sopnat riviersand vasval." Carlo Fourie, Polokwane
Herwin met: My vriend se Mitsubishi Triton
Deel jou Oeps-oomblik met ons en wen ‘n 4x4 Equip Combo-graaf van Opposite Lock 4WD & Vehicle Accessories ter waarde van R999!
E-pos ‘n foto en ‘n beskrywing van wat gebeur het na redakteur@wegry.co.za.















