Motors

Die grootste skuif - vir die grootste jaer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lewis Hamilton ()Mercedes) het die F1-wêreld vandeesweek aan die gons gehad met die nuus dat hy hom vanaf 2025 by Ferrari sal aansluit as jaer.
Lewis Hamilton ()Mercedes) het die F1-wêreld vandeesweek aan die gons gehad met die nuus dat hy hom vanaf 2025 by Ferrari sal aansluit as jaer.

Nee, Februarie is nie April nie.Dit was hierdie Donderdag, die 1ste, egter geen gekkegrap toe die heelal gehik het nie. Wél 'n aankondiging vanuit in Maranello, Italië, wat ravyne in die Formule Een-wêreld se fondamente oopgeruk het.

Wat ongetwyfeld beskryf kan word as die sport se aardskuddendste jaerskuif van die eeu, sal die sewemalige Mercedes-superster, Sir Lewis Hamilton - in 2025 die Driepuntster verruil om instede Ferrari se swart hings te bestyg.

Dié skielike skeiplan van die span wat Hamilton op ewe opspraakwekkende wyse vanaf McLaren in 2013 by aangesluit, en die rekordboeke gevolglik mee versnipper het met die losjaag van ses jaerskrone, 82 seges en 78 voorste wegspringposisies, was so onverwags as wat dit tekenend is van Hamilton se gemoed.

Tog ook sy dryfkrag, ongeag sy goue F1-jare.Hamilton se skuif na Ferrari volg nadat Mercedes in ongenade verval het met die aanvang van F1 se huidige era van ondervloerse-aërodinamika, wat in 2022 begin het.

As F1 se enigste honderdmalige renwenner kon selfs hý nie eers 'n enkele keer sedertien die podium se boonste trap haal nie. Terwyl hy voor 2022 die enigste jaer was om minstens by een grand prix in elke jaar van sy F1-deelname te kon seëvier, moes hy sedertien droogbek toekyk hoe Red Bull en Max Verstappen die kampioenskapskrone kuikenmoordagtig namekaar inryg.

Dié Britse jaer, wat 40 sal word in 2025, het verlede jaar toenemende bespiegeling oor sy moontlike uittrede gesnoer met die aankondiging dat hy ter elfder uur sy verbintenis met Mercedes tot einde 2025 verleng het.

Dolk in die hart

Desnieteenstaande word 'n F1-jaerskontrak se waarde eensdeels nie (net) gemeet aan wat die betrokke partye toekom nie, maar anderdeels ook die klousules vervat wat voortydige terminering in staat stel.

Hamilton se nuwe kontrak met Mercedes was dus opgestel as 'n een-plus-een-jaar-ooreenkoms, wat beteken een verpligte jaar (2024) met die opsie om te hernieu vir 2025, wat hy van die hand gewys het nadat 'n ge-oor-en-weer-vryery met Ferrari in die afgelope paar weke (of maande) uitgespeel het.

Dit is ook so dat hy die 2024-motor reeds met die span se rekenaarsimulator beproef het, en moontlik reeds gevoel het die nuweling se potensiaal is doodgebore, wat die nodige ekstra kole op sy skeiplanne gegooi het.

Hoe dit ookal sy, sal hy toenemend vanjaar weens vertroulikheidsvereistes al minder welkom by Mercedes se beplanningsvergaderings wees.

Bygesê is sy uitmakery met die Mercedes-span, wat hom in sy kruinjare tot die suksesvolste F1-jaer tot nog toe verhef het, onbetwisbaar 'n dolk in die hart (of 'n skop onder die sitvlak, afhangend van hoe jy dit benader) van 'n organisasie met sy een-duisend-plus werknemers wat hom jare lank verafgod het, maar waarin Hamilton duidelik mettertyd sy vertroue verloor het. En na 17 jaar in F1 weet Lewis lojaliteit het nog nooit 'n grand prix gewen nie.

Die klippie in die skoen is soseer nie skeiding opsigself nie, maar die oomblikheid en tydsberekening daarvan - met die gepaardgaande minagting van die opkomende seisoen wat Hamilton net nie vinnig genoeg sal kan verbywens nie.

Volgende jaar sal hy hom aansluit as spanmaat by Charles Leclerc, wat onlangs ook sý verbintenis met Ferrari vir 'n onbepaalde lang tydperk verleng het, om F1 se mees formidabele kragpaartjie te vorm. Hoe dié twee mekaar in 'n Mei-Desember-verhouding gaan opvryf, bly een van 2025 se opwindendste vraagstukke.

Vuurkoets na hoogste eer

Maar waarom Ferrari, en waarom nou? Die antwoord lê aan weerskante van die hede.

Kortom is F1 Ferrari. As die sport se oudste en tradisierykste span - en ongeag hoe onmededingend hulle motors of hulpeloos die kuipekorps is - wil elke renjaer ter wêreld vir F1 jaag. Dis 'n roeping soos pousskap; en 'n Ferrari-oorpak soos sy kleed: in Italië is Ferrari immers 'n geloof. 'n Titelsege met enige ander motor is 'n pelgrimstog, maar 'n kroon in 'n rooi motor is soos om na die hemel op te vaar in 'n vuurkoets.

Elkeen van F1 se reuse se name is iewers in die Ferrari-geskiedenis geëts. Behalwe dié van Ayrton Senna - wat dae voor sy dood in 1994 by Imola stilletjies met Ferrari-topbestuur vergader het met die oog op 'n toekomsskuif, slegs enkele maande nadat hy hom by die Williams-Renault-span aangesluit het. Wat hy geglo het ál motor was waarmee hy 'n titel kon wen.

En vandag natuurlik dié van Lewis Carl Davidson Hamilton. Maar nie meer vir lank nie.

Vir Hamilton, wat nog nooit 'n kampioenskap ingepalm het sonder 'n Mercedes-enjin nie, is dié skuif die laaste uitstaande legkaartstukkie om F1 se roemrykste CV te voltooi. Ferrari se voormalige messias, Michael Schumacher, het benewens sy opeenvolgende vyf kampioenskappe tussen 2000 en 2004, sy eerste twee krone met twee ander enjinvervaardigers ingepalm: bes moontlik die enigste rekord wat Hamilton nooit sal kan oortref nie.

En Lewis het ook sewe - maar hy soek weer die agtste wat Michael nooit kon haal nie.

'n Ford-moersleutel in die wiel

Dis ál waarop Hamilton fokus, en sy twyfel of Mercedes dit vir hom kan lewer na twee jaar se geploeg op F1 se boulevard van gebroke drome, het hom eindelik sy tasse daar laat pak.

Hy was destyds visionêr genoeg aan die einde van 2012 om sy rug op die McLaren-span, waarmee hy sy debuuttitel in 2007 verower het, te draai - ten gunste van die Mercedes-fabriekspan, wat hom sy volgende ses titels ná F1 se skuif na turbihibriede V6'e vanaf 2014 mak-mak besorg het.

In 2026 sal F1 wéér 'n gedaanteverwisseling ondergaan, en histories bied reëlwysigings die grootste geleentheid om die rangorde te skommel. In daardie jaar sal Red-Bull boonop sy vennootskap met Honda kwyt wees en Ford by hulle as vennoot aansluit, en nie noodwendig dadelik die mas sal kan opkom nie. Wat Ferrari weer voor in die koor sal plaas. Of só hoop Hamilton.

Maar wat as hulle ook teleurstel?

Vir al die romantiek van 'n jaer wat sy loopbaan afsluit met die haal van sy gesogste prestasie by F1 se tradisierykste span, is daar geen waarborg dat Ferrari oor die skietgoed beskik om die laaste treë te gee om Red Bull in 2025 (of selfs 2026) beslissend in te haal nie.

Vanaf 2022 is hulle topdrie-gehalte, maar goud ontwyk hulle voortdurend. Hul jongste wêreldkampioenskap is in 2007 gewen, en selfs dit was 'n frats. Hamilton moet dus bid vir 'n motor wat minstens sy ou Mercedes se gelyke is. Net nie swakker nie.

Die sport is nou ryker

Soos die sukses, gepaardgaande roem (en etlike honderde miljoene dollars) deur die jare ingerol het, het Lewis Hamilton ontaard in 'n al hoe meer verdelende figuur. Jy kan jou neus optrek oor sy popster-persoonlikheid, sy wokeness, sy slagofferskap onder druk en sy aangeplakte mid-Atlantiese aksent.

Maar dié skuif - op sy ouderdom - na Ferrari is onweerlegbaar dapper en onderskrywend van 'n onblusbare wen-honger wat weens omstandighede by Mercedes in 2022 en 2023 gedemp is, maar nooit doodgedruk kon word nie.

Daarvoor is F1 vanaf 2025 oneindig ryker; en verdien Lewis Hamilton alleen die allerhoogste eer.

Braam Peens

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM