Vir Toyota Suid-Afrika was 2023 'n rekordjaar, want nie net het die Japanse vervaardiger 'n fris 142 612 voertuie verkoop nie (sy meeste sedert 2007), hy't ook sy beste markaandeel tot nog toe behaal.
Dit ondanks die swak ekonomiese toestande in 'n mark wat verlede jaar met net 0,5% verkope gegroei het (532 098).
In sy jaarlikse "Stand van die motorbedryf"-gesprek verlede week in Gauteng het die vervaardiger ook 'n paar van sy jongste modelle gewys wat later vanjaar op pad is.

Die grootste nuus is sekerlik Toyota se eerste elektriese model (bZ4X), 'n aggressief gestileerde Hilux (GR Sport) en 'n hibridiese variant, asook die jongste Land Cruiser Prado.
Volgens Andrew Kirby, president van Toyota SA, het verkope verlede jaar fluks begin, maar toe gestagneer.
Redes daarvoor sluit in 'n verhoogde rentekoers, 'n swakker rand, 'n rekord van 332 dae beurtkrag en 'n agterstand van tot vyf weke by die land se hawens.
Interessant is die verskuiwing in bronlande vir ingevoerde modelle, met Indië en China wat nou sterk na vore tree, sê Kirby.
42% van gesinsmotors wat hier verkoop word, kom van Indië - 'n stewige styging vanaf 28% in 2022. Terselfdertyd het China se aandeel van 3% van die invoermark verlede jaar tot 9% gestyg.
Kirby voorspel dat verkope vanjaar plat gaan bly (540 000).
Toyota se aandeel verlede jaar in die mark vir elektriese voertuie was 53%, grotendeels te danke aan die Corolla Cross Hybrid.
'n Nuwe Hilux en Cruiser
Die gewilde Land Cruiser 70-reeks (wat al volgende maand beskikbaar sal wees) het pas 'n opknapping ondergaan.
Dit behels meer klassieke stilering vir al die bakvorms (enkel -en dubbelkajuit, asook stasiewa), 'n model met die 2.8-liter-GD-6-enjin en, vir die eerste keer, 'n sesgang- outomatiese ratkas, asook 'n nuwe inligtingstelsel in die opgegradeerde kajuit.
Dis wel die nuwe Land Cruiser Prado en 'n selfs meer aggressiewe Hilux GR Sport wat die meeste aandag getrek het.
Stileringsgewys is die wyebak-GR S III met sy Tundra-geïnspireerde sierrooster en Dakar-agtige afwerking Toyota se antwoord op die Ford Ranger Raptor.
Die veldryer (wat in Maart beskikbaar sal wees) behou die beproefde 2.8-liter-enjin (165 kW en 550 Nm se wringkrag) van sy voorganger.
Ook is die Hilux 48V - in wese 'n hibridiese model met 12 kW meer krag en 65 Nm meer wringkrag danksy 'n klein kragopwekker gekoppel aan die enjin vir beter versnelling en brandstofverbruik - vertoon.
Die ligte hibridiese dryfstelsel sal in die Hilux 2.8 Raider outomaties en Legend, asook die Fortuner 2.8, te kry wees en word in Maart verwag.
Die nuwe Prado met sy meer hoekige, modulêre ontwerp is op die LC 300-platform geskoei en word ook nou met die beproefde 2.8-liter-GD-6-enjin, gekoppel aan 'n agtgang-outo'kas, toegerus.
Die Prado First Edition-model, met eiesoortige hoofligte, sal in April gesig wys, gevolg deur die TX en VX-R modelle.

Eerste EV vir Toyota
Sy naam is dalk koddig, maar Toyota se nuwe bZ4X - die eerste vol- elektriese model van die groep - is oor 'n jaar na SA op pad. Gegrond op die eTNGA-platform is die bZ4X (die bZ staan vir "Beyond Zero") soortgelyk aan die RAV4.
Die bZ4X is reeds oorsee beskikbaar in voorwiel- en vierwielvastrap. Die voorwielgedrewe model het 'n e-motor op die vooras wat 150 kW en 255 Nm se wringkrag lewer, wyl die vierwiel-model twee 80 kW motors op die agterwiele gebruik vir gekombineerde kraglewering van 230 kW en 337 Nm.
Dit laat die bZ4X AWD in 6,9 sekondes van staande tot 100 km/h versnel en gee die elektriese sportnuts 'n reikafstand van sowat 400 km.
Dié model, of dalk 'n kleiner model in die BZ-familie, word vroeg volgende jaar verwag.
Dieselfde geld die Lexus RZ, wat onlangs in Europa bekend gestel is. Die RZ sal net in alwieldryf by ons beskikbaar wees, met 150 kW se krag wat na die voorwiele gestuur word, en 80 kW na die agterwiele. Sy litiumioon-batterypak gee die RZ 'n reikafstand van sowat 400 km. Toyota hoop om hom vroeg in 2025 hier te hê.
Motorsport
Toyota brei ook sy motorsport-betrokkenheid met die GR-handelsnaam (Gazoo Racing) uit. Benewens die Dakar-Hilux-bakkie, is die nuwe Corolla GR-luikrug vir die plaaslike toermotor-renreeks, 'n GR Corolla vir die Corollabeker-reeks en 'n Starlet-renmotor vir die SupaCup-reeks by die geleentheid vertoon.




















